Die program vir Aardklop 2024 is reeds bekendgestel, en feesgangers kan nou al kaartjies koop.
Die program spog met ’n wye verskeidenheid van geleenthede vir feesgangers van alle ouderdomme en belangstellings.
Vir diegene wat hulle wil verdiep, bied die teater ’n reeks produksies van drama, komedie tot tragikomedie. En vir die kleintjies en jeug is daar ook ’n spesiale bederf van vertonings en aktiwiteite wat die verbeelding aanvuur en die kreatiwiteit bevorder. Van “Liewe Heksie vang vis” tot die Aardklop Pronk Podium, daar is iets vir elke jong siel om van te geniet.
Aardklop bied ook ’n ervaring op die terrein self, met ’n oorvloed van stalletjies, kos, en musiek wat die atmosfeer van viering en samekoms aanvul. Jy kan byvoorbeeld uitsien na Refentse, Jesse Clegg, Joshua na die Reën, Janie Bay, Early B, Bobby van Jaarsveld en vele meer.
Die ATKV-Boeke-oase by The Roots is die plek om te wees vir aktuele en boekgesprekke, bekgevegte, en ook ’n verskeidenheid proe-ervarings. Kom kuier, redekawel, lag en gesels daagliks saam.
Vind meer besonderhede in die feesgids wat nou by aardklop.co.za afgelaai kan word of, as jy in Potchefstroom is, kan jy ook jou boekie by die feeskantoor gaan afhaal. Alle kaartjies kan op ticketpro.co.za gekoop word.
Vir enige algemene navrae stuur ’n e-pos na navrae@aardklop.co.za.