NATi Jong Sterre Projek: 2021 se dramaturge

 

Abduragman AdamsNATi, die Jakes Gerwel Stigting, Suidoosterfees en Kunstekaap poog om met hierdie gesamentlike projek die talent van ontluikende dramaturge te ontwikkel. Hierdie intensiewe mentorskapprogram word onder leiding van Abduragman Adams, ervare akteur en dramaturg, aangebied. Die jong dramaturge se werk sal met die oog op die Suidoosterfees in 2022 ontwikkel word en die hulle sal die geleentheid gebied word om uittreksels uit hul toneelstukke op Kunste Onbeperk, die moedermaatskappy van die KKNK, in Kaapstad op die planke te bring. Rafiek Mammon is aan die stuur van die produksie-ontwikkeling.

Ons is trots op die volgende opkomende dramaturge wat gekies is om in 2021 deel te neem aan die projek:

Heloïne Armstrong

Heloïne Armstrong is ’n multidissiplinêre kunstenaar en gemeenskapspraktisyn, oorspronklik van Rosemore in George. Sy het haar BA in ontwikkelingstudies aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi as ’n trotse ontvanger van die Masakh’iSizwe / Kom ons Bou die Nasie Beurs. Sy het ’n diverse werksagtergrond in die skeppende kunste, die mediabedryf en in die gemeenskap en het reeds vir ’n verskeidenheid werkgewers soos die regering, universiteite, NRO’s en OSW’s in die Wes- en Oos-Kaap gewerk. As ’n vrou en ’n feminis is Heloïne passievol oor die vertel van stories en die bewusmaking van kwessies wat gemarginaliseerdes affekteer. Sy is op die oomblik in O’Kiep gebaseer waar sy fondse vir die kunste invorder, werk vir ’n kontemporêre dansteatergeselskap, betrokke is by ’n uitreikprogram, skryf en inspirasie vind in die enigmatiese Namakwaland.

Henque Heymans

Henque Heymans het sy liefde vir skryf ontdek toe hy in die televisie-bedryf onder Franz Marx en Christo Compion gewerk het, waarna hy begin het om vir die filmbedryf en ook redelik onlangs die teater te skryf. In 2016 is hy medewerker aan en skrywer vir Suid-Afrika se eerste een-tot-een teaterproduksie DEURnis. Hierdie ambisieuse baanbrekerswerk in plekspesifieke teater lewer vir hom in 2017 sy eerste nominasie vir ’n ATKV-Woordveertjie asook in 2018 die Blou Fiësta-prys. Henque het hom in 2019 onderskei deur die opvoer van wyd uiteenlopende maar uitstaande produksies soos Birthing Nureyev, as vlagskip vir die Nasionale Kunstefees (NAF), Kamerverlaat, wat goud verkry het by die ATKV-Tjokkertoneel, en die ATKV-Tienertoneelproduksie Br(o)os, wat ’n silwer toekenning losgeslaan het. Henque se ryk tekste is gesog by akteurs wat streef om hul potensiaal ten volle te ontwikkel en die benoemings en toekennings van Aardklop, KykNET Fïesta en die Woordfees vir beste akteur – met selfs ’n Naledi-teatertoekenning in 2020 – stroom in.

Jane Mamotse Mpholo

Jane Mamotse Mpholo, wat in Botshabelo grootgeword het, het haar BA in drama en teaterkuns by die Universiteit van die Vrystaat voltooi waar sy ook in 2012 in aanmerking geneem was vir die Elsa Krantz-medalje vir artistieke prestasie. Jane het reeds baie rolle vervul: aktrise, dramaturg, radio drama-skrywer, outeur, projekbestuurder, regisseuse, spreker, vertaler, agtergrondstem-kunstenaar, model en kunsfasiliteerder, om net ’n paar te noem. Haar teaterstuk Psalm69 wat op haar eie lewenspad gebaseer is, is opgevoer by die Suid-Afrikaanse Staatsteater in 2017, was op die program van die Global Leadership Summit in 2018 en was ook te sien by die Soweto-teater in 2019. Jane beskryf die werkswinkelproduksie Alpha onder die direksie van Erwin Maas van die Verenigde State en Stef De Paepe van België by die Vrystaat Kunstefees in 2018 as ’n hoogtepunt in haar toneelloopbaan. Dit was ook ’n eer om in 2019 die rol van Winston in The Island onder die direksie van die geliefde en gerespekteerde Dr Jerry Mofokeng wa Makhetha te vertolk. As provinsiale ambassadeur van Business and Arts South Africa (BASA), Love Life se rolmodel van die jaar (2020/21) en stryder vir vroueregte, hou Jane aan om ander op te hef en te inspireer.

Melissa Myburgh

Melissa Myburgh is ’n opkomende aktrise, dramaturg en regisseuse. Sy het haar BA honneursgraad in toneel- en draaiboekskryf in 2020 voltooi. Sy het haar televisiedebuut in 2019 in Lui maar op Belinda gemaak en het die vroulike hoofrol Mika Brink in die KykNET-reeks Kompleks in 2020 vertolk. Melissa was die regisseuse van twee produksies wat in 2018 by die Woordfees gedebuteer het, naamlik Kansel en Deurmekaar. Die hoogs suksesvolle komedie “Bless” die Blou Bal waarin sy in 2020 by die Woordfees gespeel het, is ook deur haar geskryf en geproduseer. ’n Ander hoogtepunt by die Woordfees in 2020 was die nominasie vir ’n Woordfeestrofee vir NiksAllesTogIets waarby sy as medeskrywer en aktrise betrokke was. Melissa poog om gehore terselfdertyd te vermaak en uit te daag deur middel van haar teater. ’n Ideaal waarna sy streef is om toneel te skep wat jonger gehore na die teater toe sal lok en ’n nuwe generasie teatergangers sal verseker.

Stephren Saayman

Stephren Saayman is ʼn opkomende skrywer, teatermaker en akteur wat afkomstig is van Riversdal in die Wes-Kaap. Hy het sy BA in drama en teaterstudies aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi. Stephren het reeds in 2018 in sy tweede studiejaar met sy eerste dramastuk Brandmerk by die KKNK ʼn Kanna-nominasie vir beste opkomende kunstenaar ontvang. Sy tweede teks Ek, Eva het die toekenning vir mees innoverende produksie by die Zabalaza Teaterfees in 2020 ontvang. Hy is ook medeskrywer van Heads or Tail(s)? wat as een van die beste produksies by die Zabalaza Teaterfees in 2021 aangewys is. Stephren staan verder ook sy skoene vol as akteur in teaterproduksies soos In Slavenhuis 39 wat in 2019 by die Woordfees gedebuteer het en Mannetjie wat by vanjaar se Suidoosterfees te sien was. Sy televisie-verskynings sluit die reekse Suidooster, Dwaalster en Kompleks in. Met verskeie toekennings van die Departement van Kultuursake en Sport in die Wes-Kaap agter sy naam, poog hy om met teater genesing vir die siel en uitdagings vir die denke te bring.