Die Jakes Gerwel Stigting is trots op die groeiende lys van skrywers wat tot dusver al voordeel getrek het uit ons verskeie programme wat by Paulet Huis op Somerset-Oos aangebied is
Vanuit Paulet Huis – Boeke
Die Jakes Gerwel Stigting bars eenvoudig van trots op “ons” skrywers wat by Paulet Huis op Somerset-Oos aan hul manuskripte geskaaf het en hul werke intussen gepubliseer het. Dit sluit die volgende skrywers in:
André Trantraal – Die nuwe vriend in die Keegen & Samier-reeks
André Trantraal is ’n skrywer, illustreerder en vertaler wat met sy werke wat in Kaaps en Engels verskyn vinnig besig is om sy merk in die Suid-Afrikaanse letterkunde te maak. Sy strokiesprente het in die Beeld, Die Burger, Rapport, Cape Argus en Cape Times verskyn en dis reeds in Kaapstad, Hamburg en Amsterdam uitgestal. André se Engelse vertalings van gedigte wat deur sy broer Nathan Trantraal geskryf is, is in die New England Journal gepubliseer. Hy is die ook mede-outeur van die strokiesprentboeke Stormkaap Drome kom altyd andersom uit en Coloureds.
Tydens die skrywersresidensie by Paulet Huis in 2020, wat deur die Jakes Gerwel Stigting in vennootskap met PEN Afrikaans aangebied is, het André onder meer aan die vierde boek in sy reeks vir beginnerlesers – Keegen en Samier – gewerk. In Die nuwe vriend is daar ’n nuwe meisie, Alysha, in die skool. Keegan hou baie van haar, maar die tweeling, Samier en Samia, is omgekrap daaroor dat Alysha beter in alles vaar as Samia. Keegan probeer om die vrede tussen al sy vriende te bewaar.
Bronwyn Davids – Lansdowne dearest: My family’s story of forced removals
Bronwyn Karen Davids is in 1961 in Heatherleyweg 10 in Lansdowne gebore waar haar familie gewoon het. Haar skoolopleiding het sy aan die Sint Ignatius Katolieke Skool en Livingstone Hoërskool in Claremont voltooi, maar in 1976 het hulle gesin na Woodlands in Mitchellsplein – die sogenaamde nuwe stad vir bruinmense – verhuis.
Na sy verskillende studierigtings en loopbane aangepak het, het Bronwyn in 1988 verslaggewer geword en in 1989 het sy ’n diploma in joernalistiek aan die Skiereiland Technikon verwerf. Sy was van 1988 tot 1992 verslaggewer by die Argus en die Cape Times.
Hierna het Bronwyn se swerftyd na sowat 20 lande en ses vastelande gevolg. Daarna het sy haar lank met skilder en ander werk besig gehou voor sy weer in 2016 teruggekeer het na Newspaper House as algemene nuusjoernalis vir die Cape Times, Cape Argus en Weekend Argus. Sy vryskut tans.
In 2019 was Bronwyn deel van die Stigting se mentorskapprogram vir opkomende skrywers van fiksie en niefiksie wat in samewerking met NB-Uitgewers aangebied is. Hierdie program het haar in staat gestel het om haar herinneringe van Lansdowne en haar familie se veranderende lotsgevalle neer te pen en te publiseer. Dis Bronwyn se Skotse oupa-grootjie Joe McBain wat die familiehuis in Lansdowne gebou het waar sy gebore is. Bronwyn gee ’n raak beskrywing van die lewe van die generasies wat in hierdie huis geleef het; sy vertel van doekpoeding vir Krismis, goeie buurmanskap en hoe die kinders van die buurt almal saam kennetjie gespeel het. In hierdie aangrypende familieverhaal skakel baie van Bronwyn se herinneringe met onherroeplike verliese wat op die instel van apartheid gevolg het. Met die familiehuis wat sentraal staan, ontvou ’n storie wat deur humor en detail gekarakteriseer word en vir ‘n lang tyd by mens bly.
Engela Ovies – Draairivier
Engela Ovies is in 1968 gebore op Onseepkans, ‘n klein dorpie noord van Pofadder in die Noord-Kaap, wat ook as grenspos aan die Namibiese grens dien. As derde jongste van nege kinders, bring sy dan ook haar skooljare hier op die walle van die Oranjerivier deur by Sint Philomena Rooms-Katolieke Skool. Elke dag, na sy van die skool af tuis gekom het, moes sy soos die ander kinders uithelp op die plaas waar hulle gewoon het. Sy woon tans op Noudonsies naby Augrabies saam met haar twee seuns, haar dogter en twee kleinkinders.
