Mentorskapprogram vir Opkomende Skrywers van Fiksie en Nie-fiksie: 2022 se skrywers bekend

Hierdie program wat ons aanpak in vennootskap met NB-Uitgewers (met drukname Tafelberg, Human & Rousseau, Kwela, Queillerie, Lux Verbi en Pharos), bied aan opkomende skrywers die geleentheid om hulle manuskripte te ontwikkel en publiseerbaar te kry. Ons fokus op skrywers wat nog nooit voorheen gepubliseer het nie en wat ’n storie het om te vertel maar nie presies weet hoe om dit neer te pen nie. Dit is verder gemik op skrywers wat nie die inskrywingsfooie van skryfskole kan bekostig nie. Die Jakes Gerwel Stigting en NB-Uitgewers stap die pad saam met dié skrywers om daardie vars stories wat nog nie voorheen gehoor is of wat nog nie genoegsaam in die Suid-Afrikaanse letterkunde oopgeskryf is nie, te laat hoor. Daarom betrek ons bekwame en ervare mentors wat in beide groepsverband en individueel met die opkomende skrywers aan hulle manuskripte sal skaaf. Die skrywers wat deelneem aan die program sal vir met tye saam met die mentors op Somerset-Oos in die Stigting se skrywershuis gaan werk en verder deur die jaar per e-pos kommunikeer. Ons fokus op beide fiksie en nie-fiksie in Afrikaans en Engels.

Meer oor die skrywers van 2022:

Allen Grootboom

Allen Grootboom het in Middelburg en Graaff-Reinet in die Oos-Kaap grootgeword en werk tans as ’n psigiater in George. Sy belowende manuskrip Die vuur huil speel af in die 1960’s en vertel die storie van Jakob Koetaan van Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) en van sy familie wat hulle plaas gedurende die apartheidsjare verloor het.

Hans Kisting

Hans Kisting is in die Keetmanshoopdistrik gebore en het in Rehoboth gematrikuleer. Hy het aan die Dower Kollege in Uitenhage studeer en was vir twee-en-dertig jaar ’n onderwyser voordat hy in 2004 afgetree het. Hy woon in Wellington in die Wes-Kaap. Hy sal sy memoires skryf wat ’n blik gee op die Suidwes-Afrika van die 1950’s en wat ook beide sy Nama en Europese herkoms ondersoek.

Juliette Manitshana-Mnqeta

Juliette Manitshana-Mnqeta het gematrikuleer aan Westerford Hoërskool in 2005. Sy is tans gebaseer in Plettenbergbaai en vryskut by die Arbeidhof as ’n transkribeerder en isiXhosa-vertaler. Die misdaadroman waaraan sy werk, het die werkstitel If The Dead Could Talk.

Nixon Mateulah

Nixon Mateulah is in Lilongwe in Malawi gebore en het hom in 1996 in Suid-Afrika gevestig. Running Home is ’n fiktiewe verhaal wat gebaseer is op sy ervarings toe hy van Malawi in Suid-Afrika aangekom het gedurende die vroeë jare van die Suid-Afrikaanse demokrasie. Hy het ’n aantal kortverhale en gedigte gepubliseer in verskeie gedrukte en aanlynpublikasies.