Stigterslid
Phoebé Gerwel
![]() |
Phoebé Gerwel, die weduwee van professor Jakes Gerwel, is die stigterslid van die Jakes Gerwel Stigting. Sy studeer Maatskaplike Werk aan die Universiteit van Wes-Kaapland. As gevol van die uitvoerende rol wat professor Gerwel gespeel het in die totstandkoming van die Suidoosterfees in Kaapstad, word Phoebé vereer as beskermvrou van hierdie fees.
Phoebé skenk na die dood van haar man, sy geliefde Paulet Huis in KwaNojoli (Somerset-Oos), aan die Jakes Gerwel Stigting. Sy speel ’n aktiewe rol in die Suidoosterfees, die Jakes Gerwel Familie Trust en die Jakes Gerwel Stigting. |
Trustees
Brian Figaji (Voorsitter)
![]() |
Prof Brian Figaji, Voorsitter van die Jakes Gerwel Stigting, is ’n bekende sakeman, akademikus en sosiale aktivis in Suid-Afrika. Hy het ’n lang geskiedenis met die Kaapse Skiereiland-Universiteit van Tegnologie (KSUT) wat vanaf 1995 tot 2004 as Visekanselier van Skiereiland Technikon gedien het, wat die universiteit gelei het voor sy samesmelting in die nuutgestigte CPUT in 2005. Hy is ook in 2025 as die nuwe kanselier van CPUT aangestel. |
Mustaq Enus-Brey
![]() |
Mustaq Brey is die HUB van Brimstone Versekeringskorporasie, ’n maatskappy waarvan hy in 1995 medestigter was. Met behulp van sy besigheids- en bestuurservaring hy dien tans as nie-uitvoerende voorsitter van Oceana Group Ltd en voorsitter van International Frontier Technologies SOC Ltd. Hy dien ook as ’n direkteur op die direksies van Equites Property Fund, herversekeraar AON Re SA en eiendomsgroep FPG Property Fund. Mustaq is ’n trustee van die Mandela Rhodes-stigting. Hy dien as ’n trustee van die Jakes Gerwel Stigting en is die voorsitter van die Groote Schuur Hospitaaltrust. Hy was ’n integrale deel van die begin van baie NRO’s en is die stigter van die Saabri & Ashrafi Relief Fund. |
Annari van der Merwe
![]() |
Annari van der Merwe het haar uitgewersloopbaan in 1978 by Tafelberg Uitgewers begin as hoof van die kinder- en jeugboekafdeling en in 2008 afgesluit as uitgewershoof van Random House Suid-Afrika. Sy het baanbrekerswerk gedoen met die vestiging van Kwela Boeke vir Naspers en met die stigting van die druknaam Umuzi vir Random House. Sy het ook van 1987 tot in die middel 1980’s aan die Departement Afrikaans van die Universiteit van die Wes-Kaap klasgegee.
Annari skilder nou voltyds. |
Mfundo Nkuhlu
![]() |
Mfundo Nkuhlu het as besturende direkteur by Nedbank Afrika gedien en het in 2015 hoofbestuursbeampte en uitvoerende direkteur by die Nedbank Groep Beperk en by Nedbank Korporatiewe Bank geword.
Voor sy betrokkenheid by Nedbank was Mfundo die algemene bestuurder van strategie en beplanning by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en hy was verder verantwoordelik vir die Nuwe Vennootskap vir Afrika se ontwikkeling (NEPAD) tydens sy tydperk by die Departement van Handel en Nywerheid. Mfundo is die outeur van menige artikel oor ekonomiese betrekkinge asook oor ekonomiese integrasie in Suider-Afrika. |
Wilmot James
![]() |
Wilmot James word wêreldwyd gerespekteer as ’n intellektuele leier aan die spits van planetêre-bedreigings- en pandemierespons, die bestuur van biosekuriteit en -tegnologie, openbare en wêreldgesondheid asook die nie-proliferasie van kernkragwapens. Hy vul tans die posisie van Professor van Praktyk in Gesondheidsbeleid, -dienste en -praktyk by Brown Universiteit en is ’n senior adviseur vir pandemies en wêreldgesondheidsekerheid by hul Skool vir Openbare Gesondheid. Terselfdertyd is hy ook ’n ereprofessor in openbare gesondheid by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits).
Hy is die outeur en redakteur van ’n indrukwekkende lys artikels en boeke, insluitend Vital signs: Health security in South Africa (2020) en Nelson Mandela in his own words (2003). Die lekkerste werk wat hy nog ooit gehad het, sê hy, was dié van Voorsitter van die Trusteeraad van die Kaapse Filharmoniese Orkes! |
Goolam Aboobaker
![]() |
Goolam Aboobaker het as mediese fisikus gewerk voordat hy in 1988 Jakes Gerwel se spesiale assistent by die Universiteit van die Wes-Kaap geword het. In 1995 is Goolam aangestel as Direkteur van Kabinetnavorsing in die kantoor van President Nelson Mandela en in 1997 as Hoofdirekteur van Ekonomiese Ontwikkeling in die beleidseenheid van die kantore van die adjunkpresident. Na sy termyn as senior raadgewer by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), is Goolam aangestel as Adjunkdirekteur-Generaal van Finansies.