Vir Engela is skryf die manier waarop sy haar hartseer oor die dood van ’n suster, haar enigste broer en haar pa kort op mekaar kon uitdruk. Draairivier is Engela se debuutroman wat in 2020 verskyn het na afloop van die mentorskap wat sy van die Stigting, in medewerking met NB-Uitgewers, in 2019 ontvang het. In Draairivier word die deernisvolle verhaal van Suzanna, oftewel Sanna, Jansen se lewensloop in die eerste persoon vertel. Dis die Kersvakansie van haar voorlaaste skooljaar wat bepalend sou wees vir die jong meisie wat saam met haar ouers en haar broer Gert in ’n riethuisie op ’n plaas naby Kakamas bly. Wanneer Sanna die buurseun Johannes op die plaas raakloop, kry sy vlinders in die maag. En dan is daar haar vriendskap met die blonde, verlamde Inge wat soos die sprokie se slapende skoonheid ’n gevangene is in die “groothuis”. ’n Boeiende verhaal van die familiebande, liefde en vriendskap in Sanna se lewe word gaandeweg ontsluit en hou die leser aan die lees.
Jeremy Vearey – Into Dark Water
Jeremy Vearey is ‘n sterk figuur in die Suid-Afrikaanse openbare lewe. En tog is hierdie figuur trots daarop om homself te identifiseer as Jeremy “vannie Elsies” soos wat die titel van sy debuutboek aandui. Hierdie boek kom uit in Afrikaans en dit vertel die verhaal van die baie jong Jeremy se politieke ontwaking en ‘n gedrewenheid wat hom sou laat aansluit by MK en hom deur sy tydperk op Robbeneiland as politieke gevangene sou dra tot by ‘n lewe in die kollig as Nelson Mandela se lyfwag en majoor-generaal in die polisie. Hierby sluit sy “polisie-memoires” Into dark water wat sopas verskyn het aan met ‘n ewe sterk verklaring van die skrywer se identiteit: hy is Jeremy Vearey van werkersklas-Elsiesrivier aan die buitewyke van Kaapstad en hy is nog hier om sy storie te vertel. In hierdie boek gee hy die leser insig in die wêreld van polisiewerk, misdaad en die politieke arena veral in die Wes-Kaap. Selfs wanneer hy in Engels skryf, is die humor onmiskenbaar dié van Jeremy Vearey, dikwels ironies, met die donker water wat net onder die lighartigheid vloei en die mes wat nie skroom om die waarheid tot op die persoonlike vlak oop te vlek nie. Dit is beslis boeiende leesstof.
Jeremy het aan sy tweede boek gewerk tydens sy residensie by Paulet Huis in 2019.
Lebo Mazibuko – Bantu Knots
Lebo Mazibuko het baie vroeg besef dat dit haar passie is om stories te vertel. Sy het in Johannesburg, in Pimville, Soweto, grootgeword en gematrikuleer aan die Nasionale Skool vir die Kunste, waarna sy haar BTech in dramakuns aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie voltooi het. Sy het verskillende rolle as aktrise vertolk en ook regie gedoen, maar poësie het vir haar die geleentheid gegee om haar skryfvaardighede te ontwikkel. Lebo was deel van ons mentorskapsprogram in 2020, wat aangebied word in samewerking met NB-Uitgewers.
Sy het sopas haar debuutroman Bantu Knots gepubliseer. Dit vertel die verhaal van die jong meisie Naledi se grootwordjare en hoe sy droom oor die gesofistikeerde vrou wat sy wil word, soos Nonhle Thema op die dosie Dark and Lovely-haarprodukte sodat sy haar hare in ‘n pondo kan dra in plaas van die tradisioneel-geknoopte “bantu knots” waarmee sy nou geïdentifiseer word. Naledi bly saam met haar streng ouma Mama Norah en haar afsydige, glansryke ma Dineo en haar pa is grootliks afwesig. Soos wat Naledi grootword met hierdie twee groot vrouefigure wat teenoorgesteldes is, ondersoek Lebo die baie aktuele temas van skoonheid, vroulikheid, tradisie en persoonlike drome.
