Ontmoet ons nuwe Kommadagga-deelnemers

LitNet en die Jakes Gerwel Stigting bied ’n mentorskapprogram vir belowende Afrikaanse en Engelse skrywers aan. Die Kommadagga-slypskool is gemik op skrywers wat hulle met die kortkuns besig hou en is in lyn met die instansies se strewe om nuwe skryfwerk aan te moedig. Die naam van die slypskool verwys na die omgewing waar Jakes Gerwel grootgeword het. Rachelle Greeff, die bekende skrywer en dramaturg, sal as mentor optree. Belangstellendes wat op kortverhale, rubrieke, tydskrifstories, artikels of meningstukke fokus en nog nie voorheen ’n boek gepubliseer het nie, kan aansoek doen vir hierdie residensie te Paulet Huis.

Die skrywers wat in 2021 gekies is om deel te neem:

Jodie Groener

Die vyf-en-twintigjarige Jodie Groener werk tans as ontvangsdame in Humansdorp, maar ’n ietwat “ambisieuse streep” maak dat sy nog die wêreld vol wil reis en baie wil skryf. Sy het in die Oos-Kaap grootgeword en was vir ’n rukkie ’n nuusleser op Kouga FM. Jodie skryf kortverhale en geniet dit ook om haar hand aan historiese fiksie en rubrieke te waag.

In 2015 het sy nasionale kleure in die uitvoerende kunste verwerf en kort daarna het sy skerm as ’n sportsoort opgeneem. Ook hierin het sy tot op internasionale vlak uitgeblink en, hoewel sy dit vir ’n wyle moes staak as gevolg van befondsing, getuig haar prestasie van deursettingsvermoë in alles wat sy aanpak.

Jodie sê dat sy haar voorgeneem het om gemaklik te voel met wat ook al die uitkoms van haar aansoek vir die Kommadagga-slypskool sou wees. “Maar toe die tyd aanbreek dat die organiseerders moes besluit wie vanjaar gekies sou word, was ek ’n senu-bol.”

Sy glo dat die slypskool nie net haar skryfwerk na ’n volgende vlak gaan neem nie, maar dat dit ook haar denke oor skrywerskap gaan verruim. “Woorde kan nie beskryf hoeveel die geleentheid vir my beteken nie. Dit gee my geweldige hoop.”

Whaden Johannes

Whaden Johannes is ’n “trotse produk” van Mamre. Hy is betrokke by verskeie projekte in sy omgewing en sy grootste uitdaging is om leierskap in sy gemeenskap te bevorder: “Ek probeer inspireer deur, waar nodig, meer te doen as wat verwag word.” Hy het ’n loopbaan van 10 jaar in die vermaaklikheidsbedryf agter die blad en het onlangs besluit om ernstig op skryfwerk te fokus.

Whaden het ’n voorliefde vir stories wat deur “society gesien word as myths”. Hy was in ekstase toe hy die nuus kry dat hy vir die Kommadagga-slypskool gekeur is. “Ek wou nog altyd in ’n spasie wees met like-minded mense, in dié geval skrywers.”

Vir Whaden lê die waarde van ’n ondervinding soos hierdie daarin dat aspirantskrywers mekaar kan inspireer en voed – dat hulle by mekaar kan leer: “In my kort lewe het ek geleer om nie te veel vooruit te kyk na dinge nie; ek lewe elke dag voluit. Hierdie projek gee my ook die geleentheid om nuwe vriende te maak en nuwe werk te skep.”

Anna-Karien Otto

Anna-Karien Otto skryf in Afrikaans en Engels. Sy het in Grahamstad (nou Makhanda) grootgeword, “omring deur briljante, eksentrieke karakters”. Sy is opgelei as ’n spraak-en-drama-onderwyser en het voorheen as subredakteur gewerk. Tans krap sy haar potjie as vryskutskrywer in die Paarl. “’n Verblyf van twee maande in Graaff-Reinet het my passie vir die kookkuns laat ontvlam,” sê sy. “Ek het kosrubrieke begin skryf wat op my webwerf verskyn.”

