Skryfnet: ’n gedig-werkswinkel in die Kaap

Het jy ’n kop vol gedagtes en ’n liefde vir mooi woorde? Droom jy daarvan om jou eie gedigte te skryf, maar weet nie mooi waar om te begin nie? Of skryf jy reeds gedigte en wil jy jou vaardighede verder opskerp? Dan is Skryfnet se heel eerste Skryf ’n gedig-werkswinkel net vir jou!
Hierdie opwindende eendagwerkswinkel, wat in die Kaap aangebied word, is ideaal vir aspirant-digters wat hul vaardighede wil slyp en hul eie stem op papier wil vind. Van die eerste vonk van ’n idee tot ’n afgeronde gedig: dié werkswinkel wys jou hoe om gedagtes en gevoelens in betekenisvolle digkuns te omskep. Jy gaan met taal, beelde, ritme en ander bestanddele van goeie poësie eksperimenteer en ontdek hoe om jou woorde meer trefkrag te gee.
En wie beter om jou op dié reis te begelei as twee ervare kenners van die Afrikaanse woord?
- Prof. Bernard Odendaal was 32 jaar lank ’n letterkunde- en skryfkunsdosent en is self ’n digter, liriekeskrywer, vertaler en gerekende letterkundekundige. Hy het twee digbundels gepubliseer en reeds sowat 200 boekresensies en 75 vakkundige artikels en boekbydraes gelewer.
- Fourie Botha is ’n Afrikaanse digter en uitgewer, met drie digbundels op sy kerfstok: Donkerkamer, Krap uit die see en Kolam. Sy werk is onder meer opgeneem in Nuwe Stemme en Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Hy is ook die uitgewer van Painted Dog Press.
Hierdie is jou kans om ’n dag lank in die wêreld van poësie te ontsnap, nuwe vaardighede aan te leer en jou verbeelding vrye teuels te gee. Of jy nou nog net droom om te dig of reeds jou eerste verse geskryf het – behoort jy beslis nie hierdie geleentheid mis te loop nie.
- Datum: 14 November 2026
- Plek: Akademia se Paarlkampus in die Kaap
- Tyd: 09:00 tot 15:00
- Koste: R950 per persoon, wat ’n ligte middagete insluit
Vir enige navrae kontak Annelien van Basten by navrae@skryfnet.co.za