Lynthia Julius – Uit die kroes
Lynthia Julius is gebore op Springbok, het grootgeword in Kimberley en woon tans in Bloemfontein. Sy het ’n honneursgraad in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat behaal en is besig met haar meestersgraad. In 2018 is sy as wenner bekroon in die AVBOB-digkunskompetisie in die Afrikaanse taalkategorie. Uit die kroes is haar debuutdigbundel en sy het hieraan gewerk tydens die Jakes Gerwel Stigting / PEN Afrikaans Skrywersresidensie van 2019.
Uit die kroes roep ’n Noord-Kaapse leefwêreld op met onder meer Namawoorde wat in van die verse geïnkorporeer word. Gedigte wissel tussen, aan die een kant, ’n baie persoonlike ruimte en fokus en, aan die ander kant, die historiese ruimte van vroue waarvan daar bykans in die hede nie meer enigiets onthou word nie. Deur Lynthia se vindingryke gebruik van woorde tree die verse ook in gesprek met werke van ander digters, sonder om in te boet op die bekoring van woorde wat uit die hart met gewone mense praat.
Miriam Telanie – Hier verlaat ek jou
Miriam Telanie het in Beaufort-Wes grootgeword waar sy aan die Bastiaanse Sekondêre Skool gematrikuleer het. Van kindsbeen af is lees en skryf haar gunstelingaktiwiteite. Sy gee tans taal en geskiedenis aan Heatherlands Hoërskool waar sy probeer om haar leerders se horisonne te verbreed. Miriam was deel van ons mentorskapsprogram vir opkomende skrywers in 2020.
Alhoewel Hier verlaat ek jou haar debuutroman is, het sy al kortverhale in die tydskrif Kuier gepubliseer. Die liefdesroman vertel die verhaal van Senobia Arendse, ‘n kleindorpse meisie wat onlangs haar graad voltooi het en so pas as ‘n taalversorger aangestel is by ‘n plaaslike tydskrif. Palesi Dosini, haar nuwe woonstelmaat in Bellville, stel haar voor aan drie aantreklike jong mans. Sy voel veral aangetrokke tot Ayanda Ngubane, ‘n platejoggie met onberispelike smaak en ‘n breë glimlag. Dan verskyn haar eerste liefde, Mondeo Hendricks, weer op die prentjie en Snobia vind dis nie so maklik om te oordeel wie lojaal is en wie net haar hart sal breek nie. Sal sy die regte keuse maak?
Nathan Trantraal – Oolog
Nathan Trantraal, digter, vertaler en rubriekskrywer, is in Kaapstad gebore en getroud met die eweneens bekende digter Ronelda S. Kamfer. In 2008 publiseer Tafelberg die grafiese roman Stormkaap: Drome kom altyd andersom uit waarvan hy mede-outeur is. Sy debuutdigbundel Chokers en survivors wat in Kaaps geskryf is, het ’n ATKV-Woordveertjie in 2014 gekry en is die jaar daarna met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Sy tweede digbundel Alles het niet kom wôd het in 2017 verskyn. In 2018 verskyn Nathan se Kaapse vertaling van ’n jeugboek van die bekroonde Amerikaanse skrywer, Jason Reynolds, onder die titel Lang pad onnetoe asook Wit issie ’n colour: Angedrade stories, ’n bundel rubrieke en ander kort stukke. Nathan het onlangs sy meestersgraad aan die Universiteit van Rhodes voltooi.
Oolog, wat in 2020 verskyn het, is Nathan se derde digbundel en die werk waaraan hy geskaaf het tydens sy skrywersresidensie by Paulet Huis in 2019. Die residensie is moontlik gemaak deur die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans. In Oolog staan konflik, geweld en oorlogvoering, of dit op nasionale, internasionale, plaaslike of persoonlike vlak gebeur, sentraal. Deur die sterk metriese moontlikhede van Kaaps tot die uiterste te ontgin, verseker Nathan dat die leser nie kan ontsnap aan die geweld van die stories en beelde in sy digterlike visier nie. Tog is daar in hierdie donker werk ’n teenbalans van humor, ligte oomblikke, deernis en menslikheid.