Goolam was ’n stigterslid van die Menseregtekommissie (MRK) in Durban en was ook betrokke by die stigting van die Verenigde Demokratiese Front (VDF). Goolam se betrokkenheid by die ontwikkelingsorganisasie Kagiso Trust strek terug tot in 1987. |
Uitvoerende Direkteur
Theo Kemp
![]() |
Theo Kemp het sy meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Hy was voorheen betrokke by verskeie projekte in die kunste in sy rol as, onder meer, projekbestuurder van die Woordfees, reklamekoördineerder by NB-uitgewers, programbestuurder van die KKNK asook die Vrystaat Literatuurfees en as uitvoerende bestuurder van die Breytenbach Sentrum op Wellington.
Theo is die skrywer van drie romans – Skool, Strafjaart en Kein Konings. |
Bosberg-boekskryf Mentors
Fourie Botha
![]() |
Ná twintig jaar agter ’n redakteur se lessenaar in uitgewerskantore, en twee jaar as literêre agent, werk Fourie Botha nou as ’n vryskutredakteur en redaksionele konsultant.
Fourie is self ook ’n digter en het drie digbundels gepubliseer, Donkerkamer, Krap uit die see en Kolam. Sy debuutbundel is genomineer vir die Ingrid Jonker-prys. |
Angela Briggs
![]() |
Angela Briggs het vir 25 jaar in die uitgewersbedryf gewerk. Naas haar vryskutwerk as skrywer en redigeerder, het sy ook ondervinding van die voltydse kant van die uitgewersbedryf.
Sy is ook tans besig met haar eie skryfprojek in die vorm van ’n blog, waar sy haar liefde vir Suid-Afrikaanse boeke saambring met nog ’n passie van haar: kuns. |
Sifiso Mzobe
![]() |
Sifiso Mzobe is ’n gevierde Suid-Afrikaanse skrywer uit die Umlazi-township in Durban. Na sy opleiding aan die St Francis Kollege, studeer hy joernalistiek by Damlin. Sy debuutroman, Young Blood, het wye lof ontvang en verskeie gesogte toekennings gewen, insluitend die Herman Charles Bosman-prys en die Wole Soyinka-prys vir Letterkunde in Afrika. Sy tweede boek, Searching for Simphiwe, is ’n versameling kortverhale wat diep gewortel is in die lewe en ritmes van Umlazi. Benewens sy literêre werk, is Mzobe ’n joernalis by ’n gemeenskapskoerant. |
Suzette Kotzé-Myburgh
![]() |
Suzette Kotzé-Myburgh werk sedert 1990 in die uitgewersbedryf en vir die laaste een-en-twintig jaar is dit op ’n vryskutbasis. Suzette is ’n vaardige taalgebruiker en, benewens die teksredigering wat sy doen, het sy ook die volgende op haar kerfstok: manuskripkeuring en -ontwikkeling, vertaal- en proefleeswerk, projekbestuur en selfpublikasies, boek- en filmresensies (LitNet, Die Burger, kykNET se Dagbreek) asook skrywersonderhoude (RSG se Skrywers en Boeke). Sy tree verder op as mentor vir teksredakteurs en as aanbieder van redigeringslypskole.
Sy is die medesamesteller van Nuwe Kinderverseboek, Rympies vir Pikkies en Peuters, Rympies vir Kleintjies en Kleuters, Nuwe Stories 1, 2 & 3 en die US Woordfeesbundels vanaf 2016 tot 2019. |
NATi Jong Sterre Mentors
Rafiek Mammon
![]() |
Fafiek Mammon is ’n gevierde, bekroonde dramaturg en regisseur. Sy eerste toneelstuk, ‘Seashells’ in 2012 ’n Ovation-toekenning by die Grahamstad Nasionale Kunstefees verower. Sy tweede toneelstuk, ‘The Garage Sale’, het groot lof gekry as die openingsproduksie van Kunstekaap se 10de jaarlikse Fees van Nuwe Skryfwerk in 2014. Hy was die regisseer van die toneelstuk ‘Syria?’ wat ook ’n Standard Bank Ovation-toekenning in 2017 by die NAF in Grahamstad gewen het.
