Frazer Barry van Tribal Echo en Zolani Mahola, voormalige hoofsanger van Freshlyground, neem van 12 tot 26 September 2022 ontluikende sangers en liedjieskrywers onder hande tydens die jaarlikse liriekskryfmentorskapprogram wat deur die Jakes Gerwel Stigting en die Suidoosterfees aangebied word.
Name van die kandidate wat vanjaar vir deelname gekwalifiseer het, is pas aangekondig. Hulle is Carlo Fortune, Kele M, Kerischne Pheiffer, Noxolo Kheswa en Sphamandla Dlakwe. Dié vyf sal deur Barry en Mahola touwys gemaak word in die fyner kuns van liedjieskryf en professionele verhoogoptrede.
Dié vyf talentvolle musikante kom uit alle uithoeke van die land. Carlo Fortune is ’n Kapenaar in murg en been, en hy werk in die onderhoud-afdeling van Good Hope Hoërskool in die Moederstad. Die musiekskryfgogga het vir Carlo gebyt toe hy ’n kitaar op sy 26ste verjaarsdag present gekry het. Vandag is hy die hoofsanger van die orkes The West Coast Wailers.
Kele M van Vosloorus in Johannesburg is besig om opgang te maak as ’n gospelsanger. Sy het haar eie YouTube-kanaal waar sy liedjies deur bekende internasionale gospelkunstenaars vertolk. Kele het ’n B-graad in sosiale wetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad behaal, asook ’n nagraadse diploma in bestuur.
Kerischnie Pheiffer is op Ceres gebore, en van jongs af koester sy die droom om eendag ’n professionele rap-kunstenaar te word. Sy versamel tatoeëermerke en is mal oor lees, dans, teken en klere-ontwerp. Dinge het vir Kerischnie in plek geval toe Breimasjien haar talent raakgesien het.
Noxolo Kheswa sing Afro-pop en soul, en sy is ook ’n aktrise, aanbieder en entrepreneur. Sy is in KwaZulu-Natal gebore en woon nou in Gauteng. Noxolo se ouers het haar op ’n jong leeftyd ontval, en dié gebeurtenis het ’n enorme impak op haar lewe gehad, maar musiek het sedertdien vir haar ’n bron van troos en inspirasie geword.
Sphamandla (Spa) Dlakwe is ’n musikant van Alexandria en woon tans in Gqeberha in die Oos-Kaap. Hy het ’n graad in musiek by Rhodes-Universiteit verwerf. Spha sing en skryf meestal in isiXhosa, hoofsaaklik oor die liefde en die lewe. Hy het onlangs sy kortalbum Inqwelo vrygestel.
Die deelnemers en hul mentors sal in September vir twee weke in die Oos-Kaap in Paulet Huis, die Jakes Gerwel Stigting se skrywershuis op Somerset-Oos, tuisgaan. Nuwe, oorspronklike materiaal sal hier geskep en afgerond word, en hulle sal ‘n splinternuwe musiekproduksie saam met Barry en Mahola skep wat in 2023 tydens die Suidoosterfees-op die planke gaan wees.