Elders in die land brand mense fabrieke en winkelsentrums af, dra yskaste, bioskoopgrootte-televisieskerms en blikkieskos weg. Maar op ’n stil wintersoggend in Somerset-Oos voel dit soms asof die tyd stilstaan, skryf ANDRIES BEZUIDENHOUT.
HIER in dié Oos-Kaapse dorpie is daar geen teken van onluste of brande nie. Ek en vyf ander skrywers woon vir ’n maand in die Jakes Gerwel-stigting se Paulet-huis om aan gedigte, kortverhale of romans te werk.
Die huis waarin ons tydelik woon, staan al amper twee eeue lank hier. Dis vreemd om so aan hierdie vertrekke te dink, dat mense al vir só lank hier op en af beweeg, op hierdie einste vloerplanke rondloop. Ek wonder oor vorige inwoners en oor al die skrywers wat al hier was. ’n Hele paar romans en digbundels is al hier geskryf en die digter Ryan Pedro se debuutbundel is juis pas weer met nóg ’n literêre prys bekroon.
Verlede week is dié van ons wat kwalifiseer na die gemeenskapsaal toe om teen Covid-19 ingeënt te word. Soos elders in die land het als seepglad geloop. Vinnig, vriendelik, professioneel, soos dit veronderstel is om te moet werk.
In die dag sit ons in ons kamers en skryf. In die aand gesels ons tydens aandete oor praktiese probleme rondom skryfwerk. Soms praat ons sommer net, want skrywers hou van stories vertel. Of so beweer ons. Dit voel vreemd om hier in ons kokon te sit en skryf. So afgesny van als wat in die land en die wêreld gebeur. Maar dis mos die punt van só ’n geleentheid – om vir ’n tyd lank die rem te trap, stadiger te stap, mooi te kyk, na te dink.
Vanoggend stap ek juis deur die ou deel van die dorp en wonder oor wat ek met die digbundel waaraan ek werk moet aanvang. Ek het die manuskrip reeds uitgedruk en sit nou en karring daaraan – krap uit, trek dood, haal deur, skryf soms met ’n potlood by.
Digkuns: pretensieus, irrelevant en eerlik
Digkuns is waarskynlik die mees pretensieuse van al die letterkundige genres. Dit het ook ’n piepklein en uiters kieskeurige lesersgehoor. Wat in die digkuns aangaan, het waarskynlik absoluut geen relevansie vir enigiemand buite die dampkring nie. Dis soos ’n tydvak buite tyd, ’n plek wat los staan van die ruimte daar buite.
Dis dalk hoekom ek so daarvan hou – ten spyte van die pretensie en irrelevansie, is dit dalk júis eerlik. The stakes are so low, the process so slow. My digbundel is op ’n moeilike plek. Dis min of meer klaar, dink ek, maar nou begin die twyfel. Soms help dit om die bladsye eenkant te laat lê en ’n ent te gaan stap.
So half ingedagte groet ek ’n ou man wat blare in sy tuin se oprit wegvee. “Molo Tata,” sê ek van agter my masker en sonbril. Vandat ek in Alice woon, het ek geleer om mense op straat te groet, maar dit voel steeds vreemd om dit so van agter ’n masker te doen.
Die man groet vriendelik terug. Hy dra nie ’n masker nie, hy is immers in sy eie tuin. Hy merk in Engels op dat mense in stede sekere beginsels afgeleer het, dis hoekom hulle daar so siek word. Hulle woon te naby aan mekaar. Hy leun op sy besemsteel en beduie in die Boschberg se rigting. Hier haal die bome nog vir ons asem, sê hy.
Ek hou op stap, stel myself voor. “Ah, the Bezuidenhouts, the Prinsloos,” sê hy toe hy my naam hoor, “do you know their history?”
“Indeed, I do,” sê ek. Ons gesels oor die houtbalk in die plaaslike museum waaraan vyf van die terdoodveroordeelde Slagtersnek-rebelle destyds opgehang is.
Ek noem dat ek van Alice af kom en vertel van die skryfresidensie. Hy’t vir Jakes Gerwel geken, sê die ou man met die besem. Hy’t in die vroeg-80’s aan die Universiteit van Fort Hare studeer, Engelse letterkunde, en hy skryf steeds gedigte.
Ek vra hom daaroor uit en hy gaan haal ’n paar van die gedigte. Dis uitgedruk, met potloodhale soos hy besig is om daaraan te redigeer. Donker gedigte, oor die naderende dood, oor God en Godverlatenheid.
Staan die tyd vir hom ook stil? Of voel hy nou, aan die einde van sy lewe, dat dit te vinnig verbygaan?
