Die Levels van Paulet Huis – deur Olivia M Coetzee

Hoe ʼn mens opgroei en waa ʼn mens opgroei het ʼn baie groot invloed op hoe mens die liewe ankyk, en hoe ʼn mens jouself sien inpas in die liewe. Daa is baie dinge wat ek in my liewe al gedoen het wat ek gedink het ek sal nooit doen nie, of eeder ek het nooit gedink an sulke goetie. Dit was net nooit ʼn pad vi my wat ek moes stappie, volgens waa ek van daan kô en alles daai baggage, maa ek het paaie gestap wat baie noggie gestap hettie. Selfs  ʼn skrywers residensie was nooit deel van my plan nie, maa dit het deel kô raak van die rigting. Ek het glattie verwag ek sou in soe ʼn pragtige huis drie wieke kon spandeerie, en noggal in die middel van ʼn pandemie nie.

Ôs het laat aand by Paulet Huis angekô. Dit was donke, en daa was nie veel van ʼn maan wat geskyn hettie. Die neigbe was daa, sy’t ôs verwelkom. Sy’t my gesê sy bly in die slawe huis, en toe gelag. Daai was weird, het ek gedink, maa dit eenkant toe geskyf, want wat was dan nou soe snaaks van die slawehuis, en dit was laat en ek was honge en moeg. Ôs het geiet, en mekaa leer ken, en ôs het gereflect oo wat dit betieken om daa te wies, en die reflections was deel van die res van ôs se bly daa. Die neks oggend se wakke skrik het maklik gekô, ek was excited om my neks manuscript te begin. Om die neks chapter van my skrywer’s hart te begin. En om dit te doen in soe ʼn plek. Paulet Huis is pragtig. Die groot stuk tuin wat agte Paulet Huis uitvloei lyk soes ʼn veil wat agte ʼn pasgetroude tradisionele straight vrou ankruip. Vi ure kan mens in daai tuin sit met Got en jouself, en al die ancestors wat voor ʼn mens gekommit. Daa was klein boekies in ôs kames wat die geskiedenis van Paulet Huis vetel. Daai boekie en Paulet Huis se geskiedenis het my an my oupa lat dink. Oupa Frederick van Rooyen. Hy was ʼn katoen boer in die Keimoes distrik. Hy’t twie vroue gehad, nie op die selle tyd nie though. Ouma Anna het huistoe gegan toe mamie drie jaar oud was. Maa Oupa het nie lank gevat om wee te trou nie. Hy’t klomp kinnes gehad, en hulle het ʼn ma norrag gehad. Of dis hoe ek die storie vestaan het, but I digress. Toe ôs by Paulet Huis angekommit was dit soes ek wee trug by ʼn familie huis was. Die skandes en hatseer en geluk van daai huis en die gieste en spoeke, wat volgens Elsie in Paulet Huis bly, het hulle arms met liefde om my gegooi, en vi die res van my bly daa was dinge maa net soe, soes ek trug by my familie huis is. Die houtvloere se kreun geluide het my voetstappe ontvang soes ek al vi djarre in daai huis bly. Ek was gemaklik. My siel was gemaklik, en my mind was halfpad stil.

Olivia M Coetzee
© Jeremeo le Cordeur

Elsie wat my vetel het van die spoeke van Paulet Huis se volle naam is Elsie September. Sy is die dame wat, volgens my, die house manager was. Sy het die skoonmaak van ôs kamers gemanage, die was van ôs klere, en die opruim van die plek, en sy’t gesog dat ôs kames alles norrag het wat dit norrag het. Sy was die behind-the-scenes mens. Elsie was geonnesteun deu Nombeka Beauty Jali, of Ouma, soes Elsie vi Nombeka roep. Ek skryf oo hulle twie want hulle was groot deel van my bly daa. Ôs het mekaa ampe elke dag gesien, en as ek iets gesoek het vi my kamer dan was hulle daa. Een oggend kô ek in die koebuis en Elsie lag en sy sê, “Raai wat het ek gisteraand geëet.” Ek het immediately gewiet. Sy lag en sy sê toe, “Blikkie vis en macaroni.” Dis na ek by haa gekla het ek mis my gunsteling dish, blikkie chillie vis en macaroni. Ek is dankbaar dat Elsie en Ouma daa was vi my, en vi ôs.

