Mentorskap vir jong liriekskrywers

Die Jakes Gerwel Stigting en die Suidoosterfees pak vanjaar vir die eerste keer ’n program aan wat mentorskap bied aan beide opkomende liriekskrywers en sangers wat oorspronklike treffers in Afrikaans, Engels of isiXhosa skep. Hierdie program is ’n uitbreiding van die Suidoosterfees se bestaande Talentsoektog wat jaarliks geloods word om nuwe, ongeslypte talent – hetsy in drama, sang of dans – in die Wes-Kaap te vind. Met die nuwe program word daar spesifiek gesoek na jong kunstenaars wat kan baat by die ervaring en leiding van ’n mentor om sodoende vars en treffende lirieke of liedjies te kan lewer. Frazer Barry van Tribal Echo is die mentor.

 

Die volgende vyf kunstenaars is gekies om vanjaar deel te wees van hierdie opleidingsprojek:

Breyten Treurnicht

Breyten Treurnicht is ’n twee-en-twintigjarige kunstenaar, akteur, musikant en liedjieskrywer van Groot-Brakrivier. Hy beskou sy musiek as ’n manier om verskeie mure af te breek, om die ongemaklikhede, innerlike konflik en wroeging van ons daaglikse bestaan aan te spreek en te omskep in iets positiefs.

Brumelda Bell

Brumelda Bell van Montagu het in 2015 besef dat sy ’n gawe het vir rymklets. Sy het in 2019 aand die Suidoosterfees se Talentsoektog deelgeneem en deurgedring na die semi-finale rondte. Sy hoop om met hierdie ontwikkelingsprojek ’n verdere deurbraak te maak in die musiekwêreld.

Grabriel Plaatjies

Gabriel Plaatjies is ’n uitvoerende kunstenaar van Hankey in die Oos-Kaap. Die skryf van lirieke het vir hom ’n nuwe wêreld oopgemaak – een van diep passie. Hy skryf oor die gemeenskap waar hy woon en kan nie wag om onder mentorskap sy talente uit te bou nie.

Naaim Briesies

Naaim Briesies is ’n vier-en-twintigjarige rymkletser, sanger en digter wat op gospel fokus. Hy kom van Prins Albert in die Klein-Karoo, maar was na skool vir meer as twee jaar betrokke by Schools4Christ wat die evangelie oraloor in Suid-Afrikaanse skole verkondig het. In hierdie tyd was sy rol om leerders te vermaak met geestelike ritme en poësie. Hy bestuur tans die Jeugsentrum in Prins Albert onder die vaandel van die Prins Albert Gemeenskapstrust.

Nicol Klopper

Nicol Klopper woon in Kommetjie in die Wes-Kaap, maar is oorspronklik van Bloemfontein. Hy het ’n graad in BCom Bemarking en werk tans vir ’n maatskappy in die toerismebedryf. Lirieke skryf is sedert sy hoërskooldae sy groot passie. Dit fassineer hom dat ’n mens lirieke kan skryf vanuit jou eie perspektief of lewensuitkyk en dit dan op hierdie manier met die wêreld kan deel.