Ronelda S. Kamfer – Chinatown
Ronelda Kamfer is in Kaapstad gebore en het ’n groot deel van haar kindertyd in Grabouw en haar tienerjare in Eersterivier deurgebring. Sy het haar honneursgraad in Afrikaans en Nederlands in 2011 aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf en haar meestersgraad in kreatiewe skryfkuns in 2019 aan die Universiteit van Rhodes. Haar debuutdigbundel Noudat slapende honde (2008) is met die Eugène Marais-prys bekroon en grond/Santekraam (2011) het ’n Afrikaans Onbeperk-toekenning vir ’n Jong Stem gekry. Haar derde bundel Hammie het in 2016 verskyn en in hierdie jaar het sy ook die gesogte Jan Rabie en Marjorie Wallace-skrywersbeurs ontvang. Van haar werk is reeds in Engels, Nederlands, Italiaans en Frans gepubliseer.
Ronelda was in 2019 een van die verkose deelnemers aan die Jakes Gerwel Stigting / PEN Afrikaans Skrywersresidensie by Paulet Huis waartydens sy aan haar vierde bundel Chinatown gewerk het. Die verse stel geslagsgeweld, patriargale sisteme, rassisme en armoede aan die kaak met ’n brandende woede teen die wyse waarop hierdie onregte afgemaak, weggepraat of selfs goedgepraat word. Hoewel die verse bedoel om te skok, is daar terselfdertyd ’n deernis vir die uitgelewerde en ’n waardering vir werklike krag.
Ryan Pedro – Pienk ceramic-hondjies
Ryan Pedro is in 1993 gebore en het sy grootwordjare in Kakamas en langs die Weskus deurgebring. Hy woon tans in Gordonsbaai saam met sy lewensmaat. Van sy gedigte het in Nuwe Stemme 6 verskyn en hy het aan sy debuutbundel pienk ceramic-hondjies gewerk tydens die Jakes Gerwel Stigting / PEN Afrikaans Skrywersresidensie van 2019.
In pienk ceramic-hondjies maak die leser kennis met die vars en nuwe stem van Ryan Pedro wat skryf oor ’n leefwêreld wat in die Suid-Afrikaanse letterkunde nog bykans onaangeroer is. Die gedigte word dikwels vanuit die oogpunt van ’n plattelandse bruin kind in sy vormingsjare aangebied. Blootstelling aan verskillende wêrelde binne die familie-opset of dié van ’n klein dorp bied ’n blik op die vloeibaarheid van identiteit en die kompleksiteite wat meegebring word deur ras, klas en opvoeding. Die verskillende leefwêrelde word ook sigbaar gemaak met verskillende taalvariëteite wat in die verse voorkom. ’n Unieke stem vanuit ’n nuwe generasie skrywers tree toe tot die Afrikaanse poësie in hierdie bundel.
Veronique Jephtas – Soe rond ommie bos
Veronique Jephtas is ’n skrywer, digter, aktrise, regisseur, gesproke woord-kunstenaar en aktivis afkomstig van die Paarl. In 2019 het sy haar honneurs in drama en teaterstudies by die Universiteit Stellenbosch voltooi, met spesialisasie in kreatiewe skryfwerk. Sy het in 2020 by die Woordfees gedebuteer met die toneelstuk Hoe change hulle wat ook in Staande ovasie opgeneem is. Sy was ook onlangs te sien as Kraai in Malan Steyn se bekroonde produksie Jakkals en Wolf Onbeperk. Veronique het aan die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans se skrywersresidensie in 2020 deelgeneem.
Veronique Jephtas is een van die stemme uit die generasie Suid-Afrikaners waarna verwys word as die “vrygeborenes”. Sy sit die tradisie van protespoësie van vroeëre digters voort, maar op ’n nuwe manier. In Soe rond ommie bos skryf Veronique oor ’n denkbeeldige gemeenskap wat vry is van gesprekke wat rondom die bos loop. Met haar durf om uit te praat teen onregte en om aan te hou glo aan verandering is Veronique Jephtas ’n skrywer om in die toekoms voor uit te kyk.
Dramaturge betrokke by JGS
NATi Jong Sterre
Met hierdie projek, wat aangebied word in vennootskap met NATi, die Suidoosterfees, die Jakes Gerwel Stigting en die Kunstekaap, word opkomende dramaturge en kunstenaars bygestaan om hul voete in die teaterbedryf te vind. Waar die Jakes Gerwel Stigting betrokke is by die teksontwikkelingsproses, help die Suidoosterfees om die produksies op die planke te bring.
