Versindaba Gedigkompetisie

Op 11 Junie, sou Van Wyk Louw 120 jaar oud gewees het.
Om hierdie geleentheid te vier bied Versindaba, in samewerking met die Sentrum vir Digkuns van die Louw Huis en Museum Sutherland, ’n geleentheid aan digters om in gesprek met hom en sy digkuns te tree, en/of met sy grootwordwêreld na aanleiding van 20 Roggeveldse foto’s.
Hoewel die digterlike viering van Louw se literêre nalatenskap die hoofdoel van dié herdenkingsuitnodiging is, sal daar ook ’n weninskrywing vasgestel word – behels dit dus ook ’n digkunskompetisie. Die wenner ontvang ’n beldjie van Strijdom van der Merwe (sien hieronder), geskenk deur die Louw Huis en Museum. Daar is ook verskeie geskenkpakkete van die Louw Huis en Museum Sutherland en ander skenkers. Skenkings sal bygewerk word soos hulle ontvang word:
- Wenner ontvang ’n beeldjie van die bekende kunstenaar Strijdom van der Merwe.
- Rogge Cloof skenk wyn ter waarde van ongeveer R4 200.
- Versindaba skenk ’n kontantbedrag.
N.P. van Wyk Louw is op 11 Junie 1906 in ’n dorpshuis op Sutherland, in die Roggeveldse Karoo, gebore. Die omgewing speel ’n belangrike rol in sy vormingsjare as latere digter; nie net die werf van die geboortehuis en die dorpslewe nie, maar ook die landelike omgewing weerklink in sy poësie. Daardie wêreld is intiem ervaar deur hom, ook tesame met sy jonger digterbroer W.E.G. Louw, op hulle oupa se plaas, Gunsfontein, in die Sutherlanddistrik. Die Roggeveld boei met sy klippe, plante en magtige, haas metafisiese landskappe en sterretranse, maar is ook deurspek met stories en rympies.
Die Roggeveldse foto’s wat hierdie uitnodiging vergesel, bedoel om gedigbydraes oor daardie kontrei, sy dinge en mense, te inspireer, is deur amateurfotograwe geneem. Dit verteenwoordig intuïtiewe pogings om iets van daardie sonderlinge werklikheid, wat so lewendig in dele van Van Wyk Louw se digkuns figureer, weer te gee. Klik hier om Roggevelde foto’ te sien.
Sluitingsdatum: 15 November 2026.