Mentorskap vir jong liriekskrywers: 2021 se deelnemers

 

Frazer Barry

Die Jakes Gerwel Stigting bied ’n mentorskapprogram aan vir liriekskrywers en sangers wat oorspronklike treffers in Afrikaans, Engels of isiXhosa skep. Met hierdie program word daar spesifiek gesoek na jong kunstenaars wat kan baat by die ervaring en leiding van ’n mentor om sodoende vars en treffende lirieke of liedjies te lewer. Na afloop van die program sal die deelnemers optree by die Suidoosterfees in Kaapstad. Frazer Barry van Tribal Echo is die mentor.

Ons is trots op die deelnemers van 2021:

Bryson Appels

Bryson Appels a.k.a 5 Star (Die Ster) is in Alabama, Klerksdorp gebore. Sy musiek, onder baie mense bekend as “van die straat af vir die strate”, is deur kunstenaars soos P.O.C., Brasse Vannie Kaap, Isaac Mutant en Hemelbesem beïnvloed. Met sy energieke, triomfantlike klanke is hy beslis ’n witwarm talent om dop te hou. Hy was al op die verhoog saam met Hemelbesem, Yoma, Early B, Ixa, Die Hooflig, Oxijin en ander. Tans verteenwoordig hy sy tuisdorp onder die handelsnaam “Straatkat Media”, wat spog met meer as 80 000 YouTube-kyke. Sy musiekvideo’s is al op kykNET en Onse TV uitgesaai.

Duwayne Lombard

Duwayne Lombard kom van die Koo-vallei naby Montagu. Hy is ’n onderwyser by G.B. Batt Primêr in Ceres. Duwayne blink uit in verskeie kompetisies en beywer hom vir die bevordering van die rieldans. By die 2019 ATKV-rieldanskompetisie is sy liedjie, “Ons werk en speel”, gesing deur Pieter van der Westhuizen, as beste rielliedjie aangewys.

Jemaine Julies

Jemaine Julies is in Worcester gebore en woon nou in Stanford. Vir hom is musiek sinoniem met liefde, en hy is versot op Afrikaanse R&B. Jemaine spandeer die grootste deel van sy dag aan musiek maak. Hy skryf eg Suid-Afrikaanse lirieke in sy hartstaal. Van sy liedjies is al op gemeenskapsradiostasies gespeel.

Monique Basson

Monique het in die Swartland grootgeword en die musiekgogga het van kleintyd af gebyt. Met ’n oupa wat elke dag van sy lewe musiek gemaak het, was dit vanselfsprekend dat sy van jongs af ’n passie daarvoor sou koester. Sy het 14 jaar se sangopleiding agter die blad en het ’n BA in Drama en Teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Haar droom is om mense se lewens deur musiek en teater te verander.

Mpumelelo Kamkam

Mpumelelo, beter bekend as Mr. Bluuz, het in Bathurst in the Oos-Kaap grootgeword. Op laerskool het hy met die idee vorendag gekom om ’n skoolkoor te begin, waarvan hy natuurlik die voorsanger was. Mpumelelo het in graad 10 die skoolbanke verlaat en hy werk op ’n plaas in die Prins Albert-distrik. Hy glo dat musiek die kragtigste instrument is waarmee die wêreld verander kan word.

Waldon Paul Ewerts

Waldon, van Prins Albert in die Klein-Karoo, is ’n liedjieskrywer en vervaardiger. Hy speel kitaar en die ukulele. Op ’n jong ouderdom het hy sy hart op musiek verloor en het reeds in graad 8 sy eerste rymkletsliriek geskryf. Waldon tree gereeld by funksies op en is verslaaf aan die wonderlike reis wat musiek hom bied.