Vanjaar is daar ’n splinternuwe poësieprys op straat. En dis vir jou. Om jou stem dik te maak in jou ma se Afrikaans, jóú Afrikaans, jóú dialek en streekstaal. Die taal waarmee jy grootgeword het met sy djy en djou, die klik van die Nama en Khoi, die sabela, die opperste en die nuutgeskepte.
Die Diana Ferrus-prys word toegeken vir die beste poësiebydrae in jou ma se Afrikaans, jou Afrikaans, jou dialek en streekstaal en beoog om verskillende streekstale, oder andere, Nama-Afrikaans, Khoi-Afrikaans, Kaaps en ander dialekte te bevorder.
Die Diana Ferrus-prys, bied drie kontantpryse aan in elke kategorie en vir elke streektaal:
• Hoofprys: R 2000, werk gepubliseer in ’n bloemlesing, ’n toekenning en ’n publikasiekontrak.
• Eerste naaswenner ontvang R 1000, werk gepubliseer in ’n bloemlesing, en ’n toekenningsertifikaat.
• Tweede naaswenner ontvang R500, werk gepubliseer in ’n bloemlesing, en ’n toekenningsertifikaat.
Burgers en permanente inwoners van Suid-Afrika en Namibië, en self burgers van beide lande wat tans oorsee woon, kom in aanmerking vir deelname. Voorheen gepubliseerde outeurs mag tekste inskryf op voorwaarde dat die tekste oorspronklike werke is. Daar mag slegs een outeur per inskrywing wees. Enige werke wat voorheen gepubliseer is, waarvoor GEEN vergoeding ontvang is nie, kom in aanmerking vir deelname.
Gedigte moet ’n maksimum van 24 versreëls bevat; in vers of prosa. Woordtelling sluit alle woorde in die werk in, insluitend maar nie beperk nie tot titels, voetnote, inleidings, ens. Voorleggings oor of onder die gespesifiseerde woordtelling sal gediskwalifiseer word. Deelnemers mag slegs drie (3) gedigte indien. ’n Deelnemer kan slegs een prys wen.
Fooie: Die Kompetisie is volledig gratis.
Sperdatum: 5 Januarie 2025
Die beoordelaars vanjaar is Churchil Naudé, Hakkiesdraad Hartman, Ryan Pedro en Shirmoney Rhode.
Vir die inskrywingsvorm en meer inligting besoek: https://tinyurl.com/Diana-Ferrus-prys