My eeste boek, Innie Shadows, wat gepublisher was in November van 2019 was ʼn projek wat ek begin het toe ek my meester’s graad manuskrip in 2017 klaa gemaak het. Die eeste draft van Innie Shadows het annes begin en ek het toe  gewonne, maa moet ek maa nie die selle ding doen nie, en dit is om my eeste draft van Die Sêkin Coming in Engels te skryf. En dan van daa af die twiede draft in Kaaps skryf, want met die herskryf van Innie Shadows se eeste Kaaps draft het die storie ʼn klein bietjie baie geveanner en soe oek die titel. Maa ek het eeder gekies om in Kaaps te skryf en wanne daa ʼn engelse phrase deu’kô dan sal ek dit soe anvat, en met die deu’wêk van die storie kan ek veanner soes ek voel is reg.

Skryf was nog altyd vi my ʼn maklike iets, dit was nooit moeilik om te sit en te skryfie. Maa wat moeilik was vi my is om tyd te maak vi skryf, en om daai eeste inbriek te kan te kry waa ek al die editors in my kop kan stil maak lat ek kan hoo wat die storie is. Ek was eendag in ʼn poetry workshop an die begin van my jare as digter op die poetry scene van Kaapstad. Een van die digters gedurende die workshop sê toe, ‘ʼn Mens moetie dink dat om te skryf gat net oo ʼn mens die talent het nie, want baie mense het mos die talent om ʼn storie te vetel en nee te skryf, maa om te skryf gat eindlik hoe dedicated ʼn mens is in die editing proeses.’ En ek het in my binneste gesê, ag wat wiet hy. Die arrogance van jong mens wies. Want dis net soes daai digter gesê het, maa daai eeste draft is net soe belangrik, net soes elke draft daa na.

Olivia M Coetzee in Pauletstraat
© Jeremeo le Cordeur

Nou ek is iemand wat eeder sal vekies om op my eie te wies. Nie ommat ek nie hou van mense nie, maa soms is anxiety die grootste dief in my liewe wat oomblikke van geluk onne my nies uit kan steel. Selfs in my ma se huis vestaan hulle hoe gemaklik dit vi my kan wies wanne ek op my eie is, en soe los hulle my. Dis hoekô dit soms moeilik vi my is om ansoek te doen vi dinge waa ek wiet ek sal moet engage met anne mense. Maa ek is bly ek het ansoek gedoen, want die was ʼn opportunity vi my om deel te raak van ʼn groep en myself te explore deu hulle oë.  André, een van die anne skrywer wat saam my daa was sê ôs vyf moet ʼn play saam skryf van ôs wat by Paulet Huis is, en oor ôs se tyd waa ôs om die etenstafel sit, maa elkeen moet hulle selfin ʼn rol skryf. Ek vind die ideë great en terrifying op die selle tyd. Because hoe skryf ek oo myself, ʼn socialite wat ʼn angs leier is, en wat dit moeilik vind om kontrol van haa self in anne mense se hanne te los? Maa dit het my lat dink, en dit lat my nog steeds dink of dit moonlik is vi my om soes ek nou begin skryf oo die karakters in my boek Skyedrie en Ouma Anna, van Byron en Judas, die veraaier, of ek myself soes daai sal kan skryf. Van wat vat ek wat los ek? Daa is soe baie. Maa besides daai reflection van self as mens, en dan as skrywer het daa soe baie anne goet vi my op gekô soes ek daa gesit het, deel van local skrywers, en soe meer skrywers van kleur. Dimensies, levels, layers, kompleksies, of is dit kompleksiteite, en al daai anne baggage wat ôs mien stap, en dan was daa oek nog skryf. Die goal wat ek vi my uit gesit het, was ʼn groot een, wat ek nie ingefactor het was die anne klompie goed wat voo my deu gat staan nie. ʼn Mens is mossie net ʼn skrywer, of net ʼn dit of net ʼn dattie. Daa is mos levels, en levels, en levels van mens wies.

