Jong dramaturge aangewys vir Jong Sterre Projek

Die Jakes Gerwel Stigting en die Suidoosterfees ontwikkel die talent van ontluikende dramaturge deur hul gesamentlike Jong Sterre Projek, ’n intensiewe mentorskapprogram wat oor drie weke strek en in die Stigting se skrywershuis op Somerset-Oos aangebied word. Alle reis- en verblyfkostes, asook etes en mentorskapfooie word deur die Jakes Gerwel Stigting gedek.

Dit is die tweede jaar wat hierdie program aangebied word en vanjaar is die mentor die bekende akteur en dramaturg Abduragman Adams. Naas die mentorskapprogram sal die opkomende dramaturge ook die geleentheid kry om hulle produksies tydens die Suidoosterfees in 2021 op die planke te bring. Hierdie verdere ontwikkelingskoste word deur NATi (die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief) en Kunstekaap gedek.

Die organiseerders het oor die vyftig Afrikaanse en Engelse aansoeke ontvang en het ’n kortlys van veertien belowende kandidate opgetrek. Tydens die daaropvolgende voorleggingsgeleentheid by die Kunstekaap was die paneel beoordelaars so beïndruk deur die kwaliteit van hierdie aansoeke dat sewe deelnemers (teenoor die vyf van verlede jaar) aangewys is. 

Vanjaar se wenners sluit die volgende jong dramaturge in: Andrico Goosen, Carlo Daniels, Fabian Rainers, Gerhard Visagie, Margo Kotze, Misha Krynauw en Xolisa Ngubelanga.

Andrico Goosen het hom reeds in sy nagraadse studies aan die Universiteit Stellenbosch toegespits op kontemporêre Suid-Afrikaanse poppe- en voorwerpteater. In 2016 begin hy saam met ander kunstenaars die toneelgeselskap The Loft Puppet Company wat kinder- sowel as volwasse gehore teiken. In 2019 is die geselskap se Beloofde Land | Promised Land benoem vir ’n kykNET Fiësta-toekenning vir beste teaterontwerp. Ander optredes in poppespel sluit Janni Younge se Firebird in asook Huppelkind wat in 2020 benoem is vir ’n Woordtrofee vir beste ensemble. Andrico is ook te sien as akteur in film- en televisieproduksies soos Boland Moorde, Sara se Geheim, Kanarie en Die Spreeus. In 2017-2018 het hy deelgeneem aan die Debuutprogram van Business and Arts South Africa (BASA) en verwerf hy ook ’n bedryfsertifikaat in bategebaseerde gemeenskapsontwikkeling.

Carlo Daniels het in Mitchellsplein grootgeword waar hy informeel op straathoeke begin optree en sing het. In 2007 het Carlo se professionele loopbaan by Madame Zingara afgeskop met baie teaterproduksies wat intussen daarop gevolg het. In 2011 het Carlo in sy eerste David Kramer musiekblyspel Some like it vrot in die Baxter-teater opgetree en daarna het ander Kramer-produksies gevolg soos Kat and the Kings en District Six Kanala. In 2016 het Carlo met Hansworse sonder Grense (CWBSA) saam getoer om voor minderbevoorregte kinders op te tree. Hy het opleiding in fisiese teater ontvang by die Magnet-teater en het in 2019 gegradueer. He is genomineer vir ’n Fleur de Cap-toekenning vir sy solo-optrede in Klippies van die grond.

Fabian Rainers is afkomstig van Port Elizabeth in die Oos-Kaap. Fabian is ’n skrywer, storieverteller, uitsaaier en inhoudskurator. Hy het ’n BA-graad in geesteswetenskappe van die Universiteit van Pretoria en het ’n liefde vir alles wat met kultuur en tegnologie te make het. As ’n vader van twee en ’n mensgerigte persoon, werk Fabian aktief daarvoor om Suid-Afrika se unieke en ryke inheemse kennissisteme te bevorder en glo hy aan die vertel van ons land se eiesoortige stories.

Gerhard Visagie is gebore in Durban, het skoolgegaan in die Paarl, sy studies voltooi in Stellenbosch en gee tans Engels in Fraserburg waar hy alombekend geword het as “Sir”. Hy het ʼn fyn aanvoeling vir kinders en die kompleksiteite in hul lewens en is juis daarom intens betrokke by die bevordering van letterkunde en toneel in die Fraserburg-gemeenskap. As voorsitter van die reëlingskomitee van die jaarlikse Fraserburg Logan Toneelfees gebeure in skoletoneel iets wat hom elke slag opnuut meevoer: om te beleef hoe ʼn skoolproduksie deur die klankgrens breek, is iets besonders.

Margo Kotze het in 2018 haar graad in drama- en toneelkunde aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf en in 2019 voltooi sy ’n honneurs in skryfkuns. Haar voorgraadse fokus op stemkuns en spel het haar goed voorberei vir beide die verhoog en radio as medium. Haar skryfprojekte sluit teaterproduksies soos Koek en Tert, MOS en Ode aan ’n One Man Show in, terwyl haar radiowerk vir RSG Luister en leer en Takalani Sesame insluit. Margo is verder veral geïnteresseerd in komedie en klug en put haar inspirasie uit die werklikheid. Margo glo dat, waar daar mense is, is daar stories en waar daar stories is, is daar teater.

Misha Krynauw is ’n ywerige kopieskrywer en kunsresensent van Kaapstad. In haar kreatiewe werk poog sy om die bril waardeur die bruin queer-gemeenskap na hulself kyk asook die persepsie wat ander het van hierdie groep te verander. Sy werk tans aan ’n drama met die titel The Infinite Woman waarin die hoofkarakter, Anna, haar pad moet vind deur trauma wat oor generasies strek, geforseerde assimilasie asook ander aanslagte op haar identiteit en pogings om deur die siklus van armoede te breek sodat sy die “anderkant” kan bereik waar haar hoop en drome is.

Xolisa Ngubelanga is ’n skrywer en teatermaker wat sy drama- en taalvaardighede toepas in sy werk as jeugontwikkelaar en -fasiliteerder. Xolisa se werk by Pearston Hoërskool het daartoe bygedra dat hierdie skool in die Karoo hul matriekslaagsyfer binne ’n periode van twee jaar met ongeveer 45% verhoog het tot 62% in 2019. Xolisa se dramastukke sluit die volgende in: Flamebook waarvoor hy die Standard Bank Ovasie-toekenning in 2017 ontvang het, Dinner with Bantu wat die nalatenskap van Steve Biko gedenk en Pieces of an African Drum wat vrae oor Afrika-identiteit en die noodsaaklikheid om geld te verdien vir oorlewing ondersoek. Hy het sy meestersgraad in kreatiewe skryfkuns by Rhodes Universiteit in 2019 voltooi. Hy werk op die oomblik aan It’s My Baby wat afspeel op ’n Karooplaas en wat die kompleksiteit van verhoudinge in ’n brandende konteks van isolasie en misdaad aan die lig stel.