Gaireyah Fredericks

Gaireyah Fredericks

Gaireyah Fredericks is a boorling van Paarl en begin haar skryfloopbaan in 2012 by die Breytenbach Sentrum in Wellington. Sedert 2012 selfpubliseer sy twaalf bundels. Die eerste twee bundels, wat albei vir die Eugène Marais-prys genomineer is, is Mientjies, ’n bundel wat aan haar ma opgedra is, en Kaaps is Hollands, haar debuut- Kaapse bundel. Na haar 40ste verjaarsdag publiseer sy 40 stories, 40 woorde op 40, ’n outobiografiese boek, en daarna stel sy Ramadaan Chronicles 2017 bekend. Met Hanne innie lig, voete opi grond, die toneelstuk wat ook onder dieselfde titel in boekvorm verskyn het, wen Best Script by die DCAS- provinsale dramafees. Sy neem deel aan die Nal’ibali Story Bosso-kompetisie en wen hier provinsiaal met haar verhaal “Elkeen hetta krakie”. Sedertdien is dié kinderverhaal ook tot ’n poppekas verwerk. Sy publiseer ’n fotoboek, H2O, Poetry Calendar, en Mettie maan gepla, ’n aandadige bundel wat die psige van die mens aanspreek. Haar nuutste bundel, Echoes, wat onlangs by die Poetry in McGregor-fees bekendgestel is, het sy saam met haar suster, haar oom en haar twee niggies geskryf. Dan stel sy weer ’n Ramadaan Chronicles 2023 bymekaar, sowel as It’s been a minute …, ’n bundel oor liefde as Islamitiese vrou in al die aspekte wat sy dit beleef. Hierdie bundel ontbloot die stilswye van soveel Moslemvroue en daag die konvensies uit wat in gemeenskappe ontstaan. Tans is sy besig om die bekendstelling van Da’s nog soveel meer, ’n bundel wat sy saam met haar skryf- en fotografiestudente saamgestel het, vir 2024 te beplan.

By die Wellingtonse Stasiefees 2019 word ’n eretoekenning aan haar oorhandig vir haar bydrae tot die bevordering van Kaaps. Sy word dikwels uitgenooi na verskeie literêre feeste soos die McGregor-fees – ook daar verower sy die Patricia Schonstein Poetry in McGregor Award vir haar gedig “Dronkverdriet”. Sy lees dit voor by die Woordfees, Prins Albert-fees, Adam Small-fees en Tuin van Digters, om net ’n paar te noem. Sy het in Augustus 2019 die 2de plek in die Avbob-digkunskompetisie nasionaal losgeslaan met haar gedig “Dood”. Sy verower die Hugh Hodges On the Spot Award vir haar gedig “Suid-Afrika”. Sy wen die Neville Alexander Prestige Award vir ’n enkelpersoon wat Afrikaans as medium gebruik om samehorigheid en nasiebou te bevorder. Sy voltooi ’n BA Honneurs in Kreatiewe Skryfkuns in Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy gradeer te Rhodes Universiteit met ’n Meestersgraad in Kuns.

Tans bied sy werkswinkels in kreatiewe skryfkuns plaaslik in persoon aan, asook aanlyn vir ’n NRO in New York. Sy werk in lande soos Kenia, Uganda, Rwanda, Irak en Bagdad, om net ’n paar te noem. Sy konsulteer vir die sepieskrywers van Suidooster en werk saam met die Universiteit van Wes-Kaapland se Centre for Multilingualism and Diversities Research (CMDR) met die Kaaps Bilingual Learning Materials Development-projek, waar sy tans van die WKOD se kurrikula in Kaaps vertaal.