Hy is tans ’n vryskutdosent, dramaturg, teatermaker, Kunstefeesbeoordelaar, redakteur, Kunsjoernalis en rubriekskrywer. |
Oscar Petersen
![]() |
Oscar Petersen se teaterloopbaan al langer as 30 jaar. Hy is as akteur aan die Universiteit van Kaapstad opgelei, maar sy talente sluit ook onderrig, draaiboekskryf en dans in. Danksy verhoogsuksesse soos Meet Joe Barber, Joe Barber and Boeta Gamat Too, Joe Barber 4 The People, Joe Barber 5 School Cuts en Suip! word hy as een van Kaapstad se voorste draaiboekskrywers en akteurs gereken.
Oscar het ook by die Dramadepartement van die Universiteit van Kaapstad en by Universiteit Stellenbosch klasgegee. |
Longhope TV-skryf Mentor
Tina Kruger
![]() |
Tina Kruger is ervare in alle aspekte van televisie, vanaf speel voor die kameras, regisseurswerk en vervaardiging tot skryf vir die televisie en films. Sy het reeds die ontwikkeling, vervaardiging, uitsaai en verspreiding van meer as dertig plaaslike televisiereekse, twintig vollengte films, sestig kortfilms en vier internasionale medevervaardigde produksies behartig. Dit sluit die films in Vir die Voëls en Leading Lady asook die TV-reekse Getroud met Rugby en Sterlopers.
Tina geniet dit om jong filmmakers te mentor, sy het ʼn grondige kennis van die plaaslike mark en sy leef daarvoor om eerlike, kragtige en oorspronklike Suid-Afrikaanse stories wat oor grense strek, te vertel. (Tina Kurger is ook betrokke by die X-Wild-projek.) |
X-Wild-projek
Beaunella Khumalo
![]() |
Beaunella Khumalo het ’n BA Honneurs in Film- en Televisiestudies met ervaring oor verskeie produksies soos Cobrizi, Mej SA en die SAFTA’s. Sy het oor verskeie departemente gewerk, insluitend skryf, produksie, uitrusting, kunsregie, rolverdeling en draaiboekkontinuïteit, maar het uiteindelik besluit om te fokus op die ontwikkeling van haar vaardighede in produksie en draaiboekskryf.
Khumalo geniet dit om oor verskillende mediums te werk en haarself uit te daag met rolle buite haar gemaksone, insluitend videografie en redigering. Kreatiwiteit staan sentraal in wie sy is; Beaunella Khumalo word gedryf deur ’n voortdurende begeerte om haar handwerk te leer, te groei en te verfyn. |
Bloukraan-boekeprojek
Nompumelelo Sokoyi
![]() |
Nompumelelo Sandra Sokoyi is in Pearston gebore en het aan die Imizamoyethu Sekondêre Skool in George gematrikuleer. Nompumelelo is ’n motiveringspreker, ’n leier in haar gemeenskap en kerk en is ook aktief betrokke by baie gemeenskapsontwikkelingsprojekte. Sy is passievol oor bal- en tradisionele dans en sy leef haar in in die dramawêreld en die stories wat sy vertel. |
KwaNojoli-navorsingsprojek
Mphuthumi Ntabeni
![]() |
Mphuthumi Ntabeni is ’n skrywer en politieke kommentator wat in Kaapstad woon. Hy ontvang die Universiteit van Johannesburg se Debuutprys vir sy debuutroman, The broken river tent, wat in 2019 gepubliseer is. Sy tweede roman, The wanderers, is in 2021 gepubliseer.
Hy is die hoofnavorser vir die KwaNojoli-navorsingsprojek wat in samewerking met die KwaNojoli Museum onderneem word. |
Argivaris
André Landman
![]() |
André Landman het twee dekades terug eintlik per toeval argivaris geword. Hy het sy ervaring in die geheimenisse van die argiveringsproses en -bestuur opgedoen by die Suid-Afrikaanse Geskiedenisargief (SAHA) en by Geskiedkundige Dokumente van Wits Universiteit voordat hy hom in Januarie 2007 by die Manuskrip- en Argiefafdeling (nou Spesiale Versamelings) van die UK-biblioteke aangesluit het tot met sy vroeë aftrede in Oktober 2018. Hy het ’n honneursgraad in argiefstudies by Unisa verwerf en ook onlangs sy meestersgraad in geskiedenis aan die UWK voltooi. |
Paulet Huis-sjef
Gilbert van Zyl
![]() |
Gilbert van Zyl is die sjef wat ons skrywers bederf met sy disse wat hy met sy groot koshart in oorvloed bedien. Gilbert is oorspronklik van Velddrif aan die Weskus, maar het vir jare lank gewerk by Queen’s-kollege in Queenstown, voordat hy na KwaNojoli (Somerset-Oos) verhuis het. Buiten sy werk by die Stigting, het hy sy eie spysenieringsbesigheid. |



