Khoe en San, Prinsloo en Pringle
Somerset-Oos is een van die Oos-Kaap se oudste dorpe, met van die mooiste en bes bewaarde historiese argitektuur.
Die eerste bewoners van die area was natuurlik die Khoe en die San, maar in die laat-1700’s het koloniale trekboere in die area inbeweeg. In 1771 het Willem Prinsloo ’n plaas aan die voet van die Boschberg gevestig.
Prinsloo het later verder die binneland in getrek. Hy sou Frederik Bezuidenhout se buurman word, die einste Bezuidenhout wat in 1815 deur die pandoers doodgeskiet is toe hy geweier het om in die landdroshof op Graaff-Reinet te verskyn.
Die Bezuidenhouts is uiteindelik uit die distrik verban en die verlate plaas is aan Thomas Pringle toegeken. Prinsloo het die Pringles help vestig op hul nuwe plaas. Ons lyn Oos-Kaapse Bezuidenhouts is afstammelinge van Frederik Bezuidenhout se broer.
Prinsloo se ou plaas aan die voet van die Boschberg is eindelik deur die Britse koloniale regering as moontlike landbougrond geïdentifiseer. Die regeringsplaas, aanvanklik as Somerset Farm bekend, is omstreeks 1817 gestig. Dit het ’n belangrike bron van tabak, perde en voedsel op die destydse Oosgrens geword – al drie belangrike bestanddele vir oorlog.
Die gebied het standhoudende waterbronne gehad en die asemrowende Boschberg het ’n sekere mate van beskutting teen die somerson verleen. Waar die dorp later sou ontstaan, is Outeniekwa-geelhoutbome (Afrocarpus falcatus) afgekap vir die boubedryf, nieshout (Pteroxylon obliquum) vir landbougebruik, asook ander houtsoorte vir brandhout. Die regeringsplaas is in 1825 in ’n setel vir ’n landdros omskep en die dorp Somerset is gestig. Sowat dertig jaar later is die “Oos” by die naam gevoeg om dit van Somerset-Wes te onderskei.
Die huis van die Gerwels
Paulet-huis, waar ons tans tuisgaan, is waarskynlik iewers tussen 1825 en 1827 gebou deur ’n plaaslike slagter genaamd Robert Robinson, wat op 27 jarige ouderdom as deel van die eerste groep Britse setlaars in 1820 in Suid-Afrika aangekom het.
In 1993 het Jakes Gerwel die huis – toe ’n gastehuis – gekoop en dit vir eers as sodanig bedryf. In 2007 is die huis gerestoureer en het die Gerwels dit as vakansiehuis gebruik. Ná sy dood het sy weduwee, Phoebe, dit aan die Jakes Gerwel Trust geskenk, met die gedagte dat dit as ’n skrywershuis gebruik sou word. Die restourasiewerk is verder gevoer en die huis is ingerig sodat dit tot ses skrywers op ’n slag kan huisves. Daar is drie slaapkamers op die boonste verdieping, ’n slaapkamer op die grondvloer en twee verdere slaapkamers in die kothuis langsaan. Drie gietysterstowe hou die huis in die winter warm.
Hier woon tipies skrywers, digters, dramaturge en musikante. Soms is daar werksessies om tekste of musiek te ontwikkel. Soms, soos in ons geval, word ons net die ruimte en ’n bord kos gegun, en aan ons eie brooshede en booshede oorgelaat.
Teen die mure hang foto’s en skilderye deur Suid-Afrikaanse kunstenaars – ’n Karootoneel, ’n houtskoolskets met ’n portretstudie van Gerwel wat ons oor aandete dophou. In die dag hoor ek hoe die ander skrywers bo my oor tweehonderdjarige houtplankvloere beweeg. ’n Stoel of lessenaar kraak, ’n kraan laat ’n pyp in ’n muur dreun, ’n vensterraam word toegeskuif as die son agter Boschberg ondergaan.
Langsaan is die Walter Battiss-kunsgalery. Battiss het hier grootgeword en sy ouers se ou Victoriaanse-styl-hotel is in ’n galery omskep. Oorkant die pad is ’n pragtige wit kerkgebou uit die 1800’s, helaas nou die eiendom van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK). Net straataf is die Voortrekkers se gebou en wat waarskynlik eens ’n kampterrein was – die gebou is vervalle en die terrein onnet en vol onkruid.
Antroposeen se spore
Die landskap rondom Somerset-Oos is asemrowend mooi. Vier biome kom hier bymekaar – Amathole-berggrasveld, Suid-Kaapse woudlandskap (Afro temperate forest), Albany ruigtes en Nama-Karoo. Die berg self vorm ’n tipe agtergrond vir die dorp as toneel. Ry jy in Graaff-Reinet se rigting, sien jy die hele Karoo voor jou uitstrek vanaf die pas oor Bruintjieshoogte.
