UITGESTEL: Suidoosterfees 2020: Jakes Gerwel Stigting – Gesprekke

Vennote:

  • NB-Uitgewers
  • Penguin Random House SA
  • Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA)
  • Afrikaanse Taalraad (ATR)
  • Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV)

Die Griekwa is nog

(Vertaling en aanpassing van Forgotten but not Buried deur Aäron Messelaar, administratiewe hoof van die Griekwa Koningshuis en ondersekretaris-generaal van die Kongres van Suid-Afrikaanse Tradisionele leiers / CONTRALESA)

Aangebied in samewerking met die SBA

Met Hendrik Theys, Aäron Messelaar en Sandra Prinsloo
Gespreksleier: Johan van Lill
Taal: Afr
Venue: Tent-aktief
Datum en tyd: 27 April 10:00
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis

Die Griekwas se unieke taal, Gri, het saam met dié volk se tradisies en rituele oorweldigende aanslae deurstaan – die uitdagings van ’n swerwersbestaan, gedwonge verskuiwings en massamoord. Hierdie gesprek belig die Griekwas se fassinerende geskiedenis en die nalatenskap van Adam Kok en sy nasate. Sprekers verduidelik hoe diep dié groep by ons geskiedenis en die Afrikaanse taalerfenis ingebed is.

Afrikaans se komvandaan – aan wie behoort die taal?

Aangebied deur die Afrikaanse Taalraad en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument

Met Willa Boezak, Anzil Kulsen, Marius Swart en imam Hashim Sali
Gespreksleier: Jean Oosthuizen
Taal: Afr
Venue: Tent-aktief
Datum en tyd: 27 April 11:30
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis

Wanneer en hoe het Afrikaans ontstaan? Aan wie behoort die taal? Watter impak het die Nederlandse invloed daarop? En waar staan sake met variëteite soos Khoi- en Kaapse Afrikaans? Jean Oosthuizen ontrafel dié kwessies met kundiges. Die gesprek word gekomplementeer met ’n kleurvolle uitstalling, Afrikaans aan die praat.

OnseTaal

Aangebied deur die ATKV

Met Sonel Brits
Gespreksleier: Karien Brits
Taal: Afr
Venue: Tent-aktief
Datum en tyd: 27 April 13:00
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis

Dié gesprek, wat deel uitmaak van die ATKV se 90ste verjaardagvieringe, belig die diversiteit van ons kulture en die eenheid wat ons daarin vind. Die besturende direkteur van die ATKV nooi kultuurleiers, opvoedkundiges, die jeug en die publiek na die tafel om saam te praat oor Afrikaans en verdere moontlikhede vir die bevordering van kohesie.

Geslagsgeweld: Hoe maak jy ’n man groot?

Met Megan de Beyer en Laurie Gaum
Gespreksleier: Ivor Price
Taal: Eng
Venue: Tent-aktief
Datum en tyd: 28 April 10:00
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis 

Geslagsmisdaad het handuit geruk in Suid-Afrika. Hoe vernietig ons die giftige manlikheid as kernoorsaak van dié epidemie? Die paneel maak voorstelle oor hoe ons ons seuns moet grootmaak sodat hulle verantwoordelike burgers word wat vroue respekteer.

Die onbesonge helde van landbou

Met Ivor Price en Kobus Louwrens
Taal: Afr
Venue: Tent-aktief
Datum en tyd: 28 April 13:00
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis 

Die grondkwessie is ’n politieke turksvy waaroor vurig gedebatteer word. Ivor Price en Kobus Louwrens se boek, For the Love of the Land, fokus op onbesonge landbou-helde van Suid-Afrika. Die skrywers belig die eg menslike stories van ’n diverse groep boere wat alles gee om nasiebou en sosiale samehorigheid te bevorder.

Afrika of Europa – soek wittes anders na identiteit?

Met Azille Coetzee
Gespreksleier: Mercy Kannemeyer
Taal: Afr
Venue: Tent-aktief
Datum en tyd: 29 April 10:00
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis 

Azille Coetzee se boek, In my vel, vertel hoe sy in Nederland gaan studeer en besluit het om in dié land aan te bly nadat sy haar geliefde daar ontmoet het. Maar waar voel ’n trekvoël werklik tuis? Watter herkoms hou ’n mens die styfste vas – Afrika of Europa? In dié gesprek besin sy oor die nuanses en uitdagings van gedeelde identiteit.

Die Afrikaanse prosaboek

Met Rachelle Greeff, Steward van Wyk, Brian Fredericks en Chase Rhys
Gespreksleier: Nèlleke de Jager
Taal: Afr
Venue: Tent-aktief
Datum en tyd: 29 April 11:30
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis

Jan Rabie, wat in die laat-1950’s die kontoere van die literêre landskap verlê het met sy absurde, filosofiese en politieke “prosas”, is die inspirasie vir Die nuwe Afrikaanse prosaboek. Dié bloemlesing bied ’n vars blik op die Afrikaanse kortverhaal en bevat klassieke verhale deur bekende skrywers, asook nuwes deur jonger stemme. Die paneel verken die eggo’s, spore en teenspraak in die skryfwerk wat ná Rabie s’n gevolg het.