Die volgende tekste en produksies is oor die afgelope jare uit die mentorskap by Paulet Huis ontwikkel.
2020
Die Al kind
Met Jill Levenberg, Oscar Petersen, Jurgen McEwan en David Viviers
Teks: Herschelle Benjamin

Die Al Kind is die verhaal van ’n hardwerkende vrou wat as broodwinner die potte vir haar gesin moet laat prut nadat die droogte in die streek haar man se werk geëis het. Hul enigste seun, ’n student in Engeland, keer ná jare terug na sy ouerhuis. Wat gebeur as ouers al hul drome vir ’n beter lewe om hul geleerde kind bou?
Herschelle Benjamin het die Elizabeth MacLennan Internasionale beurs vir Teater aan die Universiteit van Edinburg ontvang.
Jessie, die man en die maan
Met Carlo Daniels
Teks: Kanya Viljoen

Van jongs af is Jessie oortuig die maan is ’n plek van misterie en verwondering. En dít, glo hy, is die plek waar hy eintlik móét woon. Jessie se pa, AB, weet egter van sy seun se geboortedag af dat die kind swaar gaan dra aan dié droom. En keer op keer, sy lewe lank, moet hy sy kind aan die maan afstaan.
Kanya Viljoen is besig met ’n meestersgraad in Teaterkunde en het al ’n string toekennings ontvang.
Kaap
Met Lee-Ann van Rooi en Faith Kinniar
Teks: Dianne Albertze

Geen heilige koeie word in Kaap ontsien nie: ’n Skrywer wort Kaap toe gestuu’ deur die Vrye Burgers Fees omme Cape Coloured storie te vitel. Sy storie ve’vleg met Angel, ’n voo’malige Voëlvry groupie en Faatiem, ’n charming moeilikgeitmaker. ’n Gevaa’like magspieletjie ontstaan wannee’ Faatiem en die skrywer in love raak. Kyk uit vir die Kaapse klopse, Kewpie en ‘Skipskop’ innie storie.
Dianne Albertze is ’n boorling van Namakwaland en het ’n Fleur du Cap-nominasie as mees belowende student op haar kerfstok.
Miela’s Box
Met Zenobia Kloppers, Gary Naidoo en Liandé Valentyn
Regie: Rafiek Mammon
Teks: Tasneem Daniels

Daar is drama in die huishouding van die Hendrickses van Woodstock. Miela, Salie en sy swanger vrou Baby stry oor wie die familiehuis moet erf. Baby en Salie het planne om die huis op te knap vir hul nageslag, maar Miela, die eintlike eienaar, klou vas aan nostalgiese herinneringe. ’n Eg Kaapse drama wat feesgangers sal meevoer.
Tasneem Daniels is ’n dramaturg, onderwyser en erfenisnavorser.
Slim mense
Met Charlene Le Roux, Stephren Saayman en Elmarie Johnson
Regie: Mercy Kannemeyer
Teks: Keanen Engel

Cathy, die gelowige matriarg van ’n Overbergse familie, se wêreld stort stelselmatig in duie nadat sy met die bonatuurlike behep raak. Die effek wat trauma, geloof en die verlede op mense het, staan sentraal in Engel se stuk. Slim mense verken die situasie van weerloses wat nie die vermoë het om na hulleself om te sien nie.
Keanen Engel kom van Bredasdorp en het ’n honneursgraad in Drama- en Teaterstudie.
2021
Al dra ’n aap ’n goue ring
Skrywer: Margo Kotze
Regie: Andrico Goosen
Met: Margo Kotze, Eldon van der Merwe en Veronique Jephtas

Nadat Debbie, ’n bejaarde wit vrou, ’n problematiese foto op Facebook laai, word sy die mees gehate vrou in die land. Darren, ’n bruin joernalis, probeer by die kern van die verhaal uitkom. Debbie moet aan hom (en Suid-Afrika) bewys dat sy nie ’n rassis is nie. Sy span die hulp van haar kleindogter, Janie, in en huur ’n swart aktrise om te help. Sy hang Bafana Bafana-vlae, maak Maleise kerrie, speel die marimba en haal al wat ’n Tata Madiba-sêding is aan. Hierdie klug steek die draak met mense wat behep is met transformasie en politieke korrektheid.
