Buiten die Jakes Gerwel Stigting se verblyfsprogramme vir skrywers in Paulet Huis op KwaNojoli, bied ons ook jaarliks die volgende projekte aan:
- Bloukraan-boekeprojek
- Kaap tot KwaNojoli
- Jakes Gerwel-gespreksreeks
- Kimberly tot KwaNojoli
- Kus tot KwaNojoli
Bloukraanvoël Boekeprojek
Die Jakes Gerwel Stigting bied intensiewe leesondersteuning aan Graad 1 tot 4-leerders in die laerskole van die Bloukraansvoël Munsipaliteit – insluitende die dorpe van Pearston, KwaNojoli en Cookhouse. Die Greater Stellenbosch Trust, deur middel van die Social Employment Fund, stel die Stigting jaarliks in staat om veertig leesassistente aan te stel wat tydens skoolure ondersteuning bied aan die leerders met die grootste leesagterstande. Die Stigting het by al die skole in ons opvangsgebied kleurvolle leeskamers ingerig met toepaslike storieboeke en woordspeletjies. In hierdie veilige en kreatiewe ruimtes belê ons in die toekoms – die Jakes Gerwels van môre.
Ons neem ook jaarliks saam met die Suidoosterfees ’n teaterproduksie na die Oos-Kaapse platteland om die kinders aan die wondere van die kunste bloot te stel.
Hierdie projek word finansieel ondersteun deur die Greater Stellenbosch Trust (GST), die Social Employment Fund (SEF), die National Arts Council (NAC) en die LW Hiemstra Trust.

Kaap tot KwaNojoli
Die Jakes Gerwel Stigting, in samewerking met die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, is op soek na nuwe skryftalent. Opkomende digters en prosaskrywers is daarom uitgenooi om teen 1 Desember 2025 hul skryfwerk (of gedigte, kortverhaal of ’n hoofstuk uit ’n roman) in Afrikaans of Engels voor te lê.
Suksesvolle kandidate sal basiese skryftegnieke geleer word, en verskeie rolspelers in die boeke-wêreld ontmoet. Hierdie gratis werkswinkels word in die week van 15 tot 17 Januarie 2026 op die universiteit se Mowbray-kampus aangebied. Uitblinkers sal gekies word om verder by Paulet Huis in KwaNojoli aan hul vaardighede te slyp.
Hierdie projek word moontlik gemaak deur die Wes-Kaapse Regering se Departement van Kultuursake en Sport.

Lees meer oor vanjaar se Kaap tot KwaNojoli Skrywerswerkswinkel.
Jakes Gerwel-gesprekreeks
Die Jakes Gerwel-gespreksreeks is elke jaar ’n hoogtepunt op die Suidoosterfees-program wat in die Kunstekaap in Kaapstad aangebied word. In die gees van Prof Gerwel wil die Stigting graag openhartige en volwasse gesprekvoering oor allerlei aktuele sake fasiliteer. Brandende land- en wêreldsake word deur verskeie belanghebbend meningvormers bespreek, en nuwe bundels en boeke word bekendgestel. Hierdie reeks is gratis, maar besprekings is noodsaaklik.
Klik hier vir hierdie jaar se program.
Die Jakes Gerwel-gespreksreeks word aangebied in samewerking met die ATKV en Netwerk24, asook die onderskeie uitgewers waaronder Jonathan Ball, Penguin Random House SA, Protea Boekhuis, Jacana en Pan Macmillan.

Klik hier om vanjaar se gesprekke te kyk.
Klik hier om gesprekke van vorige jare te kyk.
Kimberly tot KwaNojoli: Gratis Kreatiewe Kursus vir opkomende Afrikaanse skrywers
Na ’n uiters suksesvolle gratis werkswinkels wat die Jakes Gerwel Stigting in Kaapstad en Gqeberha aangebied het, kondig ons met trots aan dat ons volgende werkswinkel in Kimberley, in samewerking met die Sol Plaatje Universiteit, aangebied word. Ons is op soek na nuwe en vars skrywerstemme in Afrikaans! Doen vandag nog aansoek!
Dien een van die volgende in saam met ’n kort skrywerbio en volledige kontakbesonderhede teen 18 September 2026 by theo@jgf.org.za
- Vyf gedigte
- ’n Kortverhaal (+- 2000 woorde)
- ’n Hoofstuk uit ’n roman
- ’n Dramateks
Kom ontwikkel jou skryfwerk onder leiding van ervare uitgewers, dosente & gevestigde skrywers en staan die kans om gekies te word om verder jou manuskrip by die Stigting se Paulet Huis in KwaNojoli, Oos-Kaap, te ontwikkel.

Kus tot KwaNojoli: Gratis kreatiewe kursus vir opkomende skrywers
Die Jakes Gerwel Stigting & die Nelson Mandela Universiteit se Skool vir Tale: Afdeling Afrikaans en Fakulteit Opvoedkunde, nooi graag alle voornemende Afrikaanse skrywers en digters uit om aansoek te doen vir ’n gratis skryfwerkswinkel wat op die kampus in Gqeberha vanaf 29 tot 31 Julie 2026 aangebied word.
Dien EEN van die volgende in saam met ’n kort skrywersbio en volledige kontakbesonderhede teen 3 Julie 2026 by info@jgf.org.za:
- ’n Kortverhaal (±2000 woorde)
- 5 gedigte
- ’n Hoofstuk uit ’n roman
Kom ontwikkel jou skryfwerk onder leiding van ervare uitgewers, dosente & gevestigde skrywers en staan die kans om gekies te word om verder jou manuskrip by die Stigting se Paulet Huis in KwaNojoli, Oos-Kaap, te ontwikkel.
