Die ontwikkeling en bevordering van jong talent is die erns van beide die Jakes Gerwel Stigting en die Suidoosterfees. Dit is om hierdie rede dat dié twee organisasies vanjaar hande neem om deur die fees se bestaande Jong Sterre-projek die kans aan opkomende dramaturge te bied om onder mentorskap aan hul skryfwerk te skaaf.
Dramaturge wat aan die begin van hul loopbaan staan, word uitgenooi om teen 5 Julie 2019 hul nuutgeskrewe dramatekste, of ‘n uittreksel daaruit, tesame met ’n kort CV, te e-pos na brahams by die feeskantoor by Francois.Abrahams@media24.com. Geen bestaande werk wat reeds opgevoer is, sal oorweeg word nie.
Daarna sal ’n kortlys op 19 Julie bekend gemaak word en die verkose kunstenaars kry dan die geleentheid om hul ingeskrewe tekste aan ’n paneel van teaterkenners in die Artscape-kunstesentrum op 1 en 2 Augustus in Kaapstad voor te lê.
Die suksesvolle kandidate word op 5 Augustus aangewys en sal die geleentheid gebied word om vir die tydperk vanaf 4 tot 25 Oktober 2019 in die Jakes Gerwel Stigting se Paulet-skrywershuis in Somerset-Oos in die Oos-Kaap te skryf. Hierdie sjarmante en ouwêreldse huis met sy ruim kamers, leefvertrekke en lowergroen tuin, bied die ideale omgewing om onverstoord kreatief te kan skryf.
Amy Jephta – gerekende dramaturg wat onder meer bekend is vir die bekroonde toneelstuk Kristalvlakte – sal as die mentor optree. Die reis- en verblyfkostes van die jong skrywers sal deur die Jakes Gerwel Stigting gedek word en die Suidoosterfees sal die geleentheid bied dat die werke na afloop van die mentorskapprogram op die planke gebring kan word.
Met hierdie projek word die passie van wyle professor Jakes Gerwel voortgesit deur onderskraging en mentorskap te bied aan talentvolle individue wat andersins nie die geleentheid daartoe sou gehad het nie. Gerwel was instrumenteel in die totstandkoming van die Suidoosterfees wat inklusiwiteit in die kunste bevorder. Die Stigting is op sy beurt in die lewe geroep met die doel om die nalatenskap van Gerwel – wat uitgeblink het as opvoeder, bevryder, beskermheer van die kunste en besigheidsman – deur relevante projekte verder uit te bou. Gerwel se geliefde Paulet-huis is na sy dood deur sy weduwee, mev Phoebé Gerwel, aan die stigting geskenk met die doel om dit as skrywershuis in te rig.
Die Suidoosterfees vind vanjaar plaas vanaf 25 April tot 1 Mei. Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.suidoosterfees.co.za.
Navrae rakende die projek kan gerig word aan Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, by theo@jgf.org.za.
Foto: www.drama.uct.ac.za