Loading Events

« All Events

  • This event has passed.

Ver in die Wêreld Skryfskool

1 October 2023

Donegal County, Ierland, 2024

Die diaspora het Afrikaanse mense oor die aardbol versprei. Die onlangse verhalebundel Ver in die wêreld, saamgestel deur Frederik de Jager, skrywer, oud-uitgewer en mede-eienaar van The Talking Table, was ’n groot sukses. Dit onderstreep hoeveel familiebande ons deur die wye wêreld het en hoeveel ons anderkant verby die horisonne van vroeër kyk.

The Talking Table, bekend vir skryfskole op die eiland Lesbos, Griekeland, en in Stilbaai, Suid-Afrika, sprei weer sy vlerke in 2024. Die land van die digters roep. Ons gaan na Ierland, na die Donegal County, vermaard vir sy natuurlike skoonheid. Daar gaan ons almal saam tuis in die wonderlike Ierse huis genaamd “The Song House”. Afrikaanse mense van regoor die wêreld gaan daar bymekaarkom, inspirasie soek, mekaar leer ken en van skryfkuns leer by Frederik, ervare boekeredakteur van talle van ons grootste skrywers en self bekroonde skrywer.

Eben Venter het sy eerste roman, Foxtrot van die vleisvreters, in Donegal geskryf. Hy sê die volgende oor sy tyd daar:

Wilde strande met beenwit sand, en dan net daar agter die nou, vinnige paaie met diepgroen heinings vol meidoring en krimpvarkies en goed, tot by die naaste pub, daar’s baie, waar mense nie wegskram van vreemdelinge nie, nee, hulle wil jou storie hoor, ’n Guinness word vir jou gekoop, jy moet kan praat. Dit was die Donegalsfeer, miskien ’n raps geromantiseer, maar net reg as ’n parallelle storieaarde om my eie storie, my eerste roman, Foxtrot van die Vleiseters, te skryf. En ek hèt, en ek is nou nog bly ek het daar my driemaande sabbatical gevat, totdat die wilde affodille uitgekom het in die vroeglente.

Maak nou jou kalender skoon. Van 20 tot 26 Junie 2024 kan jy deel wees van die eerste Ver in die Wêreld Skryfskool onder leiding van Frederik de Jager.

The Song House, met slaapplek vir 14 mense, is geleë aan die Wild Atlantic Way in prentjie mooi Donegal County, omring deur pragtige strande en berge. Die huis het al die karakter van ’n ou kothuis, met daarby ’n groot kombuis en leefruimte.

Die huis is onlangs volgens hoë omgewingstandaarde opgeknap, insluitend ’n lugverhittingstelsel en driedubbel glasvensters wat dit warm en knus maak, selfs in die Donegal-winters. Dit is somer in Junie, maar ons pak maar reënjasse en ’n truitjie in. Dis Ierland, noordwes-Ierland. Die gemiddelde somer temperatuur is tussen 17 en 20 grade.

The Song House staan in eersteklas omgewing vir enige groep om die omgewing te geniet. Die huis is naby uitgestrekte strande uitgeknip vir swem en branderplank ry. Daar is die Derryveagh-bergreeks om in te vaar, daar is stap- en fietsroetes, gholfbane, mere, riviere en die see as jy wil kajak. Daar is fassinerende eilande in die Gaeltacht-gebied van Donegal, waar Iers as ’n eerste taal gepraat word. Daar is ’n lewendige musiektoneel in die omgewing asook baie plaaslike feeste, kulturele en sosiale geleenthede. Die hele gebied is deurtrek van geskiedenis, argeologie en mitologie, en is verstommend mooi.

In die Song House hang daar oorspronklike kuns en foto’s teen die mure en daar is swaargelaaide boekrakke. Alle slaapkamers is eenvoudig maar esteties gemeubileer, met skouspelagtige uitsigte oor die Muckish-berg. Die huis is omring van ’n organiese tuin waarin volop kruie en sagte vrugte volgens die seisoen groei. En wat gaste nie sal wil misloop nie is ’n vreugdevuur in die vuurput op die terras op ’n helder maanligaand met die berg daar voor.

Die Song House was voorheen “Poet’s House” waar digters van regoor Ierland, die VSA en die VK verwelkom is. Dit is nou ’n huis vol sang omdat die huidige eienaar vir ’n deel van die jaar sangwerkswinkels en sangvakansies gebruik.

Die geweste van Donegal in die noordwestelike hoek van Ierland met sy ryke kultuur en die dramatiese skoonheid van land en see lok jaarliks musici, skilders, skrywers en digters vir inspirasie. Fál Carrach is ’n klein Gaeltacht-dorpie (d.w.s. waar Iers gepraat word) in die noordweste van Donegal County. Dis waar die week lange Ver in die Wêreld Skyfskool plaasvind. The Song House is 2 km buite Falcarragh op die Wild Atlantic Way, ’n skilderagtige kusroete wat van Donegal County af vir 2500 km langs die Ierse weskus af loop. Dis veilig om dorp toe te stap, en daar is gereelde busse. Ons sal ook ’n voertuig hê.

Ierland is om verskeie redes gekies vir hierdie skryfskool, onder meer die natuurskoon en die diep geskiedenis van skeppende werksaamheid. Maar dit is ook veral ’n land waar Suid-Afrikaners geen visum voor nodig het nie, en waarheen vliegkaartjies neig om goedkoper te wees.

Skryf dus gerus in vir hierdie groot belewenis en begin dadelik spaar; daar is genoeg tyd.

Die skryfskool

Frederik neem die deelnemers deur ’n hele reeks aspekte van fiksie skryf, of dit romans of kortverhale of verhalende nie-fiksie is. Sy dekades lange ervaring in die regtrek en versorging van die werk van talle van ons voorste skrywers gee hom ’n diep begrip van die bouwerk van ’n boek, van waar die valstrikke en moeilikhede lê, en wat die kwesbaarhede van kreatiwiteit lê.

As oud-uitgewer kan hy ook die landskap van die boekbedryf gesaghebbend uitlê en raadgee oor publikasie. As aanbieder van werkswinkels sedert die stigting van The Talking Table is hy ’n ervare, inspirerende en simpatieke leermeester. Die skryfskool sal prakties ingerig wees en enigeen van beginners tot ervare skrywers sal daarby kan baat vind.

Kostes

Enkelkamer : €1 900
Dubbelkamer : €1 500
Deposito: €450

Stuur ’n e-pos na info@thetalkingtable.com om jou plek te bespreek.

Inskrywings sluit 1 Oktober.
Jy het ’n week om jou bespreking te kanselleer. Daarna is die deposito nie terugbetaalbaar nie.
Laaste betaling moet gemaak word voor of op 1 Mei 2024.
Ons moet inval by die Ierse verskaffers se reëls.

Details

Date:
1 October 2023
Event Category:

Organizer

The Talking Table
Email
info@thetalkingtable.com
View Organizer Website