Die Jakes Gerwel Stigting bied tydens die Suidoosterfees vanaf 25 April tot 1 Mei ’n reeks gesprekke aan in die Artscape-kunstesentrum in Kaapstad.
Dié reeks word op 25 April afgeskop met die onderwerp “Hoe soomloos is die kunste werklik?” Kabous Meiring sal in gesprek wees met Saartjie Botha, uitvoerende hoof van die US Woordfees en dramaturg, asook Basil Appollis, bekende teatermaker. Brandende vrae wat aansluit by hierdie onderwerp is, sluit in: Hoe lyk die uitvoerende kunste in post-apartheid Suid-Afrika? Spreek die kunste werklik tot ’n diverse en verteenwoordigende gehoor en weerspieël dit ’n getransformeerde samelewing?
In die daaropvolgende gesprek op 26 April, genaamd “Wie is ons en maak dit saak?”, gesels die historikus Bill Nasson, die politieke filosoof, Wilhelm Verwoerd en die skrywer van Sorry, not sorry, Haji Mohamed Dawjee, oor onder meer die invloed wat geskiedenis het op wie is ons, en hoe ons tuis voel met verskillende, getransendeerde identiteite.
In twee gesprekke, op onderskeidelik 27 en 28 April, sal Afrikaans onder die loep geneem word. In “Afrkaans – ’n taal vir almal”, wat deur die Afrikaanse Taalraad aangebied word, sal daar gekyk word na die struikelblokke wat verhoed dat jongmense Afrikaans wil vier en koester. Baie jongmense wat van huis uit Afrikaans is, sê dat hulle meer geneë voel tot Engels as Afrikaans. Hierdie kwessie word bespreek deur Samuel Minnaar, Esra Plaatjies en Carla Barnard, met die bekende radio- en televisiepersoonlikheid, Tracey Lange, as die gespreksleier.
In aansluiting hierby word die vraag gestel na die inklusiwiteit van Afrikaans in die gesprek, “Die volle storie van Afrikaans”. Ingewikkelde sake soos die rol wat die bruin gemeenskap moet speel in die optekening van Afrikaans en hoe ons die siening van Afrikaans as ’n wit taal behoort te verruim, word verder bespreek. Anastasia de Vries, skrywer en akademikus, die taalaktivis, Willa Boezak, en Wannie Carsten, taalkundige en mede-skrywer van Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika, sal met Michael le Cordeur, hoof van die Departement Kurrikulumstudie aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch, hieroor gesels.
Die Jakes Gerwel-gespreksreeks begin daagliks om 10h00 en word gratis aangebied. Ligte verversings word verskaf tydens die gesprekke. RSVP by Theo Kemp – theo@jgf.org.za