Naomi Meyer verwerf haar B.Proc.-graad in 1997 aan die Universiteit van die Vrystaat. In 1999 is sy toegelaat as prokureur van die Hooggeregshof van die Vrystaat. Tussen 2003 en 2009 woon sy in Ierland, waar sy deeltyds vioollesse aanbied en die wenner is van die Duleek Heritage Group se kortverhaalkompetisie met haar verhaal “Water”. Tans is sy ’n senior inhoudsbestuurder by LitNet.
Publikasies uit haar pen sluit in Ruik jy die filmster? (2006), Web (2017) en Seeperde (2023). Seeperde, ’n kinderboek, is voltooi tydens die eerste twee dae van ’n skrywersresidensie by die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis in Somerset-Oos. Van haar kortverhale verskyn in die versamelbundels Hitte (2020), Ingonyama (2021), Die meisie met uitroeptekens in haar oë (2021) en Ver in die wêreld (2023), sowel as in die tydskrifte Huisgenoot en Vrouekeur.
Die manuskrip waaruit Ruik jy die filmster? voortspruit, is in 2005 op die kortlys van die Sanlamprys vir Jeuglektuur, en in 2006 is haar manuskrip Oranje op die kortlys vir die Sanlam/Insig Groot Romanwedstryd. Haar kortverhaal “Groen” haal in 2020 die Law for all-kompetisie se toptien.