Mentorskapprogram vir Opkomende Liriekskrywers

Die Jakes Gerwel Stigting het in 2020, in samewerking met die Suidoosterfees, vir die eerste keer ’n mentorskapprogram aangebied vir liriekskrywers en sangers wat oorspronklike treffers in Afrikaans, Engels of isiXhosa skep. Die teikengroep is jong kunstenaars wat kan baat by die ervaring en leiding van ’n mentor om sodoende vars en treffende lirieke of liedjies te lewer. Die gekose kunstenaars het ook die geleentheid gekry om saam met hul mentor, Frazer Barry, hoofsanger van Tribal Echo, asook ander professionele kunstenaars te werk aan ’n musiekproduksie wat tydens die Suidoosterfees vroeër vanjaar ’n ware hoogtepunt was.

Van die deelnemers vertel só van die mentorskapprogram:

Gabriël Plaatjies

Die tyd van mentorskap was vir my baie besonders omdat dit my as mens verander het. Voor ek na Paulet Huis in die Oos-Kaap vertrek het, het ek eintlik nie meer geloof gehad in die kunste en in my toekoms as kunstenaar nie. Wat ek ontvang en geleer het, was soos ’n verfrissing en ek het weer eens kom lief raak vir die kunste. Ek het weer besef dat ek regtig lief is vir die letterkunde en skryfkuns en ek het baie insig gekry oor wat dit behels. Ek het geleer dat ek ver meer kan doen as wat ek gedink het en regtig helder beelde kan skep met my woorde. Ek hoef nie haastig te wees met my skeppings nie, maar ek kan my tyd neem om my werk te skep. Ek het nuwe hoogtes van woordkuns bereik en het ’n heeltemal nuwe uitkyk op my kunstenaarskap. Ek pas die dinge toe wat ek daar geleer het wanneer ek iets nuuts skep. Ek kan myself beter verwoord en uitdruk. Meer nog, ek kan my opinie en ervarings makliker op skrif stel en musikaal uitdruk. Ek het geleer wat binne my as kunstenaar is. Die mentorskap het my lewe definitief kom verander en my nuwe fokus gegee. Ook met die aanloop na die Suidoosterfees en ons musiekproduksie kon ek my ervaring met my medekunstenaars in my vriendekring deel. Die Jakes Gerwel mentorskap het nie net van my ’n beter kunstenaar en skrywer gemaak nie, maar ook ’n meer volledige mens.

Nicol Klopper

Toe ek by Paulet Huis in Somerset-Oos aangekom het, het ek ’n idee gehad van wie ek is en watter musiek ek maak. Maar, Frazer Barry, jy het my geleer om eers te vergeet van al die buite invloede en ek het my eintlike stem, my wie en wat ek is en watter musiek ek maak nou eers regtig gevind deur die metode wat jy gevolg het.

Wanneer ek onseker was, het jy geluister en verstaan wat ek sê en jy het my gehelp en gelei uit my onsekerheid uit. Deur die hele ervaring tot by die Suidoosterfees het ek net aangehou leer en aangehou groei. Dit was ’n ontsaglike lekker ervaring vir ons om die eerstes te wees in die liedjiesprogram en om te kon wegbreek vir twee weke en net te kon fokus op liedjies skryf.

Vir my persoonlik, om myself te kon omring met mense wat dieselfde passie het vir liedjies en wat dieselfde dinge doen as ek – en dan om ’n ongelooflike mentor te kon hê wat verstaan – was spesiaal. Die feit dat jy passievol was oor my eie skryfwerk en musiek was vir my baie spesiaal. Jy het my baie geïnspireer en aangemoedig om die stem in my te vind, om dit te ontwikkel en om vertroue in myself te hê.

My groei in hierdie tyd is danksy die Jakes Gerwel mentorskapprogram en danksy jou metode en manier van werk. Ek het hiervoor baie dankbaarheid en groot waardering.

Naaim Briesies

Voor die slypskool in Somerset-Oos met Frazer Barry het ek geweet ek moet myself uitskud en gereed wees om nuwe dinge te leer en myself te verbeter. Maar Mnr Barry wou werklik skoon blaaie hê om mee te begin. Ons het ons eie stories van vooraf geskryf oor waar ons elkeen vandaan kom, of dink ons vandaan kom. Toe ons eers, in Mnr Barry se woorde, “die fontein van ons eie kreatiwiteit oopgegrawe het,” kon ons begin liedjies skryf.

Die soetste klanke en woorde – soos tuisgemaakte magou en oondgebakte broodjies – het oor my lippe gevloei. Somerset-Oos was soos my huis; ek het geleer ek dra my huis saam soos die skilpad wat die embleem van Paulet Huis is. Want deur die mentorskap het ek geleer dat alles wat ek wil bereik in my musiekloopbaan binne-in my is en hier plaaslik rondom my. Elkeen van ons is uniek, daarom sal wat uit my uit vloei ook uniek wees en in aanvraag wees. Die hemel binne-in my is oopgesluit en ek het nie nodig om ander klanke na te jaag nie.

Ek is so bly om deel te kon raak van die eerste mentorskapprogram vir liedjieskrywers en van die première van Drome het vlerke by die Suidoosterfees. Onder die leiding en mentorskap van Mnr Barry kan enige musiekkunstenaar se drome net vlerke kry!

Baie dankie ook aan Theo Kemp van die Jakes Gerwel Stigting en die mense van Paulet Huis en in Somerset-Oos wat ons verwelkom en tuis laat voel het.