Diskoersgesprekke
TEMA 1: HOE SOOMLOOS IS DIE KUNSTE WERKLIK?
Met: o.a. Saartjie Botha en Basil Appollis | Gespreksleier: Kabous Meiring | Taal: Afrikaans
Venue: Artscape-kykNET & Kie-iSibaya | Gratis
Datum en tyd: Donderdag 25 April 2019 | 10:00 – 11:00
Hoe lyk die uitvoerende kunste in post-apartheid Suid-Afrika? Spreek die kunste werklik tot ’n diverse en verteenwoordigende gehoor en weerspieël dit ’n getransformeerde samelewing? Wat is die uitdagings van die bedryf en hoe kan ons dit aanspreek? Kom gesels saam oor jou ervaring van die kunste.
TEMA 2: WIE IS ONS EN MAAK DIT SAAK?
Met: Bill Nasson, Willem Verwoerd en Haji Dawjee | Gespreksleier: Heindrich Wyngaard | Taal: Afrikaans
Venue: Artscape-kykNET & Kie-iSibaya | Gratis
Datum en tyd: Vrydag 26 April 2019 | 10:00 – 11:00
Ons voel tuis met verskillende, getransendeerde identiteite, al druk ons mekaar maklik in boksies. Of is ons werklik so bevry van identiteit? Wat is die invloed van geskiedenis op wie ons is, en hoe leef ons vorentoe in die Suid-Afrikaanse droom van ’n reënboognasie.
TEMA 3: AFRIKAANS – ’N TAAL VIR ALMAL?
Aangebied deur die Afrikaanse Taalraad
Met: Samuel Minnaar, Esra Plaatjies en Carla Barnard | Gespreksleier: Tracey Lange | Taal: Afrikaans
Venue: Artscape-kykNET & Kie-iSibaya | Gratis
Datum en tyd: Saterdag 27 April 2019 | 10:00 – 11:00
Baie jongmense wat van huis uit Afrikaans is, sê dat hulle meer geneë voel tot Engels as Afrikaans. Wat is die struikelblokke wat verhoed dat jongmense Afrikaans wil vier en koester? Wat is nodig om te verseker dat jongmense met vrymoedigheid en selfvertroue tot Afrikaans se feestafel toetree en daar hul regmatige plek inneem? Is daar ’n spesifieke uitrusting wat jongmense vir die Afrikaanse feestafel moet aantrek? Verder: Wat kan gedoen word om studente wat die posisie van Afrikaans wil versterk, te ondersteun? Die gesprek sal ʼn geleentheid bied om kennis te neem van die jeug se opinies en houdings oor Afrikaans, ʼn kwessie wat Afrikaans se toekoms as leef- en leertaal ten nouste raak.
TEMA 4: DIE VOLLE STORIE VAN AFRIKAANS
Met: Anastasia de Vries, Willa Boezak en Wannie Carstens | Gespreksleier: Michael le Cordeur | Taal: Afrikaans
Venue: Artscape-kykNET & Kie-iSibaya | Gratis
Datum en tyd: Maandag 29 April 2019 | 10:00 – 11:00
Hoe inklusief is Afrikaans se storie werklik? Wat is die rol wat die bruin gemeenskap moet speel in die opteken van Afrikaans? Wat kan ons doen om dit beter te maak?
Hierdie vrae kom aan die bod in die boek Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika (deel 2) deur Wannie Carstens en Edith Raidt. Daar word gepraat oor hierdie en ook ander vrae.
Boekgesprekke
PIETER-DIRK UYS – WEERKLINK VAN ’N WANKLANK
Met: Pieter-Dirk Uys | Gespreksleier: Amanda Botha | Taal: Afrikaans
Venue: Artscape-Fluweelkamer | Gratis
Datum en tyd: Donderdag 25 April 2019 | 12:00 – 13:00
In dié roerende memoir tree die mens agter die Suid-Afrikaanse ikoon vir die eerste keer te voorskyn. Pieter-Dirk
Uys se openhartige vertelling sal jou soms in trane hê, net om jou dan weer te laat skaterlag. Hy het al memoires gepubliseer, Elections & Erections (2002), oor Vigs, en Between the Devil and the Deep (2005), oor sy teaterloopbaan. Maar hy het nog nooit só eerlik oor sy eie familie en sy kinderjare gepraat nie: Sy moeilike, musikaal gedrewe pa, sy briljante, geheimsinnige ma, sy suster, die pianiswonderkind, en Sannie Abader, wat die Uys-huishouding by “Sonskyn”, te Homesteadweg 10, Pinelands, regeer het en “Pietertjie” se tweede moeder was. Dan is daar sy Paarlse ouma wat hom neem om by die Verwoerds te gaan kuier, Oma van Duitsland wat strudel bak, sy vriendskap met Sophia Loren, die geboorte van Evita Bezuidenhout, en die vreugdes en hartseer van sy merkwaardige lewe.
OM TE SKRYF OOR DIE FLATS
Met: Chase Rhys, Charles Abrahams, Sylvia Walker | Gespreksleier: Heindrich Wyngaard | Taal: Afrikaans
Venue: Artscape-Fluweelkamer | Gratis
Datum en tyd: Vrydag 26 April | 12:00 – 13:00
Chase Rhys, die eerste wenner van die Adam & Rosalie Small-toneelprys in 2018, verras met sy toneelstuk, Kinnes, wat nou ook as novelle gepubliseer is. Hy skryf oor die mense van Jurassic Park op die Kaapse Vlakte – van Anwaar ‘Ahnie’ Brandt wat ’n ekstra in die film GangStar was, die Butcher Boys en ’n Cape Kardashian. Charles Abrahams se boek, Class Action, bekyk ook die Kaapse Vlakte en handel onder meer oor die invloed wat die destydse gedwonge verskuiwings na die Kaapse Vlakte op mense se identiteite gehad het. Op haar beurt, skryf Sylvia Walker in Dealing in Death. Ellen Pakkies and a community’s struggle with tik, oor verslawing en magtelose ouers. Bendes, geweld, dwelms – al die dinge waaroor mense praat as hulle van die Kaapse Vlakte praat. Hoe skryf ’n mens oor die Vlakte? Hoe spring jy die slaggate van stereotipes vry?
KAAP, KERRIE, KOESISTERS EN SEISOENKOS
Met: Fatima, Gadija Sydow en Aletta Lintvelt | Gespreksleier: Anel Potgieter | Taal: Afrikaans
Venue: Artscape-kykNET & Kie-iSibaya | Gratis
Datum en tyd: Saterdag 2 April | 12:00 – 13:00
Die Kaap is sinoniem met kerrie en koesisters – Soos Fatima en Gadija in hul nuwe resepteboek opdis. Aletta Lintvelt se Seisoenkos gaan weer oor daardie vars bestanddele wat jy in elke seisoen mee kan kook. Kom luister en lek jou lippe af vir hierdie heerlike kosstories.