But Baby, I Love You
Skrywer: Andrico Goosen
Regie: Tinarie Van Wyk-Loots
Met: Carel Nel en Mbulelo Grootboom

Dié tweemanstuk speel af in ’n boksgimnasium êrens aan die Oos-Rand. Dit vertel die verhaal van ’n ouer bokser, Seconds Khumalo, en die seun van sy afrigter, Jerry van Tonder. Temas soos manlikheid, geslagsgebaseerde geweld, die verkragtingskultuur en verraad word aangespreek. Die pas is vinnig, energiek en fisies veeleisend vir sowel die akteurs as die gehoor.
Die workshop
Skrywer: Fabian Rainers
Regie: Oscar Petersen
Met: Gary Naidoo, Abdu Adams en Keeno-Lee Hector

Die workshop speel af in Tony Koop-en-Verkoop Gusmundo en Ras Nige Kammies se motorherstelsentrum. Hulle lyk dalk soos werktuigkundiges wat net in suiers, nokasse en petrolfilters belangstel, maar in werklikheid bespreek dié twee dinge soos globalisering, kunsmatige intelligensie en identiteitspolitiek. Klante kom nie net om hul motors te laat regmaak nie, maar ook om insig te kry in ’n vinnig veranderende wêreld. Tony en Ras se debatte laat jou nadink, vrae stel en skaterlag.
It’s My Baby
Skrywer en regisseur: Xolisa Ngubelanga
Met: Vuyokazi Ngemntu, Vela Zozo en Delia Meyer

Na die moord op haar man sukkel mevrou Hollard om haar plaas aan die gang te hou. Geregtigheid seëvier wanneer Sipho tronkstraf kry vir die moord, maar ’n wending volg wanneer mevrou Hollard se seun Robert daarop aandring dat Jacob, Sipho se vader wat ook op die plaas werk, onskuldig in die pad gesteek word. Wantroue heers op die werf terwyl Robert se wens eerbiedig word. Dinge bereik breekpunt wanneer Precious, wat in die plaashuis werk, van kraamverlof terugkeer met ’n baba en die nuus dat Sipho vrygelaat is.
Kokon
Skrywer en regisseur: Carlo Daniels
Met: Beviol Swartz, Darion Adams en Ayden Croy

Hierdie fisieketeaterproduksie speel af op die Cape Flats en vertel die verhaal van Josh, ’n hoërskoolleerling wat geboelie word en onseker is oor sy seksuele identiteit. Deur beweging en klank word die wreedheid wat net onder die oppervlak broei en onvermydelik op ’n tragedie afstuur, uitgebeeld.
Mannetjie

Skrywer: Gerhard Visagie
Met: Stephren Saayman, Gerhard Visagie en Gary Naidoo
Mannetjie probeer sy tienerjare in ’n kinderhuis oorleef. Hy smag na ’n eie plekkie in die son waar hy sy identiteit kan uitleef. Hierdie tweemanstuk belig die trauma van seksuele misbruik, en die geweld wat ouer seuns jonger seuns aandoen, sonder om doekies om te draai.
The Infinite Woman
Skrywer: Misha Krynauw
Regisseur: Lee-Ann Van Rooi
Met: June van Merch, Rene Cloete en Liandé Valentyn

’n Huldeblyk aan die kosbaarheid van moederliefde. The Infinite Woman verken die interaksies tussen vroue in ’n familie waar die verlede by hulle spook. Anna Meyer beleef ’n ineenstorting en skep ’n alternatiewe realiteit waarin sy met haar ma se selfdood kan saamleef. Die kwesbaarheid van vroue in die aangesig van trauma word verken in Misha Krynauw se aangrypende debuut.
