Kom skryf saam in Stilbaai. Oor vyf dae van groot bederf deur The Talking Table se gashere in ’n tradisionele strandhuis reg op die strand, kry jy skryfoefeninge onder die leiding van Frederik de Jager.
Die oefeninge behels vryevloei-skryf, met ingewings wat Frederik jou gee. Ons noem dit porre. Almal sit om ’n tafel en skryf saam. Daarna lees jy jou stuk, en kry positiewe terugvoer. Daar is geen kritiek nie, net ondersteuning en inlewing.
Die porre ontvang jy onverhoeds en jy skryf vinnig, sonder om iets uit te dink, vry agter die assosiasies aan wat vanself jou gedagtes te binne skiet. Die doel met die oefening is om die rasionele en kritiese fakulteite so ver moontlik te systap om by vrye, spontane skepping uit te kom.
Die mees ervare skrywers kry net soveel waarde uit hierdie oefeninge as die rouste beginner. Daar word geen voorkennis of skryfvaardigheid veronderstel nie. Deelnemers in die verlede, wat van ons mees bekroonde skrywers tot onervarenes ingesluit het, het laat weet dat die oefeninge blokkasies losgemaak het, hulle vrese oor skryf besweer het en die krane gehelp oopdraai het. Dikwels was hulle self verstom oor wat hulle geskryf het.
Die simpatieke ruimte waarin ons saam skryf, is deel van die ontspanne, gemoedelike en koesterende ruimte wat deel is van The Talking Table se kultuur.
Deelnemers leef saam, deel ’n werkstafel en sit saam om die etenstafel aan vir heerlike kos. En daar word gesels. The Talking Table is die plek om jou eie stem te hoor en jou sê te sê.
Die eeu-oue huis met sy krakende plankvloere en nou gange staan met sy tone op die lieflike strand van Stilbaai wat, met sy rivier, een van die mooiste kusdorpe in die land is. Dit is die perfekte plek om jou gedagtes en jou skryfwerk vleuels te gee onder die geruis van die see en uitsig oor die water.
Frederik de Jager is een van die mees ervare redakteurs en uitgewers in die land. Hy het talle van ons voorste en bekroonde skrywers se werk gehelp vorm. Hy weet hoe die kreatiewe proses werk, hoe broos dit kan wees, en gee simpatieke leiding en kundige konteks aan die deelnemers. Sy verhalebundel, Man op ’n fiets êrens heen, is in 2022 met die Universiteit van Johannesburg-debuutprys en die Eugène Marais-prys bekroon.
Die werkswinkel is van 13 tot 18 Februarie 2024 in Stilbaai. Almal gaan saam tuis in een of twee van Stilbaai se oorspronklike strandhuise. Na ’n ruim ontbyt skryf ons soggens, met die middag vry. Saans sit almal saam aan die langtafel vir genoeglike geselskap en ’n heerlike en rojale maaltyd voorgesit deur die gashere, Douw Steyn en Frederik de Jager.
Die koste is R14 000 per persoon enkelkamer of R12 000 per persoon wat deel.
Daar is spesiale fooie vir nie-deelnemende vriende of lewensmaats, asook vir Stilbaai-inwoners. ’n 50%-deposito gaan saam met die inskrywing. Die fooi sluit verblyf, twee maaltye per dag en kursusgeld in.
Vir navrae en om in te skryf, skryf aan Douw by info@thetalkingtable.com.