Kommadagga – hier is ons deelnemers

Die eerste Kommadagga-slypskool, geïnisieer deur die Jakes Gerwel Stigting en LitNet, is op die oomblik in volle swang in Somerset-Oos onder leiding van Rachelle Greeff as mentor.

Hierdie projek, wat fokus op skrywers van die kortkuns, het vyftig inskrywings opgelewer waaruit daar uiteindelik ses kandidate aangewys is om die slypskool by te woon. Wat opval by hierdie kandidate is hulle oorweldigende entoesiasme vir skryf en die gretigheid om die geleentheid wat hulle gegun word ten volle te benut.

Só het die organiseerders hulself uitgedruk oor die kandidate.

Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting:

“Die belangstelling in die slypskool en die gehalte van die inskrywings was so oorweldigend dat ons nie maklik ’n besluit kon neem nie. Dit is om hierdie rede dat ons ses kandidate – in plaas van die beplande vyf – gekies het. Dit is uiters bemoedigend om te sien dat hierdie projek – wat ons vanjaar vir die eerste keer aanbied – reeds so ’n groot behoefte aanspreek.”

Etienne van Heerden, stigter-redakteur van LitNet:

“Toe ek lees hoe bly elkeen van die gekose skrywers is oor hierdie asemskep en kopneersit in die oop lug van die Oos-Karoo het my eie hart ’n springboksprong gegee. Ek is bly dat ons by LitNet met die Gerwel-span kon saamwerk om hierdie slypskool te vestig – en dit met ’n ervare mentor soos Rachelle Greeff.”

Vir Rachelle Greeff, ervare en gerespekteerde skrywer, was dit weer die gehalte van die inskrywings wat vir haar so inspirerend is. Daarom is dit ’n heuglik uitdagende taak vir haar om met hierdie groep mense te werk in Paulet Huis in Somerset-Oos. “As dit prakties haalbaar was, kon die eerste Kommadagga-slypskool twee, drie keer soveel aansoekers uit die geil lys kandidate geoes het.”

Die deelnemers

Ons stel graag die ses skrywers voor wat die Jakes Gerwel Stigting en LitNet se Kommadagga-slypskool van 12 Oktober tot 1 November 2020 op Somerset-Oos bywoon.

Regardt Visser

Regardt Visser het taal en kultuur aan die Universiteit van Stellenbosch gaan swot waar hy dan ook sy honneursgraad in draaiboekskryf en regisseurswerk voltooi het. Dit het gelei tot skryf- en regisseurswerk vir teaterstukke en films. Regardt het ook onlangs vir die bekende sepie Binnelanders begin draaiboek skryf.

Regardt vertel hoe stories sy lewe van vroeg af gekleur het in Velddrif, die vissersdorpie waar hy vandaan kom. “Stories was nog altyd die currency waarmee my familie en die dorp operate – ’n unspoken kompetisie onder mekaar,” sê Regardt. “Ek onthou pouses by die skool waar jy almal van jou naweek vertel het soos ‘Wa-wa-wag, daai’s nog niks. Hoor dié een’, en dan was daai vertelling jou grootste asset.”

Om ’n goeie storie te vertel, maak vir hom meer saak as die medium waarvoor hy skryf. Tog is die kortverhaalvorm ’n voorkeurvorm en hy sit al lank met ’n idee vir ’n eenheidsbundel.

Aan die begin van die jaar het Regardt homself belowe dat hy daadwerklik iets van sy skryfwerk gaan probeer maak. Die digter Ryan Pedro, wie se Pienk ceramic-hondjies onlangs verskyn het, het Regardt van sy ervaring by Paulet Huis vertel en hom aangemoedig om vir die Kommadagga-slypskool in te skryf.

“Ek het begin bewe toe ek die mail van Theo ontvang. Ek soek nog heeljaar na so ’n geleentheid. Ek’s dankbaar teenoor die Jakes Gerwel Stigting vir hierdie spasie wat hulle geskep het, waar hulle belê in skrywers, stories en stemme van uiteenlopende agtergronde.”

