Weens mediese redes kan dr Imtiaz Sooliman ongelukkig nie meer die Jakes Gerwel-lesing op 27 April lewer nie. ’n Alternatiewe datum word tans ondersoek en sal binnekort bekend gemaak word. Jammer vir die ongerief wat hierdeur veroorsaak word. Die ander Jakes Gerwel-gesprekke by die Suidoosterfees vind wel plaas soos beplan. Ons hoop om u wel later in die jaar by die Jakes Gerwel-lesing te kan verwelkom. |
Hierdie jaar maak die Jakes Gerwel Stigting (JGS) bywoning van die Jakes Gerwel-gedenklesing meer toeganklik deur hierdie prestige-geleentheid na dieselfde platform te bring as die Jakes Gerwel-gesprekke wat elke jaar by die Suidoosterfees, Kunstekaap gehou word.
Die Jakes Gerwel-gedenklesing is ’n viering van die ryk nalatenskap van prof Gerwel en het ten doel om innoverende denke en voortreflikheid in ons gemeenskappe te bevorder. As gevolg van die sleutelrol wat prof Gerwel gespeel het in die totstandkoming van die Suidoosterfees, sien beide die Jakes Gerwel Stigting en die Suidoosterfees dit as besonder gepas om die Gedenklesing hierdie jaar saam aan te bied.
Die Stigting nooi elke jaar ’n gesaghebbende spreker of skrywer uit om die Jakes Gerwel-lesing te gee. Ons kondig met trots ons gasspreker vir hierdie jaar aan: Dr Imtiaz Sooliman, die stigter en voorsitter van die Gift of the Givers. Hierdie 30-jaaroue nieregeringsorganisasie vir ramp-respons het, met hul visie om mense te verenig en op te hef, reeds wêreldwyd lof ontvang. Die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting beskryf dr Sooliman as ’n “Suid-Afrikaner wat ’n rolmodel is van hoe ons in krisistye behoort op te tree en ’n ware bron van inspirasie.”
Die Jakes Gerwel-gesprekke het in 2018 afgeskop met net vier praatjies, maar het intussen aangegroei tot ongeveer 14 sessies. Kemp sê: “Ek dink dit is eerstens wonderlik om weer saam te kan kom – en dít sonder maskers. Die gesprekke is intiem en gee so ’n fantastiese platform vir mense om met skrywers, leiersfigure en ander landsburgers interaksie te kan hê. Dis ’n perfekte geleentheid om jou mening te lug oor dinge wat ons almal raak. Maar jy hoef nie jou stem dik te maak nie, jy kan net kom en waarneem, en na ander mense se sienings luister. As dit vir jou belangrik is dat jy in Suid-Afrika woon, as jy geïnteresseerd is in ons politiek en letterkunde is dít die plek waar jy moet wees. En dis verniet, saam met ’n koppie koffie!”
Een van die bonusse is die onvoorspelbaarheid van die gesprekke wat altyd stof tot nadenke gee. “Jy kan lag of huil, of tot iemand se ergenis verskil, maar jy sal nie die lokaal onverskillig of sonder ’n gedagte verlaat nie. En meestal sal jy heeltemal anders wees as voorheen,” sê Kemp.
Vir Kemp lê hierdie post-pandemiese geleentheid na aan die hart. Want dit is weer moontlik om skrywers wat deelgeneem het aan die Stigting se mentorskap- en residensieprogramme, die skrywers wat deel is van die “JGS-familie”, saam met hulle splinternuwe boeke te verwelkom.
Dis ’n goeie idee om vooruit plekke te bespreek omdat die Gesprekke ’n goeie gevolg opgebou het met mense wat dit elke jaar by woon. “Dis altyd lekker om te gesels en op te vang,” sê Kemp. “En die kersie op die koek is wanneer bekende gesigte nuwe vriende saambring!” Niefiksie boeke en aktuele sake is, volgens Kemp, “die hoofdis op die spyskaart” terwyl fiksieskrywers met nuwe en ander perspektiewe, soos die skrywers in die JGs-familie, ook besliste gunstelinge is.
“Ek meet die sukses van die Gesprekke soort van aan die styging in temperatuurvlakke! Sterk gespreksdeelname is wonderlik, maar dit bly belangrik om ’n veilige spasie te skep waar die waarde wat aan een enkele opinie geheg word nie bo al die ander geplaas word nie. Ons mag verskil en stry is nie baklei nie, dis gesond. Dis ’n wonderlike geleentheid om mense met totaal teenoorgestelde sienings in een lokaal byeen te bring en te hoor wat ander dink. Maar die onderliggende reël van die spel is wedersydse respek,” sluit Kemp af.
Die Jakes Gerwel-gesprekke vind plaas vanaf 27 April tot 1 Mei en die Gedenklesing is geskeduleer vir 27 April om 18h00. Klik hier vir die program.
Kontak theo@jgf.org.za vir onderhoude.