2027 Reinet Nagtegaal-teksprys

Inskrywings vir die gesogte Reinet Nagtegaal-teksprys vir 2027 word ingewag en sluit 15 Januarie 2027. Dit is die grootste kompetisie van sy soort in Suid-Afrika met aantreklike pryse op die spel. Die prys word moontlik gemaak deur Law for All en in samewerking met die Toyota Stellenbosch Woordfees aangebied. Die wenner ontvang R120 000, mentorskap en ondersteuning met finale afronding van die teks, asook die moontlikheid van ’n speelvak by die 2027 Toyota Stellenbosch Woordfees. Die twee naaswenners ontvang onderskeidelik R60 000 en R30 000.
Waarna soek die Reinet Nagtegaal-teksprys?
Met die Reinet Nagtegaal-teksprys is die Toyota Stellenbosch Woordfees op soek na nuwe tekste van 60 tot 90 minute lank wat teater as medium vir sosiale impak en kohesie verken, en tradisionele beskouings uitdaag en verruim. ’n Sterk narratief, verhoogmatigheid, ’n eksperimentele benadering en literêre meriete is kriteria wat beoordelaars sal oorweeg.
Met die Toyota Stellenbosch Woordfees-gehoor in gedagte, word ’n premie geplaas op tekste wat ten minste 50% Afrikaans is. Kreatiewe gebruik van meertaligheid word egter sterk aanbeveel. Rolverdelings van hoogstens sewe spelers is nie ’n vereiste nie, maar verhoog die opvoerbaarheid van jou stuk. Dui ook ten minste twee voorkeurregisseurs vir die verhoogstuk in jou inskrywing aan.
Bepalings en voorwaardes:
- Tekste korter as 15 000 woorde sal nie oorweeg word nie, asook nie tekste langer as 20 000 woorde nie.
- Slegs Suid-Afrikaanse burgers mag inskryf.
- Vertalings, verwerkings en herwerkings van bestaande werke, sowel as musiekblyspele en kinderteatertekste, sal nie oorweeg word nie.
- Deelnemers mag slegs een teks vir oorweging instuur. Dit sluit enkelouteur- of gedeelde outeurskap in. Om veelvoudige aansoeke uit te skakel, verskaf asseblief ’n kopie van jou ID.
- Alle tekste moet getik wees in ’n algemeen aanvaarbare templaat vir toneeltekste, lettergrootte 12. Bladsye moet genommer wees.
Vir enige navrae, kontak Candice Jantjies by candice@woordfees.co.za.