Vyf ontluikende draaiboekskrywers is gekies vir die splinternuwe Jakes Gerwel Stigting/M-Net kanale mentorskapprogram

Die Jakes Gerwel Stigting en M-Net kondig met trots die name aan van die vyf suksesvolle kandidate – wat uit ’n rekordgetal van 127 aansoeke gekies is – vir hul eerste mentorskapprogram vir die skryf van televisiedraaiboeke: Niël Coetzee, Gita Fourie, Ross Jantjies, Sindisa Masiza en Palesa Shongwe.

Die kandidate sal in September vertrek na Paulet Huis, die Jakes Gerwel Stigting se skrywershuis in Somerset-Oos in die Oos-Kaap vir die intensiewe, twee weke lange mentorskapprogram onder leiding van die befaamde televisieskrywer en aktrise Tina Kruger. ’n Bonus is dat die program opgevolg word deur internskappe vir elk van die kandidate by een van M-Net se kanale, afhangende van hul individuele vaardighede.

Die suksesvolle kandidate het hul opgewondenheid oor die nuwe inisiatief uitgespreek en gesels oor hul toekomsplanne:

“Ek voel ongelooflik dankbaar en geseënd om gekies te wees om deel te hê aan die JGS/M-Net mentorskapprogram,” sê Sindisa Masiza. “Ek weet die program gaan my blootstel aan professionele mense in die bedryf wat baie kennis het om oor te dra. En my medeskrywers op die program sal sekerlik vars perspektiewe en idees hê. Ek sien daarna uit om na hulle te luister en van hulle te leer.”

Tydens die program sal Masiza werk aan sy reeks Plastic waarin hy eksperimenteer met ’n kombinasie van verskillende narratiewe metodes in sy verhaal van ’n jong vrou wat probeer om haar onskuld aan ’n misdaad te bewys. Hy werk ook as medeskrywer aan ’n teks genaamd Kruisfontein. “Die projek sal in die Oos-Kaap verfilm word as ’n onafhanklike speelprent,” sê Masiza.

Niël Coetzee vertel dat dit onwerklik gevoel het toe hy die e-pos van Theo Kemp, die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, lees dat hy gekies is: “Ek het net vir ure daar gesit en deur die woorde gegaan om 100% seker te wees ek het dit nie verkeerd gelees nie.” Die uitkoms van die voorlegging van sy teks – wat amper ’n jaar lank op sy rekenaar was en wat niemand nog voorheen gelees het nie – is ’n “ware seën”. Coetzee hoop om “die interne werking van die televisiewêreld se ekosisteem beter te verstaan, hoe almal van junior skrywer tot hoofskrywer, asook al die ander rolle, bydra tot ’n vertoning.” He is gretig om aan die gang te kom met “die skep van interessante storie-momente wat enige gehoor vasgenael sal hou vir 30 tot 45 minute elke week of wat sal maak dat hulle hul daaraan vergryp sodra dit vrygestel word op Showmax.”

Meer oor die draaiboekskrywers vir 2023:

Niël Coetzee

Niël Coetzee woon in Parys in die Vrystaat. Hy het sy BA-graad in kommunikasiekunde by die Noordwes-universiteit behaal. ’n Hoogtepunt van sy studies was om ’n dokumentêr te maak as deel van sy kursusverpligtinge. Hy werk as ’n onafhanklike skepper van televisieprogramme en het ’n sterk wil om ’n suksesvolle draaiboekskrywer vir televisie te word.

Gita Fourie

Gita Fourie kom van Hopefield af. Sy het haar BA in dramakunde aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi. Haar toneelstukke is suksesvol by verskeie teaterfeeste opgevoer. Sy het ’n Kanna-toekenning vir beste opkomende kunstenaar verwerf by hierdie jaar se KKNK en is vir ’n Fiësta-toekenning in dieselfde kategorie genomineer.

Ross Jantjies

Ross Jantjies is van Kaapstad en het sy kreatiewe mediastudies aan die SAE-instituut in Woodstock voltooi. Hy vryskut as video-redigeerder en fokus veral op animasies vir stromingsplatforms soos Disney+, Netflix en Showmax. Sy diepste passie lê in skryf en hy is vasberade om in die televisie- en filmbedryf in te kom as skrywer van sy eie draaiboeke.

Sindisa Masiza

Sindisa Masiza is gebore en getoë in Oos-Londen. Hy het vroeër hierdie jaar sy filmstudies by AFDA in Port Elizabeth voltooi en vryskut tans as kopieskrywer. Hy sien uit na die Jakes Gerwel Stigting/M-Net program wat hom sal help om sy droom te bewaarheid om stories te skryf en saam met die talentvolste mense in die televisiebedryf te werk.

Palesa Shongwe

Palesa Shongwe kom van Soweto. Sy is geïnteresseerd in narratiewe met ’n feministiese perspektief en ’n dekoloniale aanslag. Haar kortfilm Atrophy het die Ekumeniese Jurie-prys by die Oberhausen Kortfilmfees in 2011 behaal. uNomalanga and the Witch is aangewys as die beste kortfilm by die Durbanse Internasionale Filmfees in 2015 en dit het die Baobab Kortfilmprys in 2016 gewen. Nadat sy vir ’n tyd by Wits-universiteit klas gegee het, maak sy nou weer onafhanklik films.