Sy was oorstelp deur die nuus oor haar keuring vir die Kommadagga-slypskool: “Skryf is ’n eensame bedryf en dit is ontmoedigend om sonder leiding artikels uit te stuur en dan dikwels geen terugvoering te ontvang nie. Die kontak met ander skrywers is vir my goud werd. En om deur iemand soos Rachelle Greeff gementor te kan word, was nog altyd ’n droom. Maar hierdie keer gaan die droom waar word!”

As kind het Anna-Karien die skrywer Jan Rabie geken en tydens ’n kuier by Rabie ook vlugtig vir Jakes Gerwel ontmoet. “Wat hierdie twee groot geeste gemeen gehad het, was ’n diep liefde vir Afrikaans.” Anna-Karien vertel van ’n skooltoer deur die Karoo waartydens sy en haar skoolmaats die Walter Battiss-museum in Somerset-Oos besoek het: “Oorkant die museum is Jakes Gerwel se pragtige ou huis en dit het ’n indruk op my gemaak toe ek dit die eerste keer sien. Ek voel bevoorreg dat hierdie brose skakels ’n soort sirkel kan vorm wat tydens die Kommadagga-slypskool voltooi gaan word.”

Daylen Tobias

“Skryf is die masjien wat my aan die lewe hou,” sê Daylen Tobias, ’n negentienjarige inwoner van Gansbaai. “My passie vir skryf het reeds in my kinderjare begin toe ek oor my vakansies moes skryf.”

Daylen is tans besig om Wiskunde en Fisiese Wetenskappe aan te durf met die oog daarop om tydens vanjaar se eindeksamen beter punte daarin te behaal. Vir ontspanning skryf sy kortverhale en gedigte. Die tydskrif Kuier het al van Daylen se kortverhale gepubliseer. “Ek is ook fanaties lief vir speurverhale, jeugromans en grillerige stories wat jou hare laat rys! Skrywers neem jou op reis en die wêreld bestaan nie meer as jy ontvlug in fiksie nie.”

Sy beskryf haar reaksie op die e-pos oor haar aansoek vir die Kommadagga-slypskool so: “Toe ek sien daar is ’n boodskap van Theo Kemp af, het my hart kliphard teen my ribbes gestamp. My oë het lank na die email gestaar; ek was té onseker om dit oop te maak.” Maar toe sy uiteindelik die moed bymekaarskraap om die boodskap te lees, was haar vriend Jakob daar om die vreugde te deel: “Ek kon nie help om kliphard te skree en op te spring nie. Jakob het ook ingeval, alhoewel hy nie geweet het wat aangaan nie. Ek moes twee keer seker maak ek is nie in droomland nie. En nou sit ek met onnodig stompgekoude naels.”

Kenny Williams

Kenny Williams beskryf homself as ’n doodgewone outjie wat al vir 32 jaar in die onderwys is. “Ek skryf al van skooldae af, maar het nog niks gepubliseer nie. Ek beplan egter om binnekort my eerste bundel uit te gee.” Kenny skryf in AfriKaaps, meestal oor sy moeilike grootwordjare: “Ek is ’n Flatse boytjie wat in die hartjie van Afrikaans gebore is – die Paarl.”

“Ek skryf wat ek wil en noem myself ’n ‘vryheidskrywer’ wat nie bang is om sensitiewe onderwerpe aan te vat nie,” sê Kenny. Hy het al oor die 70 gedigte geskryf maar het hom deur Marita van der Vyver laat oortuig om hom in die vreemde waters van kortverhale te begeef omdat mens daarin wyer met woorde kan omgaan.

Die sukses van Kenny se aansoek vir die Kommadagga-slypskool is soveel te meer spesiaal omdat hy onlangs Zelda la Grange se Goeiemôre, mnr. Mandela gelees het, waarin sy groot lof het vir Jakes Gerwel se bydrae tydens die Mandela-era: “Ek het weereens besef wat ’n reus Gerwel was, en nou word ek genooi deur die stigting wat sy naam dra. Die gevoel binne my is onbeskryflik.”

Te midde van die Covid-19-pandemie, is daar nou weer ’n “huppel in sy knuppel”. Kenny grap: “Afrikaans my nou! Afrikaans my vir altyd! Afrikaans my tot die kis sak!”