Jakes Gerwel Stigting deel van die Etienne van Heerden Veldsoirée

Die tweede Etienne van Heerden Veldsoirée, wat gereël word deur die bekende feesorganiseerder, Darryl David, vind vanaf 22 tot 25 September in die Cradock-distrik plaas. Vanjaar is die eerste keer dat dié fees in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting na Somerset-Oos uitgebrei sal word. Oor hierdie samewerking sê David: “Dis ’n groot eer vir die veldsoirée om ’n deel van die program by Jakes Gerwel se huis aan te bied, en om so ook die gemeenskap van Somerset-Oos, ’n dorp waarvoor Gerwel baie lief was, te bereik.”

Gewilde en uiteenlopende skrywers – waaronder Karin Brynard, Bettina Wyngaard, Ronelda Kamfer, Nathan Trantaal en Dana Snyman – sal op Sondag, 23 September, om 14:00 te sien wees by die Jakes Gerwel-huis op Somerset-Oos. Hierdie skrywers sal gesels oor hulle skryfwerk en daaruit voorlees.

Die Jakes Gerwel Stigting is in die proses om die ruim en historiese Gerwel-huis op Somerset-Oos – met ses slaapkamers, vele werksruimtes, ’n lesinglokaal en lowergroen tuin – te omskep in ’n skrywershuis.    Een van die toekomstige projekte wat hier beplan word, is om ’n mentorskapsprogram vir opkomende skrywers te bied wat andersins nie die geleentheid sou gehad het om hul skryfvaardighede met kundige leiding te slyp nie.

Die Veldsoirée sal verder bestaan uit ’n veldskool vir ontwikkelende skrywers, met as mentors skrywers soos Etienne van Heerden, Bibi Slippers, Fanie Olivier, Izak de Vries, Melt Myburgh en Chanette Paul. Die veldskool sal gratis wees en op prosa en poësie konsentreer.

Ander skrywers wat by die soirée gaan optree, sluit onder meer in Willie Burger, Clinton du Plessis, Theo Kemp, Maya Fowler, Kirsten Miller en Kobus du Toit.

Vir meer inligting oor die veldskool en die volledige feesprogram, skakel Darryl David by 081 360 9231 of e-pos hom by davidd@ukzn.ac.za.