Luister na die Jong Sterre tydens die skrywersverblyf

Keanen Engel, Herschelle Benjamin, Du Toit Albertze, Tasneem Daniels en Kanya Viljoen is die eerste groep opkomende dramaturge wat in Paulet Huis in die Oos-Kaap gaan skryf het aan hulle tekste, onder leiding van Amy Jephta. Hierdie projek word aangebied met die ondersteuning van NATi en die Suidoosterfees.

Luister na hulle ervaringe hier.

Du Toit Albertze is ’n dramaturg, regisseur en digter wat al bekroon is met twee Beste Nuweling-toekennings by die Toyota US Woordfees en die KKNK. Die teks waaraan hy sal werk tydens die residensie-program, Kaap, vertel die storie van ‘n jong wit skrywer wie se lewe vervleg word met die lewens van twee eksentrieke bruin Kapenaars. Die skrywer soek na ’n gemeenskap in ‘n verwonde stad, maar moet eers ‘n teaterstuk skryf om geld huis toe te stuur.
Tasneem Daniels, ’n onderwyseres aan Athwood Primêre Skool, het in 2013 ’n kreatiewe skryfprogram aan die Universiteit van die Wes-Kaap voltooi en dis hier waar die idee vir haar stuk Opening Miela’s Box ontstaan het. Hierdie drama handel oor die Kaaps-Maleise kultuur soos wat dit spesifiek deur die Moslem-gemeenskap in Kaapstad beleef word.
Keanen Engel het in 2017 sy honneurs in Drama- en Teaterstudies aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi. Hy was onlangs te sien in die bekroonde teaterstuk Die Gangsters wat by die Toyota US Woordfees en ook die Suidoosterfees gespeel het. Sy beplande dramastuk Slim mense fokus op ’n moederfiguur wat probeer om ’n reeks onverstaanbare gebeure in haar lewe en verlede te ontsyfer met behulp van praktyke wat teenstrydig is met haar geloofsoortuigings.
Herschelle Benjamin is tans besig met sy meestersgraad in Drama- en Teaterstudies aan die Universiteit van Stellenbosch. In 2018 debuteer hy as een van die Kunstekaap se Nuwe Stemme met sy stuk Korreltjie Kop Klong is my Dood. In dieselfde jaar ontvang hy ’n Teksmark-skrywersbeurs van Kunste Onbeperk en NATi asook die Elizabeth MacLennan Internasionale Studiebeurs van die Skotse Universiteite se Internasionale Somerskool (SUISS). Die stuk waaraan Herschelle sal werk, Ons al kind, speel af op ’n klein plattelandse dorpie waar die omgewing deur verskeie plaasmoorde geruk word.
Kanya Viljoen is ook besig met ’n meestersgraad in Drama- en Teaterstudies en wel aan die Universiteit van Kaapstad. Sy het onlangs gedebuteer deur die toneelstuk RAAK by die Vrystaat Kunstefees 2018 op die planke te bring. Dit is as Beste Produksie genomineer en het ook twee KykNET Fiësta-nominasies ontvang. Kanya is verder laasjaar as Beste Opkomende Regisseur deur die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Teater (SATMag) aangewys en is hierdie jaar vir ’n Fleur du Cap Teater-toekenning benoem. Kanya se Die man en die maan vertel deur ’n kombinasie van bewegingsteater en poëtiese monoloog die magiese verhaal van ’n gesin wat deur die maan verskeur word.