Hoe ervaar queer mense dit om hier te bly?

Met Kim Windvogel, Kelly-Eve Koopman
Taal: Afr
Venue: Tent-aktief
Datum en tyd: 30 April om 10:00
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis 

Suid-Afrika is die eerste Afrikaland wat burgers se reg om vrylik as queer te identifiseer, te erken. Ten spyte van die nuwe vryheid ten opsigte van seksuele en gender-identiteit en -uitdrukking, ervaar queer mense steeds diskriminasie en geweld. They Called Me Queer, saamgestel deur Kim Windvogel en Kelly-Eve Koopman, plaas ’n skerp soeklig op die situasie.

Van boek tot silwerdoek

Met Brett Michael Innes (Fiela se Kind), René van Rooyen (Toorbos), Helena Springs (Poppie)
Gespreksleier: Etienne Bloemhof
Taal: Afr
Venue: Tent-aktief
Datum en tyd: 30 April 11:30
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis

Elsa Joubert se grensverskuiwende Die swerfjare van Poppie Nongena het Suid-Afrikaners aan die hart gegryp toe dit in 1978 verskyn het. En die supergewilde Dalene Matthee se treffer-bosboeke het generasies van lesers na boekwinkels laat stroom. Onlangs is Poppie, Toorbos en Fiela se kind (’n tweede keer) vir die silwerdoek verwerk. Kom luister wat die mense agter die rolprentsukses van dié boeke sê.

Ondergrondse stemme: Hoe het apartheid gewone mense in vegters en spioene verander?

Met Jonathan Ancer, Shirley Gunn en Shanil Haricharan
Taal: Eng
Venue: Tent-aktief
Datum en tyd: 1 Mei 10:00
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis

Voices from the underground vertel wat geword het van die dapper mense wat die wapen teen apartheid opgeneem het. Betrayal – The secret lives of apartheid spies handel oor hoe die spioene wat tydens die struggle dubbele lewens gelei het, hul naastes verraai het. The ANC Spy Bible – My alliance across enemy lines belig die spioenasie-onderwêreld van die onstuimige tagtigerjare. Kom verdiep jou in die storie agter dié aangrypende verhale.

Gaan SA oukei wees?

Met Jan-Jan Joubert
Gespreksleier: Heindrich Wyngaard
Taal: Afr
Venue: Tent-aktief
Datum en tyd: 1 Mei 11:30
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis

In Suid-Afrika, word gesê, gebeur die beste en die slegste nooit. Maar hoe weet ons ons gaan nie steeds oor die afgrond tuimel nie? Mense wat die land liefhet maar keelvol vir korrupsie is, was verlig toe Jacob Zuma uit die kussings gelig is. Met Cyril Ramaphosa aan die stuur lyk dinge egter steeds onseker. Jan-Jan Joubert deel sy siening oor of ons oukei gaan wees.

Suidooster-kombuis

Met Errieda du Toit en Suidooster-akteurs
Taal: Afr
Venue: Tent-aktief
Datum en tyd: 2 Mei 10:00
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis 

Suidooster-aanhangers sal uit hul velle spring om te hoor hul geliefde sepiegesinne se kookboek met almal se gunstelinggeregte is nou hier. Mrs J, Mymoena en Stefan staan voor in die ry met feestelike resepte wat almal saamsnoer in kultuur, tradisie en nostalgie. “Ons kook uit ons harte met bestanddele soos liefde en joy,” verklaar die geliefde kokke.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld

Met Etienne van Heerden
Gespreksleier: Etienne Bloemhof
Taal: Afr
Venue: Tent-aktief
Datum en tyd: 28 April 11:30
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis 

Een van ons grootste skrywers gesels oor sy nuwe roman. In Die biblioteek aan die einde van die wêreld word prokureur Ian Brand se lewe oornag hel ná hy ’n ondeurdagte twiet die kuberruim instuur. En soos Van Heerden-bewonderaars deur die jare gewoond geraak het, is daar verskeie unieke karakters wat die verhaal bevolk: die studenteaktivis Thuli Khumalo; Snaar Windvogel, onder die lem van ’n enigmatiese plastiese chirurg; en ’n kruisboogmoordenaar wat die Moederstad op hol het. Die vertelmeester is in gesprek met sy jarelange uitgewer.

Die Afrikaans van die Kaapse Moslem

Deur Achmat Davids

In samewerking met die SBA

Met Hein Willemse, Fatima Allie en Sandra Prinsloo
Gespreksleier: Johan van Lill
Taal: Afr
Venue: Tent-aktief
Datum en tyd: 30 April 13:00
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis

Achmat Davids se Afrikaans of the Cape Muslims from 1815 to 1915, wat die wortels van Afrikaans binne die Moslemgemeenskap naspoor, is in 2011 postuum bekendgestel. Hein Willemse het nou ’n korter, toegankliker weergawe vir nie-akademiese lesers geskep.