Jong Sterre na Somerset-Oos vir teksontwikkeling

Die Jakes Gerwel Stigting wat ten doel het om die skryfvaardighede van veral jong talent te help ontwikkel, bied vanjaar vir die eerste keer ’n mentorskapsprogram vir opkomende dramaturge aan. Hierdie projek is in samewerking met die Suidoosterfees as ’n uitbreiding van die fees se bestaande Jong Sterre-projek.

Waar die fees jaarliks vir belowende jong teatermakers ’n speelruimte skep, bied die Stigting vanjaar vir hierdie kunstenaars intensiewe leiding met teksontwikkeling. Amy Jephta, gerespekteerde dramaturg wat onder meer bekend is vir die bekroonde teaterstuk Kristalvlakte, sal as die mentor optree. Hierdie opleiding sal oor drie weke in Oktober strek en aangebied word in die Stigting se onlangs gerestoureerde skrywershuis in Somerset-Oos.

’n Ope oproep vir dramaturge wat in die residensie-program sou belangstel, is vroeër vanjaar uitgereik en bykans veertig aansoeke – selfs van so ver as Nigerië en Kenia – is ontvang. Finaliste is aangewys, waarna hul gevra is om hul produksievoorstelle aan ’n paneel van teaterkenners in die Kunstekaap voor te lê. Die volgende wenners is aangewys: Du Toit Albertze, Tasneem Daniels, Herschelle Benjamin, Kanya Viljoen en Keanen Engel.

Du Toit Albertze is ’n dramaturg, regisseur en digter wat al bekroon is met twee Beste Nuweling-toekennings by die Toyota US Woordfees en die KKNK. Die teks waaraan hy sal werk tydens die residensie-program, Kaap, vertel die storie van ‘n jong wit skrywer wie se lewe vervleg word met die lewens van twee eksentrieke bruin Kapenaars. Die skrywer soek na ’n gemeenskap in ‘n verwonde stad, maar moet eers ‘n teaterstuk skryf om geld huis toe te stuur.
Tasneem Daniels, ’n onderwyseres aan Athwood Primêre Skool, het in 2013 ’n kreatiewe skryfprogram aan die Universiteit van die Wes-Kaap voltooi en dis hier waar die idee vir haar stuk Opening Miela’s Box ontstaan het. Hierdie drama handel oor die Kaaps-Maleise kultuur soos wat dit spesifiek deur die Moslem-gemeenskap in Kaapstad beleef word.
Keanen Engel het in 2017 sy honneurs in Drama- en Teaterstudies aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi. Hy was onlangs te sien in die bekroonde teaterstuk Die Gangsters wat by die Toyota US Woordfees en ook die Suidoosterfees gespeel het. Sy beplande dramastuk Slim mense fokus op ’n moederfiguur wat probeer om ’n reeks onverstaanbare gebeure in haar lewe en verlede te ontsyfer met behulp van praktyke wat teenstrydig is met haar geloofsoortuigings.
Herschelle Benjamin is tans besig met sy meestersgraad in Drama- en Teaterstudies aan die Universiteit van Stellenbosch. In 2018 debuteer hy as een van die Kunstekaap se Nuwe Stemme met sy stuk Korreltjie Kop Klong is my Dood. In dieselfde jaar ontvang hy ’n Teksmark-skrywersbeurs van Kunste Onbeperk en NATi asook die Elizabeth MacLennan Internasionale Studiebeurs van die Skotse Universiteite se Internasionale Somerskool (SUISS). Die stuk waaraan Herschelle sal werk, Ons al kind, speel af op ’n klein plattelandse dorpie waar die omgewing deur verskeie plaasmoorde geruk word.
Kanya Viljoen is ook besig met ’n meestersgraad in Drama- en Teaterstudies en wel aan die Universiteit van Kaapstad. Sy het onlangs gedebuteer deur die toneelstuk RAAK by die Vrystaat Kunstefees 2018 op die planke te bring. Dit is as Beste Produksie genomineer en het ook twee KykNET Fiësta-nominasies ontvang. Kanya is verder laasjaar as Beste Opkomende Regisseur deur die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Teater (SATMag) aangewys en is hierdie jaar vir ’n Fleur du Cap Teater-toekenning benoem. Kanya se Die man en die maan vertel deur ’n kombinasie van bewegingsteater en poëtiese monoloog die magiese verhaal van ’n gesin wat deur die maan verskeur word.

Ná die ontwikkeling van hierdie vyf uiteenlopende tekste sal dit tydens die Suidoosterfees wat vanaf 27 April tot 3 Mei 2020 in die Kunstekaap in Kaapstad aangebied word, op die planke gebring word.