Skrywersresidensies

Ons nooi graag skrywers uit om aansoek te doen vir die volgende skrywersresidensies wat in 2026 by ons Paulet Huis in KwaNojoli (Somerset-Oos) aangebied word. Belangstellendes moet asseblief let op die volgende:

Neem asseblief kennis van die sluitingsdatums vir die onderskeie skrywersresidensies en die dokumente wat jou aansoek moet vergesel, soos uiteengesit op elke aansoekbladsy. Alle aansoeke en dokumente moet ons via die aanlyn inskrywingsvorms bereik. Klik op “Doen aansoek” by die program van jou keuse.

Daar is ’n verskil tussen mentorskapprogramme wat uitsluitlik op opkomende skrywers gemik is en skryfwersresidensie-programme wat vir beide opkomende en gevestigde skrywers beskikbaar is.

Ons definieer ’n opkomende skrywer as iemand van enige ouderdom wat nog in die vroeë stadiums van hul skryfloopbaan in ’n spesifieke genre is en wat nog nie die nodige ondersteuning of blootstelling gehad het om grootskaalse erkenning vir hul werk in dié genre te ontvang nie.

’n Gevestigde skrywer het al twee of meer publikasies deur prominente uitgewerye gepubliseer; het al erkenning vir hul werk in ’n sekere genre ontvang of is welbekend binne daardie genre; en/of verdien ’n gedeelte van hul inkomste uit hul skryfwerk in daardie genre.

Indien jou aansoek suksesvol is, sal daar van jou verwag word om die volle duur van die residensie in KwaNojoli deur te bring en met die ander skrywers te skakel. Die Jakes Gerwel Stigting dek die reis- en verblyfkostes van die suksesvolle kandidate. Let wel: Geen individuele terugvoer sal aan die skrywer gegee word oor die kwaliteit van sy/haar aansoek nie.

Die mentorskapprogramme word in Afrikaans én Engels aangebied.

Internasionale aansoeke word verwelkom, alhoewel slegs binnelande vervoerkostes deur die Stigting gedek word. Internasionale skrywers is self verantwoordelik om betyds aansoek te doen vir hul visums indien hul aansoek goedgekeur word.

Al die skryfprogramme sluit die volgende in:

  • Nasionale retoerkaartjies na Gqeberha (Port Elizabeth), indien nodig
  • Vervoer tussen die lughawe en KwaNojoli
  • ’n Gerieflike, eie “room with a view”
  • Die Stigting se inwonende sjef se heerlike maaltye
  • Skoonmaakdienste
  • Onbeperkte toegang tot die internet
  • Genoeg spasie vir skryf in jou kamer, stil hoekies in die huis en die tuin

Lys skrywersresidensies:

Bosberg Boekskryf
Longhope TV-Skryfprojek
NATi Jong Sterre
PEN dit Neer
Tweede boekskrywers-residensie
X-Wild-Projek


Bosberg Boekskryf

Hierdie vlagskipprojek het sy naam te danke aan die pragtige bergreeks reg langs Paulet Huis. Ander name vir die Bosberg is Nojoli of Khelelela. Jare gelede, wanneer die amaXhosa emmers water van die piek van die berg hand vir hand aangee, sou hulle hierdie liedjie sing: Khelelela.

Die Bosberg Boekskryf-jaarprogram spog met verskeie debuutskrywers wat intussen naam genaam het, waaronder Engela Ovies (Draairivier en Flora), Bronwyn Davids (Lansdown Dearest), Shana Fife (Ougat), Audrey Jantjies (As die katjiepiering blom), Deidré Jantjies (Stories in die wind), Sihle Qwabe (The Resurrection), Lebo Mazibuko (Bantu Knots), Tebello Mzamo (I Did Not Die), Juliette Mnqeta (If the Dead Could Talk), Reggie Peace (Vredemaker), Nadia Cassim (Not Another Samoosa Run!) en Faeed Amardien (Life is ’n biets), om maar enkeles te noem. 

Opkomende skrywers word uitgenooi om in een van die drie kategorieë aansoek te doen: romanskortverhale of gedigte. Na afloop van hierdie intensiewe ontwikkelingsprogram word die skrywer gehelp om hulle manuskrip vir publikasie by ’n gepaste uitgewer in te dien.

Doen aansoek vir 2027

Klik hier vir inligting oor 2026 se deelnemers.


Longhope TV-skryfprojek

Die Jakes Gerwel Stigting en M-Net Kanale se intensiewe mentorskapprogram bied aan talentvolle, opkomende draaiboekskrywers die geleentheid om hul skryfvaardighede te slyp en te leer by ervare en produktiewe skrywers in die televisie- en filmbedryf.

Longhope, wat verwys na een van die distrikte naby KwaNojoli, bied inderdaad hoop. Nie net leer opkomende skrywers by die land se voorste kundiges nie, maar word die suksesvolle kandidate die geleentheid gebied om, na afloop van die mentorskapsprogram, by M-Net Kanale se vervaardigingshuise praktiese ervaring op te doen. Verskeie van die vorige deelnemers is ná die drie maande internskap permanente werke aangebied.

Datums vir 2026

  • Sluitingsdatum: 3 Julie 2026
  • Aankondiging: 18 September 2026
  • Residensie: 2 tot 15 November 2026

Aansoeke is gesluit

Klik hier vir inligting oor 2026 se deelnemers.


