Wie was Jakes Gerwel?

Gert Johannes Gerwel, beter bekend as Jakes Gerwel, is op 18 Januarie 1946 op die plaas Malvern, 64 km vanaf Somerset-Oos in die Oos-Kaap, gebore. Dié plaas is 27 km vanaf die Kommadagga-spoorwegstasie en 6 km vanaf die plaasskooltjie Bracefield Primêr waar Gerwel, sy ses broers en drie susters hul skoolloopbaan begin het.

Gerwel se ouers, John (1904–1975) en Sarah (1913–1976) Gerwel, het op Malvern gebly en gewerk as plaasarbeiders en dit was hulle wat Bracefield Primêre Skool begin het.

Sy hoërskooljare het Gerwel op Uitenhage (by Dower Kollege) en in Port Elizabeth (by Paterson Hoërskool) waar hy gematrikuleer het, deurgebring.

Gerwel het aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) studeer en in 1967 ’n BA in Afrikaans en Nederlands en Sosiologie cum laude verwerf. Sy BA honneurs in Afrikaans en Nederlands, ook cum laude, het in 1968 gevolg.

In 1971 het hy die Lisensiaat in Germaanse Filologie aan die Vrije Universiteit Brussel (VUB) in België verwerf waar hy ook ’n doktorsgraad in letterkunde en filosofie (D.Litt. et Phil. magna cum laude) in 1979 voltooi het.

Jakes Gerwel het dertien eredoktorsgrade van universiteite in Suid-Afrika en wêreldwyd ontvang:

  • 1986: Doktor in die Geesteswetenskappe honoris causa, Clark Kollege, Atlanta
  • 1990: Doktor in die Geesteswetenskappe honoris causa, City Kollege, City Universiteit van New York
  • 1995: Doktor in die Letterkunde honoris causa, Universiteit van Kaapstad
  • 1995: Doktor in die Regte honoris causa, Universiteit van Wes-Kaapland
  • 1998: Doktor in die Regte honoris causa, Rhodes Universiteit
  • 2001: Doktor in die Regte honoris causa, Universiteit van die Witwatersrand
  • 2002: Doktor in die Regte honoris causa, Universiteit van Natal
  • 2002: Doktor in die Geesteswetenskappe honoris causa, Universiteit van Missouri-Columbia
  • 2002: Doktor in die Geesteswetenskappe honoris causa, Stellenbosch Universiteit
  • 2004: Doktor in die Filosofie honoris causa, Universiteit van die Vrystaat
  • 2005: Doktor in die Letterkunde honoris causa, Universiteit van Pretoria
  • 2008: Doktor in die Letterkunde honoris causa, Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit
  • 2012: Doktor in die Regte honoris causa, Monash Universiteit

Gerwel se loopbaan het begin deur onder meer Afrikaans te onderrig en hy sou in 1972 ’n lektor en ook later professor in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die UWK word. So het hy dan as onderwyser vir drie maande by sy Alma Mater, Bracefield Primêr, onderrig terwyl hy ook intussen sy pa, John, met die boerdery op die plaas gehelp het. Hy het ook destyds klas gegee by die Dower Onderwyskollege in Port Elizabeth.

Sy formele loopbaan het begin toe Gerwel in 1969 as ’n Afrikaanse lektor by die destydse Hewat Onderwyskollege in Athlone in Kaapstad begin het. Gerwel het in 1972 vir slegs ses maande by die Hoërskool Grassy Park as ’n Afrikaansonderwyser gewerk. In Julie 1972 het hy as lektor in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde by UWK aangesluit en is presies vier jaar daarna in Julie 1976 tot senior lektor bevorder.

Gerwel is in 1980 tot professor en hoof van die departement Afrikaans en Nederlands bevorder. In 1982 het hy die dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte geword.

Gerwel het die Departement Afrikaans en Nederlands by UWK uitgebou tot die grootste daarvan aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit – en dit in ’n tydperk toe daar in die radikale bruin gemeenskap intense verset en weerstand teen Afrikaans as die “taal van die verdrukker” was.

In 1987 het hy rektor en vise-kanselier van sy Alma Mater UWK geword, maar het voor hierdie aanstelling reeds bekendheid verwerf in die sewentigerjare as vaandeldraer van Steve Biko se swartbewussynsdenke.

As UWK-rektor het hy dié instelling in die “intellektuele tuiste van linkse politiek” omskep en sodoende is die anti-apartheidstryd onder sy leiding op kampus verskerp. Gerwel is deur studente uitgewys en geloof as die man wat tussen hulle en die Casspirs gestaan het.

Tussen Mei 1994 en Junie 1999 het Gerwel gedien as direkteur-generaal van oudpresident Nelson Mandela se kantoor en sekretaris van die kabinet. Vir Madiba was hy ook hoof toespraakskrywer, invloedryke vriend, raadgewer en vertroueling.

