Dié NATi Jong Sterre moet jy beslis dophou

Die Suidoosterfees en NATi se Jong Sterre-produksies is die afgelope naweek (21 en 22 November) as leesteater in Kaapstad aangebied. Opkomende dramaturge wat aan dié vlagskip- ontwikkelingsprojek van die fees deelgeneem het, is Tasneem Daniels, Kanya Viljoen, Dianne Albertze, Herschelle Benjamin, Keanen Engel en Stephren Saayman.

Herschelle Benjamin

Herschelle Benjamin het die Jakes Gerwel Stigting se prys vir beste teks ingepalm met sy drama, Die Al Kind. Dié opvoering met Oscar Petersen, Jill Levenberg en Jurgen McEwan, handel oor ’n matriarg wat haar afsloof vir haar gesin. Haar man is sy werk kwyt, en hul enigste seun maak skielik sy opwagting ná jare se studie in die buiteland. Die drama ondersoek die situasie van ouers wat al hulle drome rondom hul kind se geleerdheid bou.

Dianne Albertze

Dianne Albertze het weggestap met die NATi-prys vir naasbeste aanbieding vir Kaap. Albertze het saam met Lee-Ann van Rooi en Faith Kinniar daarin gespeel. Stephren Saayman se Ek, Eva is in 2019 as wenproduksie van die DKES-dramafees aangewys. Robyn September, wat daarin gespeel het, is beloon met die geleentheid om ’n gasverskyning in die kykNET-sepie Suidooster te maak.

Robyn September

Paul Venter, uitvoerende vervaardiger van Suidooster, sê hy is opgewonde oor die nuwe talent. “Die waarde van jong kunstenaars wat saam met gevestigde kunstenaars werk, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Vir ons by Suidooster is dit belangrik om by ontwikkelingsprojekte betrokke te wees, en dit is ’n riem onder die hart dat die Jong Sterre by Atlantic Studios, waar die sepie verfilm word, kon plaasvind.”

Jill Levenberg en Lee-Ann van Rooi, wat ook in Jong Sterre-stukke te sien was, is bekend vir hul rolle in Suidooster.

Die projek is ’n sinergievennootskap tussen die Suidoosterfees, NATi, die Jakes Gerwel Stigting en Artscape. Volgens Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees, is die ontwikkeling van nuwe talent ’n belangrike prioriteit: “Ons is daarom trots dat ons saam met DKES, Stad Kaapstad, kykNET, Atlantic Studios en Homebrew Films hande kon vat om die sukses van die projek te verseker.”

Nog ’n Suidoosterfees-ontwikkelingsprojek is die Talentsoektog-inisiatief, waarvan die volgende rondte op 6 Desember in Kaapstad se Kompanjiestuin plaasvind.

Op 10, 12 en 13 Desember word Deon Meyer en Coenie de Villiers se Karoo Suite 1 en 2 by die Atlantic-inryteater aangebied – in samewerking met KKNK, die Jakes Gerwel Stigting en CTMA. Die produksies val ook binne die ontwikkelingskraal en is gekoppel aan die fees se liriekskryfmentorskapprogram wat met die ondersteuning van die Jakes Gerwel Stigting aangebied word.

Kapenaars kan ook uitsien na opwindende aanbiedinge en piekniekkonserte wat van3 tot 6 Desember in die Kompanjiestuin en by Hoërskool Jan van Riebeeck se Welgemeend plaasvind.

Kaartjies vir vertonings is beskikbaar by Computicket; vir meer inligting, besoek asseblief www.suidoosterfees.co.za.