Suidoosterfees 2022: Jakes Gerwel-gesprekke

SUIDOOSTERFEES 2022

27 April – 1 Mei

Kunstekaap, Kaapstad

 

Jakes Gerwel-gesprekke

Aangebied deur die Jakes Gerwel Stigting en die ATKV

Die Jakes Gerwel-gesprekreeks word ondersteun deur die ATKV, NB-Uitgewers, Jonathan Ball, Protea Boekhuis, Jacana Media, Penguin Random House SA, die Afrikaanse Taalraad en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument.

Alle gesprekke is gratis, maar weens Covid-19-regulasies is beperkte sitplekke beskikbaar. As jy dit nie wil misloop nie, stuur asseblief ’n e-pos na theo@jgf.org.za om jou plek te verseker.

Krotoa – wat beteken sy vandag?

Met Willa Boezak, Diana Ferrus, Andrew Smith, Amanda ‘Khoinoi’ Stone en Calvyn Gilfellan

Taal: Afr

Venue: ATKV Isibaya

Datum en tyd: 27 April 10:00

Tydsduur: 90 min

Prys: Gratis, bespreek by theo@jgf.org.za

Vir sommige mense is Krotoa ’n omstrede figuur omdat hulle haar beskou as ’n “uitverkoopte” aan Jan van Riebeeck en sy mense. Vir ander is sy ’n heldin wat haar tyd ver vooruit was en verskillende wêrelde byeen kon bring. Hoe be-teken ons hierdie historiese figuur in ons siening van ‘ras’ en ‘identiteit’ vandag?

As die katjiepiering blom

Met Audrey Jantjies en Ronelda S. Kamfer

Taal: Afr

Venue: ATKV Innovasiespasie

Datum en tyd: 27 April 11:30

Tydsduur: 60 min

Prys: Gratis, bespreek by theo@jgf.org.za

In 2020 het Audrey Jantjies deelgeneem aan die Jakes Gerwel Stigting en NB-Uitgewers se mentorskapprogram vir opkomende skrywers. Haar debuutroman, As die katjiepiering blom, is die klinkende resultaat. Sy gesels met Ronelda Kamfer oor die verhaal van Lea Floris wat uit die milieu van arm plaaswerkers in die Overberg vlug nadat ’n naïewe besluit haar lewe ingrypend verander.

’n Baie lang brief aan my dogter

Met Marita van der Vyver en Cintaine Schutte

Taal: Afr

Venue: ATKV Innovasiespasie

Datum en tyd: 27 April 13:00

Tydsduur: 60 min

Prys: Gratis, bespreek by theo@jgf.org.za

’n Baie lang brief aan my dogter is Marita van der Vyver, een van Afrikaans se mees geliefde skrywers, se ontroerende jeugmemoirs. Dit is ’n speurtog deur die skrywer se beginjare, asook ’n liefdesbrief aan ’n dogter, ’n taal en ’n land. En bowenal is dit ’n ma se poging om sin te maak van hierdie onverskillige, wrede wêreld waarin haar dogter haar nou begewe. Cintaine Schutte, onlangs te sien in Marita se Die dinge van ’n kind, vra die skrywer uit.

The secrets of our freedom fighters

Met Ronnie Kasrils en Anthony Butler

Taal: Eng

Venue: ATKV Innovasiespasie

Datum en tyd: 28 April 10:00

Tydsduur: 60 min

Prys: Gratis, bespreek by theo@jgf.org.za

Ronnie Kasrils het ná die Sharpeville-tragedie by die Struggle betrokke geraak. As uMkhonto we Sizwe-lid werk hy ondergronds vir byna drie dekades in ballingskap om die ANC en SAKP se saak te bevorder. Toe demokrasie kom, het hy in verskeie ministersposte gedien. Anthony Butler vra vir Ronnie uit oor sy boek International Brigade Against Apartheid: Secrets of the War that Liberated South Africa, waarin die verhaal vertel word van almal wat in die geheim by die bevrydingstryd betrokke was.

