Foto's: Jakes Gerwel-herdenkingsviering

Op 28 November 2017 – vyf jaar na die dood van Jakes Gerwel – is ’n besonderse geleentheid in die Centre for the Book in Kaapstad aangebied. Dié aand is bygewoon deur nagenoeg 200 mense – en het bestaan uit ’n paneelbespreking met die onderwerp, “Hoop vir die geliefde land”. Die bekroonde skrywer, Pumla Gobodo-Madikizela, dramaturg, Amy Jephta en die teoloog, Demaine Solomons, was die gaste. Martelize Brink, RSG-aanbieder, het die gesprek gelei. Die aand is aangevul met Sandra Prinsloo wat van Gerwel se gunsteling NP van Wyk-gedigte voorgelees het; David Kramer het die gehoor meegevoer met onder meer “Skipskop”. Verder is die komponis, Shane Woordborne se kwintet, “Kommadagga”, wat spesiaal gekomponeer is ter nagedagtenis aan Jakes Gerwel, uitgevoer. Collin en Hein Gerwel het onderskeidelik hulde gebring aan ’n geliefde broer en pa.