Regardt se idee vir ’n kortverhaalbundel kan nou vlerke kry. Al sy gunstelingboeke, soos Chinatown, Oolog en Pienk ceramic-hondjies is by Paulet Huis geskryf. So, om in hierdie selfde ruimte te kan sit en skryf, is fantasties.

Theolla Langenhoven

Theolla Langenhoven is van Belhar en werksaam as ’n persoonlike assistent. Sy put inspirasie vir baie van haar stories juis uit mense van wie daar normaalweg nie vertel of geskryf word nie. “Ek hou verskriklik baie van gemeenskapswerk. Dis waar ek my stories vandaan kry, maar ook ’n klein verskil in ander se lewens kan maak.”

Theolla fokus dan veral op verhale wat in die bruin gemeenskappe, haar ervaringsveld, afspeel. Ook geniet sy die trefkrag van kortverhale, rubrieke en meningstukke wat jou help “om met min woorde die storie oor te dra waarby die audience van daardie spesifieke medium baat sal vind”.

Die Kommadagga-slypskool is vir haar ’n geleentheid om haar horisonne te verbreed en haar fokus uit te brei. Sy vertel dat dit vir haar ’n emosionele oomblik was toe sy gehoor het sy is gekies om die slypskool by te woon. “As skrywer is ek ’n late bloomer, dus is dit vir my ’n eer en groot voorreg om hierdie geleentheid wat fokus op my gunsteling genre, by te woon.” En om by Rachelle Greeff te mag leer, maak dat Theolla die voorreg dieper voel, “want sy is een van die bestes.”

Zubayr Charles

Zubayr Charles het in die prentjiemooi woonbuurt van die Bo-Kaap grootgeword. Hy gee Engels Eerste Taal by die Good Hope Seminary High School vir meisies en koördineer die skool se dramaklub. Terselfdertyd is hy ook besig met sy meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan die UK.

“Ek skryf kortverhale, maar beskou myself ook as ’n digter en dramaturg. In 2019 het ek my eerste drama The Battered Housewives’ Club wat handel oor geslagsgebaseerde geweld opgevoer.” Zubayr is besig met ’n digbundel wat die buurtopknapping van die Bo-Kaap as tema opneem en hy beoog om hierdie bundel self te publiseer.

Zubayr was huiwerig om sy werk aan die Kommadagga-paneel voor te lê. “Ek het geleer dat lees subjektief is en mense kan óf regtig hou van jou werk óf regtig niks daarvan hou nie. So, ek was nie seker hoe die paneel my voorlegging sou ontvang nie. Die goeie nuus het my beskeie gemaak, al het ek meer selfvertroue in my werk gekry, was ek nie seker oor die reaksie wat ek daarop sou kry nie.”

Die kortverhaal wat hy ingedien het, deel met baie van die taboes waarmee milleniërs in Kaapstad sukkel en wat ouer en konserwatiewe generasies miskien nie sal verstaan nie.

“Ek voel verskriklik geëerd om deel te wees van hierdie program en ek hoop om my skryfkuns te verbeter sodat ek kan aanhou om die stories van die gemarginaliseerdes in die Kaapstad van vandag te deel.”

Stef Cupido

Stef Cupido woon op Wellington en is die ma van ’n twaalfjarige dogter. Sy is mal oor diere en musiek. “Ek is eerstens ’n skrywer, dan ’n digter. Ek skets ook graag bome en die natuur, maar ek beskou myself as ’n amateur.”

Sy konsentreer tans op die skryf van kortverhale, die digkuns en veral die haikoevorm. “Ek het in 2018 – toe ek besluit het om voltyds te skryf – verlief geraak op die haikoe. Ek het toe Falling poems gestig, ’n kollektief wat digkuns in al sy vorme bekendstel. Die projek is op Nelson Mandela-dag, 18 Julie 2020, met die Illustrated haiku collage about social distance & corona virus geloods.