Lys van begunstigdes
SKRYWER | WRITER | PROGRAM BETROKKE | PROGRAMME INVOLVED |
2019 | |
Bronwyn Davids | Deelnemer: Mentorskapsprogram vir opkomende skrywers 2019 |
Chase Rhys | Vlaamse / Afrikaanse dialoogprogram 2019 |
Denver Breda | Vlaamse / Afrikaanse dialoogprogram 2019 |
Du Toit Albertze | Deelnemer: Jong Sterre-mentorskapsprogram vir jong dramaturge 2019 |
Engela Ovies | Deelnemer: Jong Sterre-mentorskapsprogram vir jong dramaturge 2019 |
Herschelle Benjamin | Deelnemer: Jong Sterre-mentorskapsprogram vir jong dramaturge 2019 |
Jeremy Vearey | PEN Afrikaans – skrywersverblyfprogram 2019 |
Kanya Viljoen | Deelnemer: Jong Sterre-mentorskapsprogram vir jong dramaturge 2019 |
Keanen Engel | Deelnemer: Jong Sterre-mentorskapsprogram vir jong dramaturge 2019 |
Kirby van der Merwe | PEN Afrikaans – skrywersverblyfprogram 2019 |
Lynthia Julius | PEN Afrikaans – skrywersverblyfprogram 2019 |
Miriam van Hee | Vlaamse / Afrikaanse dialoogprogram 2019 |
Nathan Trantaal | PEN Afrikaans – skrywersverblyfprogram 2019 |
Rachida Lamrabet | Vlaamse / Afrikaanse dialoogprogram 2019 |
Ronelda S Kamfer | PEN Afrikaans – skrywersverblyfprogram 2019 |
Ryan Pedro | PEN Afrikaans – skrywersverblyfprogram 2019 |
Shana Fife | Deelnemer: Mentorskapsprogram vir opkomende skrywers 2019 |
Sharon Mogoaneng | Deelnemer: Mentorskapsprogram vir opkomende skrywers 2019 |
Tasneem Daniels | Deelnemer: Jong Sterre-mentorskapsprogram vir jong dramaturge 2019 |
2020 | |
Andre Trantraal | PEN Afrikaans – skrywersverblyfprogram 2020 |
Andrico Goosen | Deelnemer: Jong Sterre-mentorskapsprogram vir jong dramaturge 2020 |
Audrey Jantjies | Deelnemer: Mentorskapsprogram vir opkomende skrywers 2020 |
Breyten Treurnicht | Deelnemer: Mentorskapsprogram vir liriekskrywers 2020 |
Brumelda Bell | Deelnemer: Mentorskapsprogram vir liriekskrywers 2020 |
Carlo Daniels | Deelnemer: Jong Sterre-mentorskapsprogram vir jong dramaturge 2020 |
Deidre Jantjies | Deelnemer: Mentorskapsprogram vir opkomende skrywers 2020 |
Faiben Rainers | Deelnemer: Jong Sterre-mentorskapsprogram vir jong dramaturge 2020 |
Gabriel Plaatjies | Deelnemer: Mentorskapsprogram vir liriekskrywers 2020 |
Gerhard Visagie | Deelnemer: Jong Sterre-mentorskapsprogram vir jong dramaturge 2020 |
Helena Troskie | Kommadagga Kortverhaalprojek 2020 |
Jeremeo le Cordeur | PEN Afrikaans – skrywersverblyfprogram 2020 |
Khadija Tracy Heeger | PEN Afrikaans – skrywersverblyfprogram 2020 |
Lebohang Mbalenhle Mazibuko | Deelnemer: Mentorskapsprogram vir opkomende skrywers 2020 |
Margo Kotze | Deelnemer: Jong Sterre-mentorskapsprogram vir jong dramaturge 2020 |
Miriam Telanie | Deelnemer: Mentorskapsprogram vir opkomende skrywers 2020 |
Misha Krynauw | Deelnemer: Jong Sterre-mentorskapsprogram vir jong dramaturge 2020 |
Naaim Briesies | Deelnemer: Mentorskapsprogram vir liriekskrywers 2020 |
Nico Klopper | Deelnemer: Mentorskapsprogram vir liriekskrywers 2020 |
Olivia M Coetzee | PEN Afrikaans – skrywersverblyfprogram 2020 |
Regardt Visser | Kommadagga Kortverhaalprojek 2020 |
Sandile Ntuli | Kommadagga Kortverhaalprojek 2020 |
Stephanie Cupido | Kommadagga Kortverhaalprojek 2020 |
Theolla Langenhoven | Kommadagga Kortverhaalprojek 2020 |
Veronique Jephta | PEN Afrikaans – skrywersverblyfprogram 2020 |
Xolisa Ngubelanga | Deelnemer: Jong Sterre-mentorskapsprogram vir jong dramaturge 2020 |
Zama Lehlogonolo Moyo | Deelnemer: Mentorskapsprogram vir opkomende skrywers 2020 |
Zubyar Charles | Kommadagga Kortverhaalprojek 2020 |