Dialoogprogram vir skrywers van die Lae Lande en Suid-Afrika: Skrywers 2022

Jakes Gerwel het sy doktorsgraad in literatuur en filosofie aan die Vrije Universiteit Brussel in België voltooi. Dit is in hierdie konteks dat die Jakes Gerwel Stigting hande neem met Passa Porta, ’n internasionale literatuurhuis in Brussel om skrywers in ’n dialoogprogram byeen te bring. Twee Vlaamse skrywers word jaarlik gekies om ’n residensie by Paulet Huis met twee Suid-Afrikaanse skrywers te deel. Sodoende wil ons graag kruisbestuiwing tussen die skryfkuns van skrywers komende van verskillende agtergronde teweeg bring en die letterkunde – hier en elders – verruim.

Die twee Vlaamse skrywers wat vanjaar aan hierdie program deelneem sluit in Yousra Benfquih en Fleur Pierets en die twee Suid-Afrikaanse skrywers is Dumisani Hlatswayo en Sindiswa Busuku. Meer inligting oor hulle:

Dumisani Hlatswayo

Dumisani wend homself reeds op vroeë ouderdom tot die skryfkuns en skryf in beide Zulu en Engels. Sy kortroman Inhlonipho is voorgeskryf vir Graad 9 leerders en dit ondersoek die lewe van ‘n straatkind wat in die dwelmwêreld vasgevang word. Dumisani se tweede roman Imibala Yothando fokus op hoe die sosiale media die ervaringswêreld van ‘n jongmeisie by haar nuwe skool vorm en bepaal. Hierdie roman het die Sanlamprys vir Jeuglektuur in 2017 losgeslaan. Ook sy roman Ithuba Lesibili, wat deur Macmillan gepubliseer gaan word, was gekortlys vir dieselfde toekenning in 2014. Hy skryf ook toneelstukke, artikels vir aanlyn-platforms en kopie vir Amerikaanse handelsmerke. Hy is gebaseer in Gqeberha.

Fleur Pierets

Fleur Pierets is ’n bekroonde Belgiese kunstenaar en skrywer sowel as ’n LGBTQ+ aktivis. Sy kombineer verskillende media soos fotografie en die uitvoerende kunste met haar skryfkuns. Toe sy in 2019 die Çavaria Lifetime Achievement-toekenning wen, is sy beskryf as ’n “bewussynsrevolusionêr”. Fleur se boek Julian, waarin sy skryf oor die verlies van haar vrou en oor hulle werk saam, het in 2019 verskyn. Sy volg dit op met ’n kinderboek, Love Around the World. Fleur hou lesings oor die wêreld heen.

Sindiswa Busuku

Sindiswa is ’n akademikus en skrywer wat in Durban grootgeword het. Sy debuteer met Loud and Yellow Laughter – ’n versameling bestaande uit foto’s, prosastukke en gedigte wat verby genre-grense strek en waarin sy die verhouding tussen herinnering en dokumentasie ondersoek. Die gedig “A Portrait of a Mother and Indiscretion” het vir haar in 2015 die tweede plek in die Sol Plaatje Europese Unie-toekenning vir Poësie besorg en sy was ook gekortlys vir die Gerald Kraak-toekenning vir Afrikaskrywers en -kunstenaars in 2016. Loud and Yellow Laughter is as die wenner van die Ingrid Jonker-prys aangewys in 2018.

Yousra Benfquih

Benewens haar opleiding as regskundige in internasionale menseregt, is Yousra Benfquih ook ’n outeur, rubriekskrywer, digter en kunstenaar. Sy het die Naft voor Woord TXT-on-stage-kompetisie in 2017 gewen. Haar rubrieke verskyn gereeld in, byvoorbeeld, De Standaard, De Morgen, VRT NWS, rekto:verso, SamPol en Knack terwyl die klankopname van haar brief aan De Held van de Week elke maand op die Vlaamse Radio 1 gehoor kan word. Haar poësie, waarin sy poog om ’n balans te vind tussen humor en erns, ongemak en ontroering, het reeds op vele platforms verskyn.