Gerwel het ’n groot rol gespeel om die oorgang van apartheid na ’n grondwetlike demokrasie te bestuur en het respek afgedwing in plaaslike sowel as internasionale regeringskringe. Gerwel was lid van verskeie regerings- en kabinetskomitees, voorsitter van die Staande Komitee van Senior Amptenare van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) en ’n presidensiële gesant op verskeie internasionale missies. Hy was onder andere Mandela se gesant en onderhandelaar om die twee verdagtes van die Lockerbie-vliegramp uit te lewer. Hiervoor is Gerwel deur Madiba in 1999 vereer met die Orde van die Suiderkruis: Goud.

Gerwel was ’n groot rolspeler in akademiese kringe. Hy was byvoorbeeld kanselier van Rhodes Universiteit, ere-professor in geesteswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria en ook uitgelese professor en bekleër van die Nelson Mandela-leerstoel in Geesteswetenskappe aan die UWK.

Ook in die privaatsektor het Gerwel invloed uitgeoefen deur die posisies wat hy beklee het. Gerwel was nie-uitvoerende voorsitter van Media24, Aurecon, Brimstone Beleggings, Life Healthcare, die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), Africon en die Uitvoerkredietversekeringskorporasie (ECIC). Hy was ook nie-uitvoerende direkteur van Naspers, Old Mutual, Goldfields, Distell, Educor, Viva Afrika, OMGA Conversion Trust, Ipostel Beperk, Krieket Suid-Afrika en die Westelike Provinsie Krieket Unie.

Hy het ook gedien op die internasionale adviespaneel van die Independent-groep onder die destydse voorsitterskap van die Ierse besigheidsman Tony O’Reilly. Hierdie paneel het mense ingesluit het soos die voormalige Kanadese eerste minister Brian Mulroney; David Dinkins, voormalige burgemeester van New York; Peter Mandelson, voormalige Britse kabinetslid en Ben Bradlee, redakteur van The Washington Post tydens die Watergate-skandaal.

Bekend vir sy fyn oordeelsvermoë het Gerwel se dinamiese leierskap wyd uitgekring. Hy was die voorsitter van die raad van trustees van die Nelson Mandela Stigting, Mandela Rhodes Stigting, Allan Gray Orbis Stigting, die Instituut vir Geregtigheid en Versoening (IJR), Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), die Afrika-sentrum vir die Konstruktiewe Oplossing van Dispute (ACCORD), die Instituut vir ’n Demokratiese Alternatief vir Suid-Afrika (IDASA, later die Instituut vir ’n Demokratiese Afrika), Gelyke Geleenthede Stigting (EOF), Sentrum vir Loopbaannavorsing en -informasie (CRIC), Nasionale Opvoedingsbeleidondersoek (1990-1992) en hy was ondervoorsitter van die Vredesparkestigting (PPF).

Hy was ’n trustee van die Mauerberger Stigtingfonds, Kagiso Trust, Gemeenskapsagentskap vir Maatskaplike Ondersoek (CASE), Phoenix Settlement Trust, Die Suid-Afrikaan, Suid-Afrikaanse Publikasietrust en die Sentrum vir Onderwysbeleidontwikkeling, -evaluasie en -bestuur (CEPD).

Gerwel was ’n lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde (MdNL), die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika (ASSAf) en hy het gedien op die redaksionele adviespaneel van Siyaya en die Nasionale Onderwys- en Opleidingsforum (NETF) asook op die internasionale akademiese komitee van die Oxford Sentrum vir Islamitiese Studies (OCIS).

Hy was stigter en voorsitter van die Suidoosterfees en ook voorsitter van die Blue Crane Ontwikkelingsagentskap in Somerset-Oos.

Tussen 1992 en 1993 was Gerwel onder meer ondervoorsitter en ook voorsitter van die Komitee van Universiteitshoofde.

Op die politieke front was Gerwel in 1992 ’n verkose lid van die Wes-Kaapse streek uitvoerende komitee (SUK) van die ANC. Tussen 1991 en 1993 het hy op die onderwyskomitee van die ANC gedien en was ook onderwysadviseur vir die Suid-Afrikaanse Studente-organisasie (SASO) tussen 1972 en 1977.

Gerwel was in 1987 lid van die historiese afvaardiging wat met lede van die ANC wat op daardie tydstip in ballingskap was in Dakar in Senegal vergader het. Bekendes van weerskante wat aan dié gesprek deelgeneem het, sluit onder andere Thabo Mbeki, Pallo Jordan, Frederick van Zyl Slabbert, Franklin Sonn, Breyten Breytenbach, André Brink en Randall van den Heever in.

Gerwel is in 2001 deur Prof. Kader Asmal, destydse Minister van Onderwys, aangestel as voorsitter van die Gerwel-kommissie van ondersoek na die status van Afrikaans as tersiêre onderrigtaal op universiteit. Bekendes soos professore Hein Willemse, Willie Esterhuyse, Njabulo Ndebele, dr. Christa van Louw en die digter, Antjie Krog, het op dié informele komitee gedien. Dié kommissie se aanbevelings dat twee universiteite (een in die noorde en een in die suide) toegewys word om Afrikaans as akademiese taal te ontwikkel en te bevorder, is nooit geïmplementeer nie.

