NATi, die Jakes Gerwel Stigting, Suidoosterfees en Kunstekaap belê in die ontwikkeling van ontluikende dramaturge se talente met hierdie gedeelde projek. Na ’n intensiewe toneelskryfprogram by Paulet Huis, sal die jong dramaturge se werk verder ontwikkel word om by die Suidoosterfees van 2023 te debuteer. Waar die Stigting al die kostes dek van die dramaturge se residensie by Paulet Huis, dra die Suidoosterfees, met die ondersteuning van NATi, die produksiefooie om die teaterstukke op die planke te bring. Opsy beurt, onderskraag Kunstekaap die teatermakers met repetisielokale, kostuums en tegniese hulp. Die dramaturge sal ook die geleentheid kry om uittreksels uit hul stukke by die teksmark van die aanbieder van die KKNK, Kunste Onbeperk, op die planke te bring. Die teksmark sal plaasvind by die Baxter-teater in Kaapstad. Lee-Ann van Rooi is die mentor vanjaar.
Ons is trots op die volgende opkomende dramaturge wat gekies is om in 2022 deel te neem aan die projek:
Curtley Pitt
Curtley Pitt het opleiding as akteur by CityVarsity in Kaapstad ontvang. Hy het in verskeie teaterproduksies gespeel, en TV-rolle vertolk in reekse soos Arendsvlei en Discovery se misdaadreeks, Investigation. Hy werk as stemkunstenaar vir oorklankingsproduksies en tree gereeld as seremoniemeester by korporatiewe geleenthede op. Curtley is ook opgelei in fisieke teater en choreografie, en hy is ’n ontluikende dramaturg wat in Afrikaans skryf.
Moniq Gouws
Moniq Gouws het in 2019 ’n BA in Taal en Kultuur aan Universiteit Stellenbosch verwerf, en is tans ’n honneursstudent in Drama en Teaterstudies, met kreatiewe skryf as spesialiteit. Sy is ook die houer van ’n Musikale Teater-sertifikaat en het in 2022 deelgeneem aan Humboldt-Universiteit in Berlyn se somerskoolprogram. As jong dramaturg en regisseur het haar tekste toekennings vir beste komedie en beste musiekblyspel by Stellenbosch Universiteit se Toneelfees verower.
Roland du Preez
Roland du Preez is ’n 26-jarige queer teatermaker van Kaapstad wat ’n honneursgraad in Teater en Opvoering aan die Universiteit van Kaapstad behaal het. In die Moederstad het hy aan teaterproduksies saam met Philip Rademeyer, Mannie Manim en Lee-Ann van Rooi gewerk. Roland het ’n voorliefde vir wispelturige, grillerige teater en hy skep graag kultureel ontwrigtende dialoog in sy stukke.
Tiffany Saterdaght
Tiffany Saterdaght is ’n digter, dramaturg, regisseur en radio-omroeper. Sy beywer haar om ’n eerlike stem aan benadeelde gemeenskappe te gee, en is betrokke by organisasies soos Awehness Creative Community en Klein Karoo Connect. By die KKNK se Karoo kaarte-projek, wat by die 2022-Kannatoekennings met ’n Herrie vir baanbrekende werk beloon is, was Tiffany betrokke as navorser, fasiliteerder, dramaturg en regisseur. Karoo kaarte se toneelstuk, Op hierdie dag, het sewe Kanna-benoemings ontvang.
Zack Mtombeni
Zack Mtombeni het aan die Performing Arts Lifestyle Institute (PALI) gestudeer, waar hy as student ’n rol in Binnelanders losgeslaan het. Hy het ook verskyn die rolprente Vaselientjie, Jou Romeo en Ring of Lies. In 2017 het Zack The Third Law Productions saam met Kaz McFadden en Lara Lourens in die lewe geroep, en in 2022 het dié maatskappy ses films vir kykNET vervaardig. Zack het ’n hoofrol in Nagval op Donkerdraai gespeel.