Name van die kandidate van die gesogte mentorskapprogram vir opkomende skrywers in 2021 bekendgemaak

Die Jakes Gerwel Stigting en NB-Uitgewers kondig met trots die kandidate aan wat in 2021 sal deelneem aan ons residensie-program vir ontluikende skrywers: Crystal-Donna Roberts, Doreen Musson, Tebello Mzamo en Sphesihle Vusimuzi Qwabe.

Hierdie program bied – onder die bekwame leiding van Suzette Kotze-Myburgh en Angela Briggs – die geleentheid aan opkomende skrywers om hulle manuskripte te ontwikkel en publiseerbaar te kry. Ons fokus op skrywers wat ’n storie het om te vertel, maar nie presies weet hoe om dit neer te pen nie. Die Jakes Gerwel Stigting en NB-Uitgewers stap die pad saam met die verkose skrywers om stories wat nog nie voorheen gehoor is – of wat nog nie genoegsaam in die Suid-Afrikaanse letterkunde oopgeskryf is nie – te laat hoor. Die skrywers sal saam met hul mentors op Somerset-Oos in die Stigting se Paulet-skrywershuis gaan werk tydens geskeduleerde skrywersresidensies en hulle sal verder deur die jaar per e-pos in verbinding bly met hul mentors. Beide fiksie en nie-fiksie in Afrikaans en Engels word deur die program aangespreek.

Meer oor die skrywers van 2021:

Crystal-Donna Roberts

Crystal-Donna Roberts is ‘n Suid Afrikaanse aktrise wat haar kinderjare deels in Bonteheuwel, Kensington en Factreton in Kaapstad deurgebring het en toe haar hoërskoolopleiding in Bloemfontein voltooi het. Sy het haar BA-graad in drama en teater aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf.

Crystal-Donna is bekend vir teaterwerk soos Rondomskrik met Hennie van Greunen as regisseur, Kanna hy kô hystoe onder regie van Gerben Kamper en Bidsprinkaan met Janice Honeyman as regisseur.

In die film- en televisiebedryf was sy betrokke by produksies soos The Endless River, Krotoa, Arendsvlei en Swartwater.

Behalwe vir haar werk as aktrise, wil Crystal-Donna graag haar liefde vir die verbeelde en binnewêrelde van mense op papier uitleef.

Doreen Musson

Doreen het op Beaufort-Wes in die laat sestigerjare gematrikuleer en het onderwys aan die UWK studeer. Sy was onderwyseres in die Suid-Skiereiland Grassy Park. Verder was Doreen dosent by die Hewat Onderwyskollege, stigterslid van Khanya Kollege, bestuurder by Sached (die Suid-Afrikaanse Komitee vir Hoër Onderwys) asook nagraadse Fulbright-student en navorser in onderwys en opleiding by Stanford/ Princeton in die VSA.

Tebello Mzamo

Tebello Mzamo het in Gugulethu in Kaapstad grootgeword en het haar meestersgraad cum laude by Rhodes Universiteit voltooi. Haar werk het reeds verskyn in die joernale TYHINI, Writing ThreeSixty en New Contrast, in die kortverhaalbundel Incredible Journey: Stories that move you en die aanlyn-koerant GroundUp. In 2009 het sy ‘n silwer merietesertifikaat ontvang in die Ek’s ‘n skrywer! Kompetisie van die SABC. Tebello werk op die oomblik aan haar eerste roman.

Sphesihle Vusimuzi Qwabe

Sphesihle Vusimuzi Qwabe is in ‘n klein dorpie in Kwazulu-Natal gebore. Hy is grootgemaak deur sy ouma wat as afgetrede onderwyseres elke aand vir haar kleinkinders gelees het. Hy is 29 jaar oud en werk in ’n Foschini-winkel in Johannesburg. Sphesihle het ’n nasionale diploma in openbare betrekkinge voltooi. Hy spandeer sy etensure deur te lees en skryf dan elke aand wanneer hy tuiskom. Hy skryf omdat hy vas daarin glo dat dit is wat hy bedoel is om te doen; dis sy roeping en bydrae tot die wêreld. Hy is op sy gelukkigste wanneer hy ’n pen in die hand het. He is toegewy aan die skryfkuns en vasberade om skryf sy voltydse beroep te maak.