Buiten die Jakes Gerwel Stigting se verblyfsprogramme vir skrywers op Somerset-Oos, onderneem ons ook jaarliks die volgende projekte aan:
- Bloukrans-boekeprojek
- Jakes Gerwel-herdenking
- Jakes Gerwel-gespreksreeks
- Praat jy!-werksessie vir taalonderwysers
Bloukrans-boekeprojek
As jy nie behoorlik kan lees nie, kan jy nie leer nie. Sonder voldoende skoolopleiding het baie kinders in ons land steeds nie gelyke kanse nie. In lyn met een van ons doelwitte, naamlik om die groeiende kloof van ongelykheid te oorbrug, onderneem die Jakes Gerwel Stigting jaarliks ’n projek waarin boeke en rugsakke na kinders in van die armste gemeenskappe in die Oos-Kaap geneem word.
Ons bereik meer as 3 000 leerders in die grondslagfase van bykans 20 skole in die Blue Crane-munisipale area (insluitende Somerset-Oos, Pearston en Kommadagga). Ons vennoot, Book Dash, bring elke jaar illustreerders, skrywers en ontwerpers bymekaar en die resultaat van die spanpoging is nuwe boeke. Hierdie boeke vertel stories uit eie bodem en is beskikbaar in Afrikaans, Engels en isiXhosa.
Omdat baie van die teikenleerders van hierdie projek nie boeksakke nie besit nie, skenk ons aan elkeen ’n boeksak. Hierdie sakke word gemaak deur vroue wat voorheen werkloos was en wat nou deel is van die Bags4Good-projek in Elsiesrivier op die Kaapse Vlakte.
In samewerking met die Suidoosterfees, een van ons gewaardeerde vennote, skep ons jaarliks ’n poppekasproduksie wat saam toer na die skole toe.
Jakes Gerwel-herdenking
Met hierdie geleentheid vier ons Jakes Gerwel se ryke nalatenskap en sy aanmoediging van innoverende denke en openhartige gesprekdeelname. Ons nooi jaarliks hoëprofielsprekers en -skrywers uit om die Jakes Gerwel-lesing te lewer. Die 2023-geleentheid het op 23 November by Youngblood Africa plaasgevind en dr Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers was die spreker.
’n Video-opname van dr Sooliman se lesing is hier beskikbaar.
Jakes Gerwel-gespreksreeks
Jakes Gerwel het ’n instrumentele rol gespeel in die totstandkoming van die Suidoosterfees. Dit is om hierdie rede dat die Stigting ’n trotse vennoot is van hierdie fees wat in alle opsigte soomloosheid in die Suid-Afrikaanse gemeenskap nastreef. Die Jakes Gerwel Stigting bied jaarliks tydens die fees ’n reeks boekgesprekke aan wat ten doel het om skrywers en hul lesers nader aan mekaar te bring en om by te dra tot die Suid-Afrikaanse diskoers.
Praat jy!-werksessie vir taalonderwysers
Die Jakes Gerwel Stigting, in opdrag aan die narratiewe terapeut, Thérèse Hulme, het oor die jare heen belê in die kreatiewe ontwikkeling van leerders van Grassy Park Sêkondere skool waar Jakes Gerwel eens ’n onderwyser was. Met hierdie projek, genaamd Yoh!, kon ons met groot vreugde waarneem hoe jongmense deur verskillende vorme van die digkuns hulle stemme vind. In 2022 publiseer Thérèse Hulme die boek, Praat jy! Idees vir die skep van ’n kreatiewe skryfkultuur in die klaskamer, wat gegrond is op haar narratiewe leersessies by skole oor die jare. Van die Yoh!-digters van Grassy Park se gedigte is ook hierin opgeneem, as illustrasie van hoe kreatiwiteit in die klaskamer ontwikkel behoort te word. In 2023 belê die Stigting in die stimulering van skryf en lees in die klaskamer, deur taalonderwysers in die Metropool-gebied in Kaapstad te ondersteun deur praktiese werkswinkels.