Remembering what you wanted to forget

Met Bronwyn Davids, Shana Fife en Francois Bloemhof

Taal: Eng

Venue: ATKV Innovasiespasie

Datum en tyd: 28 April 11:30

Tydsduur: 60 min

Prys: Gratis, bespreek by theo@jgf.org.za

Bronwyn Davids se memoirs, Dearest Lansdowne, handel oor die impak van die gedwonge grondverskuiwings op haar en haar mense. Shana Fife se Ougat vertel op haar beurt die onthutsende verhaal van haar grootwordjare op die Kaapse Vlakte. Bronwyn se geleefde ervaring van ontneming skakel met Shana se verkenning van misplaasdheid. Dié twee skrywer-joernaliste, wat in 2019 deel was van die Jakes Gerwel Stigting en NB-Uitgewers se mentorskapprogram vir opkomende skrywers, vertel hulle verhale aan Francois Bloemhof.

Kompoun

Met Ronelda S. Kamfer en Anastasia de Vries

Taal: Afr

Venue: ATKV Innovasiespasie

Datum en tyd: 28 April 13:00

Tydsduur: 60 min

Prys: Gratis, bespreek by theo@jgf.org.za

Ronelda S. Kamfer, gevierde digter, se eerste roman laat niemand onaangeraak nie. Kompoun handel oor die vriendskap tussen ’n groep nefies en niggies, saamgegooi in ’n stryd om oorlewing binne ’n wrede wêreld. Hulle probeer van die ouer geslag wegbreek, maar vind dat die manier waarop familiebande ’n mens verstrengel, jou nie toelaat om dinge sommer net so te laat los nie. Ronelda het in 2019 aan Kompoun gewerk tydens die Stigting en PEN Afrikaans se skrywersresidensie.

Pravin Gordhan – Joining the dots

Met Jonathan Ancer, Chris Whitfield en Thuli Madonsela

Taal: Eng

Venue: ATKV Innovasiespasie

Datum en tyd: 29 April 10:00

Tydsduur: 60 min

Prys: Gratis, bespreek by theo@jgf.org.za

Nadat Jacob Zuma die destydse minister van finansies, Pravin Gordhan, afgedank het, het Gordhan by gewone Suid-Afrikaners wat nie ’n idee gehad het wat regtig aangaan nie, gepleit om self logiese afleidings te maak. In Joining the Dots ondersoek Jonathan Ancer en Chris Whitfield Gordhan se statuur as openbare figuur. Sommige beskou hom as ’n baken van hoop, ander sien hom as die vyand. Die skrywers vertel hoe Gordhan se plek in die Suid-Afrikaanse politiek verstaan moet word, en wat presies in daardie dramatiese episode agter die skerms aangegaan het.

Te wit of te bruin – waar pas ek in?

Met Ismail Lagardien, Ivan Johnson en Ivor Price

Taal: Afr en Eng

Venue: ATKV Innovasiespasie

Datum en tyd: 29 April 11:30

Tydsduur: 60 min

Prys: Gratis, bespreek by theo@jgf.org.za

Die deurwinterde joernalis Ismail Lagardien skryf in Too White to be Coloured, Too Coloured to be Black oor sy soeke na identiteit en wat ‘huis’ beteken. Hy berig oor sy grootwordjare, sy werk as joernalis in die onstuimige tagtigerjare, sy tyd in Engeland en sy terugkoms na die “Nuwe Suid-Afrika”. In sy aangrypende memoirs, But he speaks so well, vertel Ivan Johnson hoe ’n laaitie van die Kaapse Vlakte ’n man word tydens die Struggle, en hom later in die leliewit advertensiebedryf begewe. Ivor Price lei die gesprek.

Making us and breaking us – Elections from the days of Shaka to Cyril

Met Matthew Blackman, Nick Dall en Marianne Thamm

Taal: Eng

Venue: ATKV Innovasiespasie

Datum en tyd: 29 April 13:00

Tydsduur: 60 min

Prys: Gratis, bespreek by theo@jgf.org.za

Daar is soveel prominente draaipunte in Suid-Afrika se geskiedenis: Uniewording, die donker periode van Apartheid, en die eerste demokratiese verkiesing … Maar wat weet ons wat agter die skerms aangegaan het? In hul opspraakwekkende Spoilt Ballots haal Matthew Blackman en Nick Dall die geraamtes uit die kas. Marianne Thamm laat hulle die sluier lig oor “verkiesings” wat al byna vergete geraak het, soos toe Koning Shaka tereggestel is, en toe Cyril Ramaphosa in 2017 as oorwinnaar by Nasrec weggestap het.

