Die Jakes Gerwel Stigting is oudergewoonte weer by die Suidoosterfees. Vanjaar word dit op 13 en 14 November by die kykNET Atlantic Studios in Montagu Gardens aangebied. Alle aanbiedings is 60 minute lank en gratis. Daar is egter, as gevolg van die Covid 19-pandemie, beperkte sitplekke. Bespreek vandag nog by Francois Abrahams – Francois.Abrahams@media24.com om teleurstelling te voorkom.
Die volledige program:

Donker drif
Met Deon Meyer en Elna van der Merwe
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 13 November 10:00
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis
Iemand skiet vir adjudant-offisier Milo April by die Kaapse Waterfront. Koelbloedig, helder oordag. Is ’n senior SAPD-offisier daarvoor verantwoordelik? En hou dit verband met geheimsinnige briewe wat die geskorste Valke-speurders Bennie Griessel en Vaughn Cupido ontvang het? As jy Griessel en Cupido is, doen jy wat jy moet. Kom luister hoe gesels Deon Meyer oor sy jongste trefferboek.

Onder een dak
Met Dana Snyman en Laetitia Pople
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 13 November 11:30
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis
Die geliefde skrywer Dana Snyman deel sy 100 gunstelingstories in ’n buksie van ’n bundel, net betyds vir Kersfees – van ou familiestories, reisverhale uit Dana se Weg!-dae en ware lewensdrama uit sy Huisgenoot-dae, tot intieme verhale uit sy meer onlangse werk. Dana laat jou met nuwe oë na gebeure en mense om jou kyk.

Nelson Mandela – Die storie agter gevangene 913 se vrylating
Met Riaan de Villiers en Jan-Jan Joubert
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 13 November 13:00
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis
Die onvertelde verhaal agter die vrylating van Nelson Mandela, soos geopenbaar in voorheen geheime rekords. Kobie Coetsee, destydse minister van justisie, het obsessief ’n geheime argief op “Prisonier 913” gehou, waaruit die skrywers – ’n historikus en ’n joernalis – hierdie verhaal kon put. Hier is geskiedenis soos dit werklik gebeur het, in teenstelling met hoe dit tot nou toe uitgebeeld is, selfs in geskrifte deur Mandela self. ’n Fassinerende gesprek.

Die verlore seun vannie Gaatjie
Met Ivor Swartz en Frazer Barry
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 13 November 14:30
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis
“Gaatjie-kinders word mos nie gekies nie.” Ivor Swartz kom van die Gaatjie in Grabouw, ’n plek sonder hoop. Sy pa is vroeg dood en sy ma maak hom en sy sibbe alleen groot. Hulle oudste broer, hul selfaangestelde “oppasser”, terroriseer die gesin. Een aand besluit Ivor hy kan net nie meer nie. Hy en sy vriend neem ’n vreeslike besluit wat sy lewe ingrypend verander. Dié aangrypende verhaal, eerlik vertel deur Ivor self, sal jou aan die hart ruk en verwonderd laat.

Vers en vrou
Met Diana Ferrus, Shirmoney Rhode, Antjie Krog, Truise Prinsloo en Nèlleke de Jager
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 13 November 16:00
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis
Vers & Vrou is ’n versameling gedigte oor vroue, deur vroue, vir vroue – en vir dié wat met vroue leef. Dit gaan oor beroepsvroue en huisvroue, verliefde, geliefde en ontnugterde vroue, vroue met kinders en sonder kinders, vroue wat in die kalklig staan en vroue wat deur grense breek. Kom luister hoe van hierdie digters uit hul werke voorlees en daaroor gesels.

Faizel en die sterre
Met Rafiek Mammon en Diaan Lawrenson
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 14 November 10:00
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis
Faizel wou nog altyd net skitter, soos die sterre waaroor hy so dol is. Dis die dag voor sy vyfde verjaarsdag. Vir hom is dit ’n gewone dag. Hy speel pop met sy ouer suster, Fatima, en help met graagte sy ma, Shamiela, met die wasgoed. Maar wat van sy norse pa wat altyd iets te sê het omdat Faizel “so” is? En wat presies bedoel sy pa met die woord “so”? Wat is in die toegedraaide geskenk waarmee sy ouers hom die volgende oggend, op sy verjaarsdag, verras? En wat van sy toekoms? Sal sy droom waar word om te skitter soos ’n ster?

Pienk ceramic hondjies
Met Ryan Pedro en Alfred Schaffer
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 14 November 11:30
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis
In Ryan Pedro se debuutbundel kom ’n sterk nuwe stem aan die woord in roerende gedigte wat dikwels uit die oogpunt van ’n bruin seun op ’n plattelandse dorp aangebied word. Die kompleksiteite van identiteit, ras, klas en opvoeding word ondersoek deur dié seun se beweging tussen verskillende wêrelde binne sy familie en binne die kleindorpse opset. Dit word in die taalgebruik in die bundel weerspieël deur ’n wisseling tussen variëteite. ’n Onderverteenwoordigde ervaringswêreld word oopgeskryf.

Grendeltyd in woorde
Met Sara Jayne King, Kelly-Eve Koopman, Jonathan Ancer en Tracy Going
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 14 November 13:00
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis
In Lockdown Collection deel verskeie skrywers hulle menings oor die gewraakte Covid-19-virus wat die hele wêreld op sy kop gedraai het. Dié historiese boek kyk na die emosionele, spirituele en selfs humoristiese aspekte van die gevreesde pandemie wat soos ’n veldbrand versprei.

Skepsel
Met Willem Anker en Tertius Kapp
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 14 November 14:30
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis
“Skepsel is ’n roman wat ’n mens treiter en verbaas en verontrus en van vreemde dinge leer.” So skryf SJ Naude oor die multibekroonde skrywer, Willem Anker, se nuutste roman. Kom luister hoe Anker – wat onlangs ook op die langlys vir die International Booker-prys was – gesels oor Skepsel met sy interessante vertakkings.