“Toe ek die nuus ontvang dat ek vir die Kommadagga-slypskool gekies is, was ek so geskok! Ek was by die internetkafee en het my hande op my gesig gesit van blydskap! Ek het net my kop bly skud en die mense om my het seker gedink ek het bejossie geraak!”

Stef wil die nuwe stories diep binne-in haarself ontdek en is bly oor die geleentheid om medeskrywers te ontmoet en gesprekke te hê met mense met ink in hul bloed. “Hierdie projek bring vir my meer selfvertroue; ek hoef nie meer te twyfel nie.”

Sandile Ntuli

Sandile Ntuli beskryf homself as ’n aktiewe dromer: “Ek glo daarin om my drome na te jaag eerder as om passief te kyk hoe hulle by my verbydryf.”

Hy het ’n tweelingbroer, Andile, en hulle is 28 jaar gelede in Emalahleni in Mpumalanga gebore. “Ek lees Engelse nuus tussen 12h00 en 3h00 in die middag en is medeaanbieder van die aktualiteitsprogram The ego trip gedurende die week op die UJ-kampus se radiostasie.”

Sandile wissel met gemak tussen fiksie en nie-fiksie en sy meningstukke oor verskeie onderwerpe verskyn in The Star, The Citizen, die Sowetan en die Mail & Guardian. Sommige van sy stories is in Drum gepubliseer.

Hy het ’n nasionale diploma in kleinsakebestuur en ’n BTech graad in bestuursdienste aan die Universiteit van Johannesburg verwerf. “Ek is ’n onverskrokke Leo, leer op die oomblik Sjinees en skryf graag in my vrye tyd. Wanneer ek my pen neersit, tel ek ’n kombuislepel op. Johannesburg is my huidige hartland.”

Om gekies te word om deel te neem aan die Kommadagga-slypskool is ’n droom wat waar geword het. “Dis ’n bevestiging van my reg om te droom en te skryf soos wat ek skryf.” Dit het hom letterlik ’n paar dae geneem om die nuus te verwerk dat sy aansoek aanvaar is. Die geleentheid om ander skrywers te ontmoet wat ook dieselfde vuur het wat hulle in die nag wakker hou omdat hulle ook so baie het om oor te skryf, is kosbaar.

Hy gryp die geleentheid aan om saam met Rachelle Greeff te werk en deur haar gementor te word, en om sodoende sy skryfgereedskapskassie aan te vul. “Daar is fiksie en nie-fiksie wat wag om deur my geskryf te word – draaiboeke vir die radio, televisie en drama wat nog net in my kop bestaan.”

Helena Troskie

Net voordat Helena Troskie die goeie nuus ontvang het dat sy vir die Kommadagga-slypskool gekeur is, was haar kleinkinders vir ’n week lank by haar op Jeffreysbaai. Dit het gemaak dat sy die boodskap eers twee dae nadat dit aan haar gestuur is, gelees het. “Dié oggend word ek heerlik stil en alleen wakker. Vir die eerste keer in dae dink ek aan die slypskool. So met die opstaan gryp ek my bril en my selfoon op pad badkamer toe. Daar is toe ’n e-pos wat begin met: ‘Baie geluk! Ek hoop ek bring goeie nuus op die Maandag!’”

Sy het eers ’n wenronde deur die huis gehardloop en het heeltyd, hand-onder-die-ken, ’n verbaasde kragwoordjie gefluister.

Toe sy bietjie tot verhaal kom, het sy Theo Kemp se e-pos behoorlik gelees en toe summier vyf mense gebel om haar opgewondenheid uit te basuin.

Helena het op ’n skaapplaas buite Jansenville grootgeword, maar het ook in lande soos Uganda en Ysland gewoon en gewerk. Sy skryf kortverhale en kontreistories.