Eugene

Met Kirby van der Merwe en Ingrid Jones

Taal: Afr

Venue: ATKV Innovasiespasie

Datum en tyd: 29 April 14:30

Tydsduur: 60 min

Prys: Gratis, bespreek by theo@jgf.org.za

Eugene ken van skollies, gangsters, muggers en crooks. Hy is streetwise, al lyk hy deesdae soos iemand uit die upper-middle class. Maar nou, baie jare later, word Eugene van moord aangekla. Kirby van der Merwe kom gesels oor sy priemende roman oor vriendskap en verraad. Tydens die skryf daarvan was hy een van die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans se inwonende skrywers in Somerset-Oos.

Vele tongvalle, een taal

Met Jeremy Vearey, Anzil Kulsen, Elvis Saal en Gerda Odendaal

Taal: Afr

Venue: ATKV Isibaya

Datum en tyd: 30 April 10:00

Tydsduur: 60 min

Prys: Gratis, bespreek by theo@jgf.org.za

Is Afrikaans gelyk aan Standaardafrikaans? Waar pas variëteite soos Khoi-Afrikaans, Kaapse Afrikaans, Moesliemafrikaans – om enkeles te noem – in? Die paneel ontrafel vrae oor die ontstaan en die wesensaard van Afrikaans. Die uitstalling Afrikaans aan die praat, wat die ontstaansgeskiedenis van die taal kleurvol uitbeeld, kan ook besigtig word.

What happened to the country of Steve Biko?

Met Hlumelo Biko en Bongani Kona

Taal: Eng

Venue: ATKV Innovasiespasie

Datum en tyd: 30 April 11:30

Tydsduur: 60 min

Prys: Gratis, bespreek by theo@jgf.org.za

Hlumelo, seun van Mamphela Ramphele en wyle Steve Biko, beskryf sy beroemde ouers se liefde vir mekaar in Black Consciousness – A Love Story. Dit vertel ook hoe die Swart Bewussynsbeweging in die 1970s onder ’n groep beginselvaste, ambisieuse studente aan die Universiteit van Natal posgevat het. Die boodskap van selfliefde en selfbeskikking onder swart mense het gehelp om ons geskiedenis onherroeplik te verander. Maar hoe belangrik is konsepte soos swart identiteit en Ubuntu in die land waarin ons nou leef? Hoe sou Steve Biko vandag oor die stand van sake oordeel?

Opdrifsel

Met Philip Rademeyer, Brendan Daniels, Tinarie van Wyk Loots en Cornelia Faasen

Taal: Afr

Venue: ATKV Innovasiespasie

Datum en tyd: 30 April 13:15

Tydsduur: 60 min

Prys: Gratis, bespreek by theo@jgf.org.za

Cornelia Faasen gesels met die skrywer en akteurs van die ontroerende drama Opdrifsel op vanjaar se feesprogram. Dié bekroonde stuk gaan oor ouers wat hulself én mekaar in die donker gat van rou verloor nadat hulle enigste kind sterf. Gaan kyk na die opvoering en kom gesels saam oor die meesleurende verhaal wat nou ook as boek beskikbaar is.

 

Ons redekabel, stel bekend, verbeel en koop boeke – dit alles by die Jakes Gerwel-gespreksreeks wat oudergewoonte by die Suidoosterfees vanaf 27 April tot 1 Mei by Artscape aangebied word. Almal is daar – van Diana Ferrus, Marita van der Vyver, Ronelda S Kamfer, Jeremy Vearey, Hlumelo Biko, Kirby van der Merwe, Ronnie Kasrils, Audrey Jantjies, Shana Fife, Bronwyn Davids en vele ander.

Toegang is gratis, maar besprekings is noodsaaklik. Die volledige program beskikbaar by theo@jgf.org.za.