Nou met my doel om die volle eeste draft klaa te skryf het ek myself ʼn doel gestel om elkedag ʼn siekere antal woore te skryf. Dit was however nie soe maklik om by my doel te hou nie. Toe ek die email kry om te sê dat ek gekies was het ek immediately begin soek vi funding, fonds wat my sal help om my daaglikse en maandlikse expenses sal cover wanne ek weg sou gaan om te loep skryf. Ek het nêrens reg gekô en het gewiet dat ek sallit maa moet wing, en skryf soeveel soes ek kan, want daai verantwoordelikheid wat ek dra kon ek nie agter lossie. Al was ek weg van die huis af, het die huis en my verantwoordelikhede my nie gelos nie, en ek moes daagliks aandag gie an my wêk wat my rent betaal, kos koep vi my vrou en kat by die huis, en die onnerhoud gelde wat ek moet afstuu huistoe. Maa die storie het gevloei wanne dit gevloei het. en dit het oek my gewys hoe om my tyd te manage wanne ek wee trug is by die huis. Daa was baie traffic in Paulet Huis, en die stoel wat ek moes gebruik het om op te sit wanne ek moes skryf het my lat dink an skooldae se banke. Koud en ongemaklik. Lank sit was nooit ʼn opsie nie. Maa ek het my bes geprobee om dit te navigate om die storie te lat vloei, en te wêk.

Ek wonne toe een oggend soes ek sit op die balcony en reflect op die dae wat ek by Paulet Huis was, en ek dink an al die kosse wat ek geiet het, en al die lekkes en koeldranke en sappe en…en…en…en wat Tjoppie soe lekke vi ôs mien bedien het. Maa hoe ʼn bietere situasie dit vi my sou gewies het as ek eeder ʼn stipend vi die maand gekry het om my eie kos te koep, as om elke dag soeveel klompie veskye kosse te iet. Want ek wiet mos as ek ʼn stipend kon gekry het, sou ek tog helfte van daai geld gespaar het om trug te vat huis toe, miskien is dit iets wat die Fondasie kan na kyk in die toekoms, because nie amal van ôs kan dit afford om op skrywers residensies te gan sonne dat daa nie baie moet gesacrifice wôttie.

Veronique Jephta en Olivia M Coetzee op die trappe voor Paulet Huis se woonstel

Maa deu al die challenges van moet wêk vi die huis en wêk vi ôs rent, het ek tot by 10 chapters gekô van Die Sêkin Coming. En ek het my karakters leer ken, en daa het niewe karakters in gestap soes Angel, en Skyedrie se twieling broe JP, en Antie Margie wat Ouma Anna se beste vriend is, en die Undeground Library waa Lua, Skyedrie se beste vrind, by wêk. En hulle het my help begin sien hoe die niewe wêreld lyk. En nog elke dag soes ek biesag is met die iets of daai iets kô daa nog dele van die storie deu.  En ek is excited om klaa te skryf om te sien hoe Skyedrie die cure vi Ouma gat kry, en wat Margo uindelik gat doen wat maak dat Skyedrie haa doodskiet, en waa JP en Skyedrie mekaa vi die eeste kee gat raak loep.  

Die proeses om ʼn ideë te groei tot in ʼn volle storie is die lekkeste ding op die aarde. Die proeses roep ʼn mens om jouself net oep te maak vi die storie om deu te kô, en al die editors in my kop te vra om ees stil te bly, want ʼn storie het stilte norrag om uit te klim. Maa ek wiet oek dat die is maa net die begin van die wêk. Die eindelike job van die storie in ʼn boek in te draai, en ʼn boek wat mense sal wil lies moet nog kô. Maa ek is excited vi wat kô, en ek hoep die lesers gat die selle voel wanne hulle hulle eie copy van Die Sêkin Coming gat optel.

Eindlik wens ek dat ek nog ʼn maand kon gebly het in Paulet Huis. Maa ek is dankbaar vi die tyd wat ek daa was, dit het my gechange as mens, en as skrywer. Daa is nog baie wêk wat ek sal moet doen an die manuscript, maa ek sien uit na dit wat nog moet deu kô en na die dag wat Die Sêkin Coming in boekwinkels gat beskikbaar wies. Ek is oneindig dankbaar dat ek die kans gekry het, soe baie dankie Boeta Jakes, en die mense wat staan agte die Jakes Gerwel Fondasie, en wat staan agte die wêk wat die Fondasie doen. En baie dankie an Theo, Tjoppie en Marilou Ferreira, Elsie en Ouma, en an my mede skrywers wat die tyd saamit my gedeel het by Paulet Huis, Jeremeo Le Cordeur, Veronique Jephtas aka Baby Woman, André Trantraal, Tracey Carmelita Heeger, dankie vi die gifts wat julle vi my gebring het, ek sal dit altyd saamit my dra. En ek hoep ek kon die selle vi julle gedoen het. Give thanks.