Mentorskap vir opkomende liedjieskrywers

Ontluikende sangers en liedjieskrywers, hier is julle kans om een voor te wees in die industrie deur aansoek te doen vir ‘n twee weke lange mentorskapprogram onder leiding van twee swaargewig musiekmakers en liedjieskrywers: Frazer Barry van Tribal Echo en Zolani Mahola van die voormalige groep, Freshlyground.

Wat? Die Jakes Gerwel Stigting (JGS) en die Suidoosterfees bied ’n mentorskapprogram aan vir sangers en liedjieskrywers wat oorspronklike liedjies maak in Afrikaans, Engels of isiXhosa. Die verkose kandidate sal aan hulle eie liedjies werk.

Waar? Paulet Huis, die skrywershuis van die Jakes Gerwel Stigting in Somerset-Oos in die Oos-Kaap. Alle onkostes – reis, akkommodasie, spyseniering en mentorskap – word ten volle gedek.

Wanneer? 12 – 26 September 2022

Hoe? Om oorweeg te word vir die program, stuur ten minste drie van jou liedjies en lieriek as voorbeeld, plus ’n kort motiveringsbrief en CV na theo@jgf.org.za teen 15 Julie 2022.

Wie? Hierdie jaar word die mentor Frazer Barry – speler van verskeie musiekinstrumente, voorsanger van Tribal Echo, TV-aanbieder, teatermaker en vervaardiger – bygestaan deur Zolani Mahola – sanger, aktrise, storieverteller en inspirerende spreker – ook bekend as “The One Who Sings”. Die mentors sal die verkose kandidate lei om hul nuwe, vars, trefferliedjies te ontwikkel en te verfyn.

Hoekom? Die briljante mentors van hierdie Jakes Gerwel Stigting-program sal jou alles leer van die fyner tegnieke van liedjieskryf sonder om die praktiese aspekte van wat nodig is vir ’n gestroomlynde optrede uit die oog te verloor.

Maak jou merk! Na afloop van die mentorskap in liedjieskryf sal die deelnemers en hul mentors ’n musiekproduksie op die planke bring by die Suidoosterfees van 2023 in Kaapstad.

Opmerkings van die liedjieskrywers van die 2021-klas

Monique Basson: “Ek het nie net oor die tegniese aspekte van liedjieskryf geleer nie, maar ook baie oor die bedryf self. Die twee weke van mentorskap sal ek altyd met my saamneem.”

Bryson Appels: “Dis die beste ding wat met enige opkomende kunstenaar kan gebeur en, as ek kon, sou ek dit oor en oor doen. ʼn Mens se sakke staan rond van alles wat jy daar geleer het.”

Vir meer inligting, gaan na:

jgf.org.za

paulethousestories.jgf.org.za/