In 1999 is die vryheid van Somerset-Oos aan Gerwel deur die plaaslike oorgangsraad van dié dorp aan hom toegeken, maar hy het ’n voorstel dat Charles-straat se naam op dié dorp verander moet word en na hom vernoem word, van die hand gewys. Dit was om konflik te vermy nadat die voorgestelde naamsverandering negatiewe reaksie ontlok het.

In 2015 het die Stad Kaapstad Vanguardrylaan amptelik na Jakes Gerwelrylaan hernoem.

Gerwel het hom as literêre kritikus en uitnemende vakkundige van die letterkunde onderskei as ’n besonderse fyn leser en ontleder van ingewikkelde literêre tekste wanneer hy in boekresensies en geskrifte oor die letterkunde uiting gegee het oor skrywers se werk. Soveel so dat die nou ontslape skrywer André Brink gesê het, “Jakes was een van die skerpste literatuurkenners met wie ek ooit te doen gekry het.”

Gerwel het geglo in die aanwesigheid van die sosiale bewustheid in die estetiese omgang met die letterkunde, veral om die mensgemaakte lyding van “die ander” – die voorheen benadeeldes – te belig.

Tussen 1999 en 2012 het Gerwel ’n maandelikse rubriek vir Rapport geskryf. Hy het altyd sy rubrieke argumentatief en ruim van denke ontwikkel. Tim du Plessis, oudredakteur van Rapport, het in ’n rubriek Gerwel beskryf as die primus inter pares van Rapport se rubriekskrywers: “Hy is ’n fyn mens. Nog fyner is sy omgang met woorde. Elkeen van sy rubrieke het altyd ’n paar sinne en klompie woorde in die liga van ‘ek wens ek het daardie sin aanmekaar getimmer, of daardie woord gevind of geskep’”.

Gerwel se deurlopende tema in sy rubrieke was hoe ons die openbare gesprek met en oor mekaar voer. Hy het altyd in sy rubrieke soos volg beklemtoon: “die wyse waarop ons van en met mekaar praat, is tekenend van en vormend vir die patrone van saamleef in hierdie veranderende samelewing wat homself in soveel opsigte nog moet vind en definieer”.

Gerwel se eretoekenings sluit die volgende in:

  • 1995: Vlaamse Gemeenskapsprys: Johan Fleerackers, vir besondere verdienste op kultuurgebied, saam met Prof. Elize Botha
  • 1999: Orde van die Suiderkruis: Goud, oorhandig deur Pres. Nelson Mandela
  • 1999: Die Orde van Koning Abdoelaziz: Ministersrang, oorhandig deur Kroonprins Abdoellah van Saoedi-Arabië
  • 1999: Kolonel Moeammar Ghaddafi van Libië se Orde van Goeie Dade
  • 1999: Vryheid van Somerset-Oos, van die plaaslike oorgangsraad van Somerset-Oos
  • 2003: Orde van die Disa: Offisiersklas, van die Provinsie van die Wes-Kaap
  • 2007: Erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

Publikasies:

  • Literatuur en Apartheid: konsepsies van “gekleurdes” in die Afrikaanse roman tot 1948. Kasselsvlei: Kampen.
  • Swart Afrikaanse skrywers: Verslag van ’n simposium gehou by die Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville op 26‑27 April 1985. Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland. (Saam met Julian F. Smith, Alwyn van Gensen en Hein Willemse as mede-redakteurs)
  • Crossing over: Stories for a new South Africa. Kaapstad: Kwela. (Met Linda Rode as medesamesteller)
  • Keerpunt: Stories vir ’n nuwe Suid-Afrika. Kaapstad: Kwela. (Met Linda Rode as medesamesteller)
  • In the rapids: New South African stories. Kaapstad: Kwela. (Met Linda Rode as medesamesteller)
  • Stroomversnelling: Nuwe Suid-Afrikaanse stories.Kaapstad: Kwela. (Met Linda Rode as medesamesteller)
  • Eindes, eindigheid, einder: Gedagtes by N.P. van Wyk Louw en Karel Schoeman (D.F. Malherbe-gedenklesing nr. 23). Acta Varia. 1:1–9.
  • Grape: Stories of the Vineyards in South Africa ‑ From slavery to BEE 1652–2011. Kaapstad: Tafelberg. (Met Jeanne Viall en Wilmot James as medesamestellers)

Jakes Gerwel is op 28 November 2012 op ses-en-sestig ná ’n hartomleidingsoperasie in die Netcare Kuilsrivier Hospitaal oorlede.

Geskryf deur Jason Lloyd, 2018

Jason Lloyd is ’n gereelde sosiopolitieke kommentator op die radio en vryskut as ’n menings en rubriekskrywer. Hy is ’n staatsamptenaar en voormalige joernalis wat, onder andere, as kommunikasiebestuurder (2009–2013) vir die Oos-Kaapse departement van paaie en openbare werke gewerk het. Hy het ook as adjunkdirekteur: media en parlementêre skakeling (woordvoerder) vir ’n vorige Oos-Kaapse minister van finansies tussen 2004 en 2005 gewerk. Hy het aan die Nelson Mandela-universiteit gestudeer.