Aanvanklike inwoners het baie van Boschberg se inheemse woude uitgekap. Indringerplante het ’n probleem geword, soos die swartwattels, turksvye, garingbome en uitheemse grassoorte wat op die bergpieke begin groei het en deur die wind versprei word.
Soos elders in die Karoo het oorbeweiding die landskap omvorm, maar van die boere probeer nou om natuurreservate op hul plase te vestig. Somerset-Oos is nog altyd waterryk, met sterk fonteine en watervalle in die berg. Met Paulet-huis se restourasie is juis ’n put uit die 1700’s op die erf ontdek.
Klimaatsverandering bied egter ook hier nuwe uitdagings. Vir die eerste keer in die tydvak van geskrewe geskiedenis is fonteine en riviere aan die opdroog. Die hele landskap is deel van die akwifeer wat van hier tot by Kaapstad strek. Gelukkig word van die plase deur ’n besproeiingskema uit die Gariepdam, al met die Visrivier langs, gevoed. By buurdorpe moes Gift of the Givers egter kom gate boor, tot by Adelaide wat nog nooit vantevore ’n watertekort beleef het nie.
Op hierdie dorp wonder ek oor tyd. Geologiese tyd tik die stadigste – klippe en berge is al lank hier en sal nog lank hier wees as ons eers weg is. Ons spore bly egter agter, aldus die Antroposeen as geologiese tydvak. Plantegroei se tyd is effe vinniger, maar wissel na gelang van gewas en seisoen. Die akkerboomlanings hier, die herinnering aan vergane woude in geelhoutbalke en vloerplanke.
Vir mense is tyd vinniger, dink ek. Daar is wel tyd vir ’n gesprek met ’n vreemdeling met ’n masker oor ’n gedig aan die einde van jou lewe, terwyl jy blare in jou inrypad opvee.
Soms, soos nou, voel dit of tyd stilstaan. Ander kere word ’n mens een oggend wakker en jy besef dat ’n landskap eintlik nogal ingrypend verander het – of dit nou oor twee eeue of twee dekades gebeur het.
Maar anders as die verandering self, kom die besef onverwags en eensklaps.
DIE WARE LANDSKAP IS EEN VAN ROTS
I
Ons weet julle kan nie Voël praat nie, sê die voëls,
nie enige dialek van Tiptols, Hoogtortel of Hadidees nie.
Nee, al is julle in hoë takke hoor julle nie wat ons fluit-fluit nie
of ons storie nie, want dis nie ons wat uit is nie.
Kyk hoe dans hulle op drum beats. Onbewus van Nonnetjiesuile
wat oorhoofs luister. Dis ’n tweeter, dis ’n bass bin
wat skel na bo, stamp na onder en ons nie hoor nie
selfs al bly julle stil, want ons weet
julle kan nie ’n woord Voël verstaan nie.
II
Ons weet julle kan nie Boom praat nie, sê die bome,
nie Hardekools, Maroelees of Wes-Akasia nie.
Ons waai julle nader, trek ons skouers op
maar julle stel net in skaduwee belang.
Hoor hoe sing en snaar hulle. Daai is ’n houtkitaar
wat hy sy axe noem. Hy chop en riff, hy saag
maar waag nie om te luister na wat ons sê nie
selfs al bly hy stil, want ons weet
julle kan nie ’n enkele sin Boom verstaan nie.
III
Ons weet julle kan nie Klip praat nie, sê die klippe,
nie Oergneis, Rotsigs of Platskalie nie.
Ons voel die bass drum beats in ons riwwe.
Julle spring en polka en slaan soms op ons neer
maar ons is nie didaktiese klippe nie
ons praat nie preke nie, maar wou tog waarsku
want ons is die langste al hier en verstaan nou al Voël en Boom.
Voëls lewe die kortste en bome effe langer
met julle iewers tussenin. Gebruik miskien die tyd
om Voël en Boom se woordeskat te leer
want spesies gaan soos tale dood en mettertyd
is al wat aanhou klop maar net ’n klip en nog ’n klip
en nog ’n klip en nog ’n klip.
(Oppikoppi, Augustus 2016)
Gedig op Soundcould: https://soundcloud.com/andries-bezuidenhout-2367892/die-ware-landskap-is-een-van-rots
Oorspronklik in Vrye Weekblad gepubliseer: https://www.vryeweekblad.com/mense-en-kultuur/2021-07-22-stadige-verandering-eensklaps-verstaan/