NATi Jong Sterre

Hierdie dramateks-ontwikkelingsprogram het ten doel om jong dramaturge se teatertekste te slyp en slaggereed vir die verhoog te kry. Ná ’n gefokusde mentorskapsprogram wat by Paulet Huis aangebied word, sal die ontwikkelde tekste vir die daaropvolgende jaar se Suidoosterfees op die planke gebring word. Die jong dramaturge word die uitsonderlike geleentheid gebied om beide hulle skryfvaardighede te verbeter en om ervaring op te doen in die vervaardigingsproses.

Die NATi Jong Sterre-projek word deur die Jakes Gerwel Stigting, in vennootskap met die Suidoosterfees en die Kunstekaap, met die ondersteuning van NATi (Nasionale Teater-inisiatief) aangebied.

Datums vir 2026

  • Sluitingsdatum: 27 Maart 2026
  • Aankondiging: 30 Junie 2026
  • Residensie: 17 Augustus tot 6 September 2026

Aansoeke is gesluit

Klik hier vir inligting oor 2026 se deelnemers.


PEN dit Neer

PEN is ’n internasionale organisasie wat skrywers se regte wêreldwyd beskerm en bevorder. Met die PEN dit Neer-residensie nooi die Jakes Gerwel Stigting,PEN Afrikaans en PEN South Africa, skrywers en digters met geldige PEN-lidmaatskappe, om aansoek te doen vir hierdie skrywersresidensie wat onverstoorde skryftyd in die kreatiewe en inspirerende ruimte van Paulet Huis waarborg. Jaarliks word PEN-skrywers van elders ook in KwaNojoli verwelkom, wat bydra tot die besonderse dinamika van die groep skrywers onder een dak.

Datums vir 2026

  • Sluitingsdatum: 30 Januarie 2026
  • Aankondiging: 27 Februarie 2026
  • Residensie: 20 April tot 10 Mei 2026

Aansoeke is gesluit

Klik hier vir inligting oor 2026 se deelnemers.


Tweede boekskrywers-residensie

Debuutskrywers sukkel dikwels om aan hul tweede manuskripte te werk – veral as die debuut goed ontvang is. Daar span die Jakes Gerwel Stigting en die Jannie Mouton Stigting se Oude Leeskamer op Stellenbosch saam om aan debuutskrywers die geleentheid te bied om verdere mentorskap te ontvang en suksesvol aan hul tweede boeke te skryf. Alhoewel skrywers wat vantevore by die Stigting se mentorskapsprogramme betrokke was voorkeur sal geniet, is ander sukkelende tweede boek skrywers welkom om aansoek te doen.

Tweede boekskrywers is welkom om hulle voorstelle vir hul tweede boeke in te dien by Theo Kemp (theo@jgf.org.za) om in die toekoms vir hierdie residensie oorweeg te word.

Aansoeke is gesluit

Die skrywers wat in 2026 gekies is om aan hierdie tweede boekskrywers-residensie deel te neem, sluit in Audrey Jantjies (18 tot 29ste Junie), Juliette Mngeta (11 tot 25 Augustus) en Theolla Langenhoven (26 Oktober tot 9 November).

Klik hier vir inligting oor 2026 se deelnemers.


X-Wild-projek wil tradisionele stories bewaar

Hierdie projek het die lig gesien om die X-faktor in ons kunstenaars weer aan te wakker en elke storie wat vertel word, ’n ware uitdrukking van ons oorspronklike, ongetemde, kreatiewe aard te maak. Hierdie projek word deur die Goethe-Institut ondersteun en gelei deur Tina Kruger en Beuanella Khumalo

 “Regoor Suider-Afrika is daar ’n mondelinge tradisie wat spesifiek aan vroue behoort. Verhale van wyse vroue, geneservroue, ontembare vroue. Hierdie verhale word van ouma na kleindogter oorgedra; dit word vertel in kombuise en om vure, in fluistering en in liedere. Hierdie tradisies is nie bloot ’n abstrakte erfenis nie; dit is lewende kennisstelsels,” verduidelik Beaunella.  

Hierdie verhale is egter besig om stadig te verdwyn namate verstedeliking en digitale geraas die sagte stemme van die voorouers verdring. Die projek wil hedendaagse kunstenaars uit hierdie gemeenskappe bemagtig om ’n brug te vorm tussen die ouer geslag en die toekoms. 

Oor ’n tydperk van 18 maande gaan nege opkomende kunstenaars met tradisionele storievertellers, professionele filmmakers en kultuurpraktisyns saamwerk om drie kortfilms te vervaardig: The Wise WomanThe Resistant Woman en The Healer Woman. Hierdie films sal in April 2027 tydens ’n klein fees, KwaNojoli Showcase, by Paulet Huis vertoon word.  

“Ons gaan ook drie stelle handgemaakte kostuums vervaardig om die estetiese en simboliese taal van die tradisies uit te beeld. Verder gaan ons ’n geïllustreerde kinderboek en ’n aanlyn bundel publiseer van die oorspronklike erfenisverhale wat die films geïnspireer het, sodat die bronmateriaal nooit verlore gaan nie,” sluit Tina af. 

As jy graag wil betrokke raak, ons is op soek na 3 draaiboekskrywers, 3 uitvoerende akteurs, asook ’n kostuumontwerper om 3 ongelooflike kortfilms te skep. Daarbenewens is ons op soek na ’n kinderboekskrywer en kinderboekillustreerder.

